Is Eskom se diesel, geld kapot?

Argieffoto (Foto: AFP)

Suid-Afrikaners gaan steeds gebuk onder daaglikse beurtkrag – die afgelope week selfs weer op fase 6 – maar volgens Eskom is geen oopsiklus-gasturbines die afgelope 24 uur gebruik nie. Dit kan net een ding beteken, sê die DA: Óf Eskom se diesel is op, óf sy geld is klaar – óf albei.

Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, verduidelik dat oopsiklus-gasturbines nie veronderstel is om soos gewone kragstasies bedryf te word nie, maar om aanvullende krag tydens spitstye te voorsien.

Waarom word die gasturbines dan nie ingespan nie?

Cachalia sê indien Eskom se dieselvlakke te laag is om die gasturbines te bedryf, is die kans goed dat Suid-Afrika ʼn tydperk van semi-permanente fase 6-beurtkrag sal binnegaan. Hy meen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, behoort dringend ʼn statusbywerking te verskaf, asook die stappe wat gedoen word om die situasie te beredder.

Om sake te vererger sal die tesourie beslis nie in ʼn posisie wees om noodfinansiering te verskaf nie, sou dit blyk dat Eskom inderdaad nie geld het om nog diesel te koop nie.

“Hierdie verskriklike situasie het moontlik geword ondanks herhaalde valse versekering van ANC-ministers en Eskom dat die nutsmaatskappy genoeg kontant het om die dieselbehoefte te dek tot die einde van die boekjaar in Maart 2024,” sê Cachalia.

Die opposisieparty glo ʼn gedeelte van die uitdagings waarvoor die land tans te staan kom, sou vermy kon word indien daar nie in die afgelope paar maande ingemeng is met beplande instandhoudingswerk nie.

“Beplande instandhouding gedurende die wintermaande was vergeleke met die vorige twee jaar ongewoon laer as die gewone gemiddelde wat dikwels gedurende die winter gesien word. Dit is hierdie lae onderhoudskedule wat gelei het tot ʼn tydelike uitstel in beurtkrag en valse bewerings deur ANC-ministers dat daar klaargespeel word met beurtkrag.

“Nou sit die land met die gevolge van onbehoorlike politieke inmenging met beplande instandhouding by Eskom.”

Cachalia sê die ondeurdagte plan om instandhouding van Eskom se opwekkingsaanlegte uit te stel en ʼn illusie te skep dat opwekking aan die herstel is, het die land tot op die randjie gedruk – met rampspoedige ekonomiese gevolge.

“Met 45% van Eskom se opwekkingskapasiteit nie aanlyn nie, is daar geen waarborg dat die oorblywende funksionele eenhede baie langer sal kan aanhou werk voordat hulle ook breek nie. Teen hierdie tempo is dit baie moontlik dat beurtkrag vandag of oor die naweek verby fase 7 kan gaan,” voorspel Cachalia.

Maroela Media het vroeër berig die kabinet is egter vandeesweek die versekering gegee dat die huidige hoër fases van beurtkrag nie lank sal duur nie.

Eskom het ook kort gelede bekend gemaak dat beurtkrag tussen fase 2 en fase 4 sal wissel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pietertjie ·

Die geld behoort op te raak, omdat daar hope meer gebruikers as betalers is. Daar is selfs vragte betalers wie se geld nooit by Eskom uitkom nie. Dan praat ons nie eens van die geld wat binne Eskom “wegraak” nie. Hulle moes lankal bankrot gewees het.

annie ·

Alles word nou ingespan om die nasie daartoe te kry om te val vir die Turkse kragskepe of wat ookal Mantashe se klipharde hart gelukkig sal maak. Hy wil alleen besluit en regeer. Die Kommuniste Party wil nie op sy eie aan verkiesings deelneem nie, maar die land en sy geld beheer. Dis ‘n gruwel wat ons ten gronde gaan rig.

Elizabeth ·

Gekke en dwase. Net geld vir die Eskom ‘base’. Geen genade en nog minder planne. Hul kyk net na hulself en vergeet van die res.

Swerwer ·

Ag siestog, hoe lank wil hul die wêreld nog bollies voer. Nie die land nie, die hele wêreld.

tweeling ·

Die land se geld is op, wat nog te sê van eskom. Die land het R4.7 tril se skuld. Wat sê dit. Klink dit nie bekend toe die cANCer in 1994 oorgevat het toe kla hulle oor die magdom skuld wat die land het wat hulke sê agv apartheid is, wat gaan ‘n “nuwe” regering volgende jaar sê na die verkiesing.

Papsak ·

Leuns leuns alles is al lankal klaar eskom mense moet dit maar net erken maar nee ons lieg liewers voort vir publiek en sy mense

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.