Krugerwildtuin bly oop te midde van vrese oor ‘Freddy’

Paul Kruger-hek (Foto: Kruger Nasionale Park)

Die Krugerwildtuin sê hy sal hierdie naweek sy deure oophou ondanks vrese dat die tropiese sikloon Freddy ʼn uitwerking op die noordoostelike dele van die land sal hê.

SANParke hou intussen die rigting waarin die sikloon beweeg noukeurig dop om besoekers vroegtydig uit die kampe te verwyder, sou dit nodig wees.

Oscar Mthimkhulu, uitvoerende bestuurder van die Krugerwildtuin, sê al die kampe in die wildtuin is oop, behalwe vir die Biyamiti-boskamp.

“Diegene wat die Nyalaland Trails-kamp, asook ​​Sirheni-, Shimuwini- en Bateleur-boskampe besoek, word egter ingelig oor die komende storm en dat hulle moontlik die gebied moet verlaat, sou die sikloon verder vorder,” sê hy.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se jongste voorspelling wys dat die tropiese sikloon Mosambiek Vrydagoggend getref het.

Teen Saterdag en Sondag sal die uitwerking daarvan na verwagting in die laeveld van Mpumalanga, die Vhembe- en Mopani-distrik in Limpopo, asook die Capricorn-distrik en die Zoeloeland-streek in KwaZulu-Natal gevoel word.

In hierdie stadium sal die verre noorde van die wildtuin veral deur die sikloon geraak word.

Die verwagte reënbuie kom meer as ʼn week nadat die suidelike dele van die wildtuin deur ʼn stortbui oorstroom het. Die reën in dié gebied het intussen opgeklaar en talle ruskampe is reeds oopgestel.

Volgens Mthimkhulu het die wildtuin se personeel die tyd benut deur puin van verskeie oorspoelde brûe te verwyder.

Die brug by die Onder-Sabie-ruskamp is nou oop en gaste wat na of van Tshokwane en Satara reis, kan veilig daar deurgaan. Die laagwaterbrug oor die Sabierivier in Skukuza is ook oopgestel vir diegene wat vanaf die Skukuza-lughawe reis.

Die Sandrivier se laagwaterbrug is egter nog nie oopgestel nie, maar word noukeurig gemonitor.

“Grondpaaie in die suide bly ook nog gesluit,” sê Mthimkhulu.

“Hopelik sal die weer in hierdie gebied gunstig wees sodat die padinstandhoudingspanne oor die volgende paar dae aandag aan die paaie kan gee.”

SANParke het onderneem om enige veranderinge in die stand van sake so gou moontlik aan al sy belangegroepe te kommunikeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

philippus ·

Ek sit tans by my vakansie huis in vilanculos. Freddy was toe noe so erg nie… eintlik maar n tropiese storm. Hoeveel reen hy gaan gooi en waar. Wel die weet ons nog nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.