Hulp gevra met soektog na Klarissa  

Klarissa Joubert.

Die soektog na die 19-jarige Klarissa Joubert wat Donderdagmiddag in die Oranjerivier verdwyn het, duur onverpoos voort.

Joubert, ʼn sielkundestudent, en haar ouers het ʼn paar maande gelede na Orania in die Noord-Kaap verhuis. Sy het saam met vriende op binnebande op die rivier afgedryf toe sy van die band afgeval en deur die stroom meegesleur is.

Die res van die groep het verbete probeer om by haar uit te kom, maar het haar later uit die oog verloor. Hulle het so gou moontlik daarna hulp ontbied en ʼn grootskaalse soektog is onmiddellik deur die Orania-veiligheidsdienste van stapel gestuur.

Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, sê die soektog word elke oggend douvoordag voortgesit. “Ons het gistermiddag weer ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om te help en net gisteraand het 120 vrywilligers regdeur die nag verskillende punte dopgehou.”

Drie helikopters is beskikbaar gestel om met die soektog te help. Boere en inwoners van die omgewing het ook hul bote en jetski’s beskikbaar gemaak en hommeltuie word ook gebruik om die rivier se oewers te fynkam. Daar is ook roeiers met kajakke wat help soek.

Volgens Strydom is daar intussen ʼn hulpfonds gestig om geld in te samel om brandstof vir die helikopters en bote te koop. “Dit kos sowat R25 000 om ʼn helikopter vir ʼn uur in die lug te hou.” Die polisie se soek-en-reddingspan is ook by die soektog betrokke.

Foto: Verskaf

“Hordes lede van die gemeenskap dra intussen kos en koffie vir die moeë soekspanne aan. Almal in die gemeenskap werk saam.”

Strydom het gesê Klarissa se ouers het hom gevra om hul dank oor te dra aan almal wat met die soektog help en hul ondersteun.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om haar te kry,” het Strydom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mariaan ·

So hartseer storie die! My hart gaan uit na hierdie pragtige meisie se ouers…dit moet verskriklik wees om deur so iets te gaan…

Casper ·

As dit die vlak van die Oranjerivier huidiglik is gaan dit ‘n baie moeilik soektog wees.Die rivier is breed en ek glo seker diep ook en vuil.Ek hou aan glo dat sy iewers uitgespoel het maar dit is al 2 dae later.Wat is die kanse dat sy die stroomversellings sou oorleef en kon uitswem oewer toe.Sy sou seker ook al moeg gewees het

Sonia ·

Baie hartseer! Ons bid saam dat sy ongedeerd gevind sal word en vir sterkte vir die ouers en almal wat help.

Piet ·

Hartseer soos dit is, dink ek dat na 3 dae se vrugtelose gesoek die helikopters maar gelos moet word. Gaan maar voort met die soektog met die vaartuie op die water. Is polisieduikers al ingespan? Met ‘n sterk stroom kan die liggaam (as sy verdrink het wat ongelukkig blyk te wees) kilometers ver wees voor dit uitspoel of na die oppervlak beweeg (wat ook nie ‘n gegewe is nie).

Ronel ·

Hierdie is vir my bitterlik hartseer. Ek kan myself nie indink hoe haar ouers, familie en vriende moet voel nie. En baie sterkte aan almal wat help, wat soveel van hulself gee om daardie meisie te vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.