Leila se dood was ‘net ʼn ongeluk’

Leila Lees. (Foto: Facebook)

Die familie van Leila Lees (18) sê hulle neem niemand kwalik vir die ongeluk wat hul “positiewe, liefdevolle gees” van ʼn suster, dogter en kleinkind geëis het nie.

Lees en haar vriend, Ethan Kirkland (19), ʼn eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), se liggame is Maandagoggend in ʼn motor in ʼn steengroef in Stellenbosch aangetref nadat hulle Saterdag as vermis aangemeld is.

“Ons familie het geen vrae oor die ongeluk nie – dit was ʼn ongeluk,” het Max du Preez, befaamde joernalis en Lees se oupa, aan Maroela Media gesê.

“As daar ʼn gebou of ander motors langs die straat gestaan het, sou hulle [Lees en Kirkland] met ʼn paar skrape daarvan afgekom het, maar toe is dit ʼn diep gruisgroef vol water.”

Du Preez sê sy familie is nie vreemdelinge aan hierdie soort hartseer nie, aangesien sy vrou en Lees se ouma, Anne Marié Du Preez-Bezdrob, ses jaar gelede ook in ʼn motorongeluk dood is. Du Preez-Bezdrob was ʼn skrywer en ʼn VN-vredesmonitor in Bosnië.

“Dit is wat dit is. Ons blameer niemand nie. Ons familie staan nou saam om Annene, Leila se ma, en haar suster Mila deur die trauma te help.”

Leila se skielike afsterwe was tog ʼn groot slag vir die familie, maar Du Preez sê hy is dankbaar dat sy dogter, Annene, ʼn sterk vrou is.

“Sy het Leila en Mila meestal alleen grootgemaak en moet krediet kry vir watter gehalte mense hulle geword het.”

Lees het verlede jaar aan Parktown Girls in Johannesburg gematrikuleer, waarna sy Stellenbosch toe getrek het om saam met Mila, ʼn BSc‑student in haar derde jaar, te wees.

Volgens Du Preez wou Leila die jaar gebruik om juweliersware te maak en as kelnerin te werk voordat sy volgende jaar aan die US sou begin studeer het.

“Ek het dit aangemoedig, want op so ʼn jong ouderdom sou ʼn rustige jaar met allerlei ervarings haar goed vir universiteit voorberei het.”

Albei was geliefd

Leila Lees en Ethan Kirkland. (Foto: SAPS)

Huldeblyke oor die paartjie stroom in sedert die nuus van hul dood bekend gemaak is.

“Ons liefling Leila is te gou weg. Hierdie wêreld is leër sonder jou, vlieg met die engele,” skryf ʼn geliefde van Leila op Facebook.

ʼn Nagwaak ter nagedagtenis van die twee jonges gaan Donderdagaand op die universiteit se Rooiplein gehou word, waar lede van die publiek kerse kan aansteek om “die lig wat Ethan en Leila in ons lewens was” te onthou.

Ouers, leerders en personeel van Midstream College, waar Kirkland verlede jaar gematrikuleer het, sal ook Woensdagaand byeen kom om sy lewe te vier.

“Die opbruising van meegevoel onder die jongmense van Stellenbosch na haar dood is ʼn bewys van hoe geliefd sy was,” sê Du Preez.

Leila se oudhoërskool het ook hul meegevoel met haar geliefdes betuig.

Leila se gesin het nog nie finale begrafnisreëlings getref nie, maar beplan om albei oorledenes se lewens Sondag op Stellenbosch te vier.

Ruikers is in die gebied geplaas waar Leila en Ethan dood is. (Foto: Franco Stander/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pierre ·

hou die stadsraad verantwoordelik, daai grysgat moes lankal behoorlik toegemaak gewees het

Realis Thailand ·

Dit is te wyte aan die eienaar en die munisipaliteit se nalatigheid maar bring nie twee pragtige jongmense terug nie.
Lewens van twee mense wie n groot bate vir die land was is weggeneem. My innige simpatie aan die familie en vriende

Sonneblomkind ·

Baie hartseer! Sterkte aan die almal Mag ons Vader julle dra deur hierdie moeilike tyd

Veronika ·

Hopelik word daar nou iets aan die steengroef gedoen net jammer dis te laat!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.