‘Geen toegang’: LUR steek glo stokkie voor oorsigbesoek aan Tembisa-hospitaal

DA-parlementslede is Woensdag toegang tot die Tembisa-hospitaal geweier toe hulle vir ʼn verrassingsoorsigbesoek daar opgedaag het. (Foto: Verskaf)

Drie DA-parlementslede is Woensdag toegang tot die Tembisa-hospitaal in die Oos-Rand geweier toe hulle vir ʼn verrassingsoorsigbesoek daar opgedaag het.

Die party wou ondersoek instel ná klagtes dat pasiënte onder meer in tente en op die vloer van die hospitaal moet slaap.

Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, sê die opdrag om die parlementslede toegang tot die hospitaal te weier, is glo deur Nomanthu Nkomo Ralehoko, LUR vir gesondheid in dié provinsie, gegee.

Die party meen hierdie optrede is nie net onwettig en ʼn skreiende menseregteskending nie, maar ook ʼn duidelike aanduiding dat die departement iets het om weg te steek.

“Die Tembisa-hospitaal het sinoniem geword met onreëlmatighede en is gekenmerk deur bedrieglike transaksies wat die hospitaal al R1 miljard gekos het,” sê Msimanga.

DA-parlementslede is Woensdag toegang tot die Tembisa-hospitaal geweier toe hulle vir ʼn verrassingsoorsigbesoek daar opgedaag het. (Foto: Verskaf)

“Dit sluit in die verkryging van plastiekemmers teen ʼn buitensporige bedrag van R10 000 elk. Die korrupsieplaag wat die hospitaal lamlê, is ook nie slagofferloos nie: Dit het ʼn regstreekse uitwerking op pasiënte wat die las van ʼn gebrekkige gesondheidstelsel moet dra – en hulle betaal dikwels met hul lewe hiervoor.”

Die DA sê die erns van die korrupsie word verder uitgelig deur die tragiese lot van fluitjieblasers soos Babita Deokaran, wat die hoogste prys betaal het. Deokaran is in Augustus 2021 buite haar huis in Winchester Hills, in die suide van Johannesburg, doodgeskiet.

Maroela Media het vroeër berig dat Deokaran wyd geloof is vir die rol wat sy gespeel het om korrupsie bloot te lê. Sy was een van die meer as 320 getuies in die ondersoek na bedrog met onder meer persoonlike beskermende toerusting (PPE) in die private en openbare sektor.

Msimanga sê Ralehoko moet aanspreeklik gehou word vir die onwettige weiering van die DA se oorsigbesoek om plaas te vind.

“Die blatante minagting van die gereg deur ANC-LUR’e dra by tot die algehele verval van die Gautengse gesondheidsorgstelsel.

“Terwyl maatskappye met ANC-bande toegelaat word om te plunder, moet inwoners die spit van hierdie krisis afbyt.”

Die party beplan om stappe teen Ralehoko te doen, hoewel besonderhede hieroor nog nie bekend gemaak is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Henri ·

En dan stoomroller die cANCer die Nasionale Gesondheisversekering deur die parlement. Moenie meer siek word nie. Ek dink aandele in begrafnisondernemings gaan die lug in opskiet. Dit is nou as kamerade en kadawers nie al reeds al die begrafnisondernemings besit nie…

JohanR ·

En dit gaan nOg slegter word. Dink nie dit kan gebeur met Eugene Marais, Kingsbury, Vincent Palotti ens. Wag maar vir die ANC se NVG. Hoekom het die DA nie in gegaan as ‘n pasient en met ‘n versteekte kamera. As jy nie iets het om weg te steek hoekom weier die DA?

Wielspore ·

Het gister-aand gekyk na Laataand by Rian waar hy met Adv Glynnis Breytenbach gegesels het. Uit die gesprek is dit duidelik dat daar nog heelwat koppe gaan rol waar lede van die ANC betrokke is by bedrog. Met die verkiesing op hande waar die ANC sy meerderheid gaan verloor gee dit die oposisie partye meer mag om die skuldiges verantwoordelik te hou vir hulle optrede. Ons weet meer as wat hulle dink.

Ore ·

Hoekom hulle besoek aankondig? Stap in met versteekte kameras en stuur die video’s die wêreld in.

Marous ·

Stuur die inligting oorsee . Ook na die WHO sodat hulle kan sien waar die geld heen gaan . Siek en sat vir die spul wat letterlik met moord wegkom.

CHRISTINE ·

Ek glo amper nie wat ek lees nie.
Kan die ANC erger word en wat gaan NOG uitkom..

Manie ·

Die LUR en hospitaal het baie om weg te steek. Ek het nog nie van 1 persoon gelees wat by die hospitaal se bedrieglike transaksies betrokke was wat gearresteer is nie. Die skuldiges is seker persone van aansien.

Leon ·

Gaan seker geskors word vir 5jaar met vol pay plus bonusse, goue handdruk van R10 miljoen en ń standbeeld!

Anja ·

Ons werkers moes al soontoe gaan vir behandeling en hulle weier om Tembisa hospitaal toe gaan want hulle se as jy soontoe gaan kom jy nie lewendig terug nie.

Andre ·

…vir die A en C kaders, is die hele land tans ‘n trog om by te vreet

Casper ·

Kyk maar na die skandaal met die tender om voedsel te voor sien aan Gauteng hospitale en dit deur maatskappye in Limpopo wat nie eers geregistreer is vir hierdie doel nie.Wat gaan daarvan word,kol kol.

Dup ·

Ons regerende party hoort ook in die intensiewe eenheid van een of ander korrupte en vuil hospitaal….maar nee,hulle vlieg Kuba toe op staatskoste vir behandeling…..

Yvonne ·

Verseker die swakste bestuur van n hospitaal denkbaar…met my eie oë gesien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.