Howe se IT-stelsel steeds af

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

Alle begunstigdes wat maandeliks kinderonderhoud van die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling ontvang, se betalings sal tot verdere kennisgewing vertraag word. Dit volg ná ʼn kuberaanval op die departement se IT-stelsel wat dit ontoeganglik gelaat het.

MojaPay, wat deur die departement gebruik word om dié broodnodige geld aan begunstigdes oor te dra, blyk nou ook in die slag te gebly het nadat ʼn kuberaanval meer as ʼn week gelede op die departement se stelsel geloods is.

Die aanval het daartoe gelei dat alle inligtingstelsels vir interne personeel én lede van die publiek ontoeganklik is. ʼn Aantal alternatiewe stelsels is intussen ingespan, maar talle stelsels is steeds buite werking.

“Hoewel dit nog nie duidelik is wanneer die MojaPay-stelsel weer aanlyn sal wees nie, sal alle kinderonderhoudgeld wat reeds deur die betrokke ouer betaal is, bewaar word. Dié geld sal dan aan die begunstigdes oorbetaal word sodra die stelsel weer aanlyn is,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Die huidige uitdagings beïnvloed nie die ouer wat onderhoud aan die departement moet betaal, of werkgewers wat kinderonderhoud van die betrokke ouer se salaris aftrek nie. Dié maandelikse aftrekkings sal steeds volgens skedule voortgaan.

Volgens die departement werk IT-kundiges, bedryfsvennote en bepaalde staatsorgane saam om die stelsels wat deur die aanval beïnvloed is, insluitend MojaPay, dringend te herstel.

“Die MojaPay-stelsel geniet op hierdie stadium die hoogste prioriteit om sodoende die impak op begunstigdes te beperk.”

IT-kundiges kon intussen daarin slaag om ʼn alternatiewe e-posstelsel op te stel wat reeds deur interne personeel gebruik word.

Die departement se webwerf is ook herstel sodat die nodige besonderhede rakende die departement se kerndienste aan die publiek gekommunikeer kan word.

Die meester van die hooggeregshof gebruik intussen ʼn handmatige proses om bedroefde gesinne by te staan wat geld uit ʼn oorledene se bankrekening benodig vir ʼn begrafnis.

Geen handgeskrewe eksekuteursbrief of magtigingsbriewe word egter in dié tyd uitgereik nie.

Adv. Pansy Tlakula, voorsitter van Suid-Afrika se inligtingsreguleerder, het Maandag haar kommer oor die kuberaanval uitgespreek, aangesien dit ook die reguleerder se stelsels belemmer het.

“As reguleerder is ons bekommerd oor die groot aantal kuberaanvalle in Suid-Afrika die afgelope tyd. In Augustus was 38 instansies die slagoffers van dié soort aanvalle,” het sy gesê.

“Dit is belangrik dat mense se persoonlik inligting steeds ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) bewaar word.”

Tlakula het die departement versoek om die impak wat die kuberaanval op die inligtingstelsels van die departement en sy belanghebbendes gehad het, bekend te maak.

Dit lyk egter nie in dié stadium of enige data tydens die aanval in die slag gebly het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Want daar is so baie IT-kundiges in ons departemente, nou betaal hulle weer `n klomp geld aan iemand anders om dit te kom reg maak.

Pieter ·

Gaan orals in afrika is maar moeilik as jy net graad een het maar jy wil die land best.

Pieter ·

Het die kuberaanval iets te doen met Zuma se mediese parool?

marius ·

Die ligte is gelukkig nog aan , maar daar is niemand daar nie . Vir jare al .

Porseleintjie ·

Dit word nou weke. Duidelik spreek dit van onbevoegdheid aan die staat se kant. Alles is reeds ten gronde in die land onder die anc se bewind. Glo nie daar is nog iets oor wat moet geplunder, gebrand of weens korrupsie moet vou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.