Gardee-familie sleep polisie hof toe

Hillary Gardee se liggaam is vroeër vanjaar buite Nelspruit aangetref. (Foto: Facebook)

Die familie van die vermoorde Hillary Gardee het ʼn hofaansoek gebring om die polisie te “dwing om sy werk te doen om diegene wat verantwoordelik is vir die ontvoering, roof en moord op Gardee, tot verantwoording te roep”.

Gardee se familie wil boonop hê dat die polisie deur die hof gedwing word om die dossier aan die Valke te oorhandig sodat dié eenheid met die ondersoek kan voortgaan.

“Nou dat die staatsaanklaer aangekondig het dat daar ʼn bykomende aanklag van sameswering tot moord [by die beskuldigdes se klagstaat gevoeg word] dra die saak al die kenmerke van ʼn georganiseerde misdaad waarvoor die ondersoeke by die bevoegdheid van die Valke lê,” lui die familie se verklaring.

Die familie het Dinsdag die hofdokumente op ʼn dringende basis by die Pretoriase hooggeregshof ingedien.

Sipho Mkhatshwa, Philemon Lukhele en Mduduzi Nkala is kort ná Gardee se dood in hegtenis geneem en staan nou tereg op aanklagte van moord, sameswering tot moord, ontvoering, verkragting, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg. Hulle het reeds aansoek om borgtog laat vaar.

Lukhele ken glo die Gardee-familie persoonlik en was na bewering ʼn amptenaar in Fidel Mlombo, die ANC se hoofsweep in Mpumalanga, se kantoor.

Die 28-jarige Gardee se liggaam is op 3 Mei buite Nelspruit aangetref. Sy is die dogter van Godrich Gardee, prokureur en voormalige sekretaris-generaal van die EFF.

Volgens Gardee se familie kom die hofaansoek nadat hulle glo by verskeie geleenthede probeer het om die polisie in sy ondersoek by te staan, maar weggewys is.

Die familie, wat deur adv. Gillian Benson van MM Mashele Attorneys verteenwoordig word, voer aan dat die polisie hulle “in die donker hou” oor die verloop van die ondersoek.

“Die rekord van vertragings en onbevoegdheid wat deur die speurders aan die dag gelê is, ook die feit dat die misdaadintelligensie-eenheid uit die ondersoek geboender is en die familie in die donker gehou word, is verraad om die minste te sê.

“Enige verdere vertragings in die ondersoek loop die risiko dat bewyse vernietig kan word en kom op regsverydeling neer.”

Die familie se regspan beplan om aansoek te doen dat die verhoor in camera plaasvind as gevolg van die sensitiewe bewyse wat glo reeds in die media na verwys is. Die media sal dus nie by dié verhoor toegelaat word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Theo ·

Ek verstaan nie mooi nie, die EFF is dan teen goeie polisie…

Helgard ·

Moet eerste van Bheki Cele ontslae raak in sy pos en hoop jul kom reg en dagvaar polisie vir miljoene

Perdeby ·

Hoekom dagvaar vir miljoen, die Polisie het reeds die skuldiges vas getrek en reeds in die hof verskyn. Die een wat in die ANC kantoor werk is ook reeds uit die ANC geskop.

Kobus ·

Wonder wat die motief sou wees? Kwaad vir die pa dan vermoor ons maar die kind. Drie lummels teen een weerlose vrou. Dan staan en tjank Cele en ons regering rep geen woord nie

Swerwer ·

Dis is net reg dat die familie voel hoe die res van die landsburgers voel wat geliefdes aan die dood moes afstaan deur kommuniste.

Swerwer ·

Weet, ek self het ‘n kind verloor. Dalk is dit hoekom ek voel soos ek voel.

Swerwer ·

Ja, die pos wat hy beklee het dink hul hul is verhewe bo ander.

domheks ·

cele en kie – kan nie die pyp rook nie! Trane gestort by die mense – en nou? Die voorgee het niks gehelp nie!

SjN ·

So gaan dit by alle staatsdepartemente, voel hoe dit voel as jul eie mense dit aan julle doen.

Twallie ·

Imagine…Jy moet die polisie dagvaar om hulle werk te doen.

Elize ·

Die polisie hou niemand in die donker nie . Hulle is donker wat daar is nooit ligte aan nie. Hulle weet nie wat hulle doen nie

Misky ·

Ek het gedink hulle gaan die polisie bedank, want diè familie het reeds spesiale behandeling ontvang. Cele is self na die toneel met al die media, 72 uur taakspan is aangestel en drie verdagtes reeds in aanhouding sonder borg. In my oë is dit spesiale behandeling en 10 keer meer as wat meeste SA’ners ontvang.

Wondermaarnet ·

Nou voel hulle hoe ons boere se families voel as daar niks aan gedoen word nie of die ondersoek sloer en loop dood.

TO ·

What’s new. My kind se docet is tussen neus en ore weg. Maar sê he die polisie seker al in 2012 vir my gesê ek kyk te veel TV. Vir 14 JAAR LEK, SMEEK EN DREIG EK AL, sonder enige ge resultate.

Vexed ·

Sjoe, lekker luuks as jy jou gewig so kan rond gooi, dit nadat hulle spesiale aandag gekry het waarvan die meeste Suid-Afrikaners maar net kan droom. Jammer dat ek nie juis simpatie het nie maar ek glo hulle sal verstaan.

JohanR ·

Hulle moes haar 25 lyfwagte gegee het, en ‘n trop blou lug voertuie op belastingbetalers se onkoste!

Koos 100 ·

Daar is arrestasies en die saak is op die hofrol. Wat wil hulle nog hê? Daar is geen wet of reël in SA dat die familie van enige slagoffer op hoogte gehou moet word nie. Hierdie lyk vir my na ‘n manier dat die saak in die media gehou moet word. Moontlik vir politieke gewin later?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.