Foto’s: Tete en Gerda trots op rekordseges

Tete Dijana na sy oorwinning. (Foto: RAJESH JANTILAL/AFP)

Tete Dijana en Gerda Steyn het die Suid-Afrikaanse vlag trots laat wapper toe hulle Sondag die mans- en vroue-wedlope by die Comrades-marathon in KwaZulu-Natal gewen het.

Dijana, die verdedigende kampioen, het die 87,7 km-afwedloop in 5:13:58 afgelê en sodoende sy mede-Suid-Afrikaner David Gatebe se rekord van 5:18:19 verbeter.

Steyn het die wenstreep by Kingsmead-krieketstadion in 5:44:54 oorgesteek en Frith van der Merwe se rekord van 34 jaar gelede met sowat 10 minute verpletter. Die roete was egter net oor die 2 km korter as destyds.

Gerda Steyn na haar oorwinning. (Foto: RAJESH JANTILAL/AFP)

Dijana en Steyn het elkeen met R1,2 miljoen weggestap – R500 000 elk vir hul eerste plekke, R500 000 vir die nuwe rekords en R200 000 elk as die eerste Suid-Afrikaanse man en vrou oor die wenstreep.

Piet Wiersma (5:14:01) van Nederland en die Suid-Afrikaner Edward Mothibi (5:17:34) het tweede en derde in die mansbyeenkoms geëindig. Die Rus Aleksei Beresnev (5:24:41) was agtste en die enigste ander nie-Suid-Afrikaner onder die top 10.

Tete Dijana het net enkele sekondes voor Nederland se Piet Wiersma die westreep oorgesteek. (Foto: RAJESH JANTILAL/AFP)

“Die pas by die wegspring het my nie gepas nie – dit was te vinnig, te gou. Ek het tot halfpad deur die wedren gewag voordat ek my skuif na vorentoe gemaak het,” het Dijana aan AFP gesê. “Om meer as een miljoen rand te wen sal baie handig te pas kom – die meeste daarvan sal vir die opvoeding van my kinders gaan.”

Steyn is gevolg deur landgenote Adele Broodwyk (5:56:26) en Carla Milinaro (6:00:23) in die vrouewedloop.

”Die energie van die skare was fantasties. Ek moes diep delf om daardie rekord te kry,” het Steyn gesê.

Gerda Steyn na haar oorwinning. (Foto: RAJESH JANTILAL/AFP)

Tradisioneel wissel die marathon tussen opwedlope en afwedlope, maar dit was die tweede jaar agtereenvolgens dat dit in Pietermaritzburg begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bennie ·

Dit wil ek ook weet…glo my ek het dit al 7 keer gehardloop en daai laaste 2km is die ergste en moeilikdte deel van die hele comrades homself..

Frank ·

Ja, dis moeilik om appels met appels te vergelyk as die afstand nie meer dieselfde is as in die verlede nie. Ek glo NA 87km maak ‘n ekstra 2km ‘n reuse verskil

Chantel ·

Baie maklik, eintlik. As dit dan REGTIG wil uitgewerk word, gaan vat haar gemiddel tyd wat sy gehardloop het per km en dan kry ‘n “average” werk dit terug na 2km en kyk DAN!!!!!

Elmarie ·

Baie trots op ons Suid Afrikaners wat gewen het! Ek sal nie eers een km kan hardloop nie en ek bewonder elke liewe mens wat die Comrades gehardloop het!

Surfer ·

Baie geluk julle, yster, respek!! Ek was net so moeg voor die laaste 2km voor loadshedding om 4uur ingetree het en ek gelukkig my TV beeld verloor het, ek sou gesukkel het. LoL.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.