Leeus krepeer op Vrystaatplaas

Argieffoto van ‘n leeu in aanhouding. (Foto: Via Big Cat Conservation)

ʼn Inspeksie van ʼn leeuplaas in die Vrystaat het kommerwekkende resultate gelewer nadat inspekteurs op 13 leeukarkasse afgekom het wat in ʼn vrieskas ingeboender is. Die oorblywende leeus is in haglike omstandighede aangetref.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) en die Vrystaatse departement van ekonomiese sake, kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea) het vroeër vandeesmaand by die plaas aangeklop en op die karkasse afgekom.

“Die vrieskas was in ʼn onhigiëniese toestand met bloed en verrotte vleis op die vloer rondom dit. Die leeus se oorskot is ook saam met die oorblywende leeus se voedselvoorraad geberg,” lui die NDBV se verklaring.

Volgens inspekteurs by die NDBV het hulle redelike rede om te glo dat dié leeus nie aan natuurlike oorsake omgekom het nie.

Die NDBV het beslag gelê op sewe van die 13 karkasse en volledige nadoodse ondersoeke van stapel gestuur. Die resultate van dié ondersoek sal binnekort bekend gemaak word.

Onder die tientalle leeus op die plaas het vier leeus verskillende fisieke of ander gesondheidstoestande onder lede wat nie behandel is nie. Daar is vasgestel dat verskeie leeus ook met parasiete besmet is.

Altesaam 10 leeus het glad nie toegang tot drinkwater nie, terwyl 17 leeus slegs onhigiëniese drinkwater tot hul beskikking het.

Die leeus se skuilings het ʼn opeenhoping van vars en verkalkte ontlasting gehad, asook ontbinde voedsel en beendere. Dié skuilings is klaarblyklik selde skoongemaak.

“Weens die oorbevolkingsprobleem het van die leeus nie toegang tot ʼn voldoende skuiling wat hulle teen die weersomstandighede kan beskut nie.

“Die Afrikaleeu is een van die mees geliefde en ikoniese diersoorte ter wêreld. Die werklikheid is egter dat die meeste van dié diere in gevangenskap gehou en uitgebuit word vir kommersiële doeleindes.”

Talle oortredings ingevolge die Wet op Dierebeskerming is tydens die inspeksie opgemerk en die NDBV se ondersoek duur nog voort.

“Ons samel tans voldoende bewyse in om te verseker dat die oorblywende leeus beter behandeling geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Misky ·

Dit is mos geheel en al ontoelaatbaar!!!!! Daai mense se name moet bekend gemaak word, onmiddelik inhegtenis geneem word, die leeus ordentlik versorg en mediese behandeling ontvang. Watse bewyse nou eers insamel en asof dit hulle nou beter behandeling gaan gee. Nonsens man!!!!

Toy ·

Vat die leeus dadelik weg, en gaan vir hulle ‘n beter lewe in die Kruger wildtuin, dit is ‘n absolute skande en sonde wat aan die diere gedoen word. Dit is dieremishandeling in ‘n erge graad. Geen skoon water en geen kos. Sonde!

Misky ·

Ag asb!!!! Die punt wat almal maak is dat verantwoordelikheid geneem moet word en vinnige aksie sodat die leeus nodige aandag kan kry. As eienaar van ‘n plaas, volg jy op en kyk dat daai bestuurder sy werk doen en ordentlik. Moet asb nie die Modise voorbeeld gebruik nie, want dis ‘n skreiende skande wat daar gebeur het

Neelsie ·

Ja, “name and shame”. Hoewel ek sterk twyfel of sulke mense die betekenis van skaamte ken!!

Chef ·

Sluit die persoon op!!! Ek kan nie verstaan hoekom die mensdom sulke minagting vir lewe toon nie.

isabelle ·

daar is geen maar geen verskoning nie…indien die leeuboer nie op die plaas woon nie,moet hy/sy mos seker maak dat die regte mense aangestel is en so ook seker maak dat dinge reg verloop n ogie loer of ogies instuur onverwags waarom sulke wilde diere wil aanhou as dit nie reg kan bestuur nie?

VaalDonkie ·

En in elk geval: dit kos ‘n astronomiese klomp geld om daai leeus te voer. En jy kannie vir Tannie Leeu vertal van “family planning” nie. As sy en Oom Leeu lustig word, dan gaan daar welpies wees. En dan is die probleem groter.

Cherokee ·

Dit kos nie soveel as wat jy dit maak nie. Slaghuise is te bly om vleis waarvan gebruikersdatum verval het, daar af te laai. Boere gee graag ‘n donkie wat dood is om een of ander rede, ook aan leeuplase. En ‘n veearts is veronderstel om die vleis te toets voor die leeus dit verorber. Boere wat slag skenk ook dikwels afvalvleis.

Die DBV is ook nie onskuldig nie. Hulle is veronderstel om periodieke besoeke af te lê by sulke plekke.

Swerwer ·

Nee, dit is verskriklik. Die eienaar/s van daardie plaas moet in ‘n hok geplaas word sonder kos en water dat hy kan voel. Ek kook

skurweberg ·

Ek weet dat Maroela Media sy leserspubliek oor hierdie saak sal inlig as hulle meer inligting het; bv. die name van die eienaar/s of huurders en hoe hierdie plaas bekom is en onder watter voorwaardes hulle die plaas besit of huur. As ons genoeg inligting het sal ons verstaan of nie verstaan nie!!!.

richard ·

Dit maak nie saak waar jy bly nie dit bly jou verantwordelikheid om na die diere om te sien. As jy onbevoegde mense aanstel is dit nog jou verantwordelikheid om sien Dat hulle hul werk doen.

Irene ·

Nee sies ga man. Maak nie saak of die eienaar in Amerika of op die maan bly nie. Jy moet toesien dat daar goed na jou diere gekyk word. Daar is absoluut geen rede om n dier so erg te verwaarloos nie. En as jy finansiele redes het dan verkoop jy jou diere of jy skenk hulle vir mense wat jy wéét na hulle kan kyk. Ek is nou so kwaad. Maroela, sal julle ons lesers asb ophoogte hou met die verwikkelinge van hierdie storie?

Irene ·

Ek hoor wat jy bedoel. Dis n skande datThanxi Modise weg gekom het. Tog is dit die eienaar se verantwoordelikheid om toe te sien dat die diere goed versorg word. Ek bid dat hierdie eienaars en versorgers weg gevang en gestraf word. Mag hulle nie ook net weg kom nie.

Anoniem ·

Hierdie leeus word waarskynlik vir die oes van hulle pote, tande ens aangehou. Ek glo nie hulle word vir jagdoeleindes so mishandel nie, want geen voornemende oorsese jagter sal ‘n leeu trofee in so ‘n haglike kondisie wil skiet nie.

melW ·

Ek is so geskok! Wat se mense doen dit aan die mooiste maanhare van ons wild. Ek wil ook graag weet waar die leeus geleef het tot nou en wat se “rol” hulle moes speel vir die “eienaar”? Kyk hoe lyk die arme diere, ontbloot hierdie mense in die media, waarom moet daar nou “verdere ondersoek” gedoen word?! Ek raak nou baie warm om my kraag, dis te ontstellend om te verwerk.

melW ·

Waarom bly die leeuboere nie waar hulle hoort nie, en dis op hulle PLAAS by die leeus en nie in ander provinsies nie. So jy gee maar die sorg oor vir plaaswerkers. Hierdie is om van siek te word.

Ansie ·

Dis nou dié eienaars van leeuplase wat beweer dat hulle die voortbestaan van leeus verseker. Leeus en ander diere behoort onmiddellik verwyder te word wanneer hulle is sulke toestande aangetref word.

Nick ·

Gemors, hulle moet almal toesluit wat sulke diere aanhou, o ek haat gemors wat diere seermaak, sy familie kry ook seker nie kos nie, rubbish.

Mariana ·

Wie is die eienaar en wie is verantwoordelik vir die diere se versorging. Hulle moet nie wegkom met dit nie.

fs ·

so… wie is die eienaar van daardie plaas…komaan Maroela plaas die name! hierdie lyk mos soos iets wat ‘n tronkstraffie verdien.. of is dit dalk ‘n minister se plasie wat weer onskuldig bevind sal word van alles?

Di ·

Dit is nie ‘n verskoning nie! Waarvoor het die eienaar in die eerste plek die plek begin maar gaan bly erens anders. Hulle moet die inhok van wilde diere HEENTEMAL verbied. Dis absoluut onmenslik, hierdie diere is nie gemaak om in hokke vasgevang te wees nie. Mag hy kry wat hom toekom – KARMA

Willem ·

Vat die eienaars van daai plaas en voer hulle vir daai honger leeus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.