Korrupsiesaak teen Dudu Myeni uitgestel

Dudu Myeni en Trevor Mathenjwa Vrydag saam in die beskuldigdebank. (Foto: Verskaf)

Die korrupsiesaak teen Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), en Trevor Mathenjwa, voormalige direkteur van Sondolo IT, is tot volgende jaar uitgestel.

Die landdroshof in Richardsbaai het vandag (Vrydag) die saak tot 9 Februarie uitgestel.

Myeni en Mathenjwa staan tereg op aanklag van korrupsie en bedrog.

Sindisiwe Twala, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die aanklagte teen Myeni en Mathenjwa hou verband met die beweerde bedrog van R300 000 by Bosasa.

Myeni het na bewering geld van Sondolo IT, ʼn filiaal van Bosasa, deur Mathenjwa ontvang.

Sy word daarvan beskuldig dat sy tussen Mei 2014 en Maart 2015 die geld gebruik het om sekuriteitsopgraderings van R200 000 aan haar eiendom in Richardsbaai te doen.

Sy word ook daarvan beskuldig dat sy en mense na aan haar, danksy Bosasa, by meer as R107 000 se hotelverblyf en reiskoste gebaat het. Die reise is glo deur Blake Travels gefasiliteer.

Myeni is al by verskeie geleenthede daarvan beskuldig dat sy gehelp het om SAL op sy knieë te dwing. Die Zondo-kommissie na staatskaping het ook aanbeveel dat sy strafregtelik vervolg word.

Sy en Mathenjwa is in September in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.