Ligloop vir dié slenters op Swart Vrydag

Gretige inkopiegangers buite Game in Mall of the North in 2017. Foto: Facebook via Game Stores

Die Swart Vrydag-waansin is weer op ons en soos die Kersseisoen nader sluip, maak verbruikers wêreldwyd vir die grootste prysjag-geleentheid van die jaar gereed.

Skelmstreke deur handelaars veroorsaak egter dat onvoorbereide verbruikers soms selfs meer vir ʼn “afgemerkte” produk betaal as wat dit vroeër in die jaar gekos het.

Aanloklike afslagpryse vir ʼn beperkte tyd – en die opwinding om spotgoedkoop produkte in hul trollies te laai – kan boonop veroorsaak dat verbruikers effe meegevoer raak. Kenners waarsku daarom dat verbruikers op hul hoede moet wees en deeglik moet beplan voordat hulle vanjaar se Swart Vrydag aanpak.

Trudie Broekmann, ʼn prokureur wat in verbruikersreg spesialiseer, sê navorsing wat in 2022 in die Verenigde Koninkryk gedoen is, toon dat ʼn verstommende 98% van produkte wat op Swart Vrydag geadverteer is, in werklikheid vroeër in die jaar goedkoper was.

“Ek is nie bewus van Suid-Afrikaanse navorsing hieroor nie, maar my vermoede is sterk dat ons nie hierteen immuun is nie.

“Ons weet daar is ʼn groot toename in veral kuberbedrog rondom Swart Vrydag. Verbruikers het byvoorbeeld verlede jaar verskriklik gekla dat Takealot sy pryse opgestoot het en toe op Swart Vrydag valse afslag daarop geadverteer het,” sê Broekmann.

Broekman sê ander sakeondernemings doen dit ook.

“Verbruikers moet versigtig wees om nie in hierdie slaggat te trap nie. Hulle moet ordentlike navorsing voor 24 November doen. Ons stel voor dat verbruikers van webwerwe soos www.pricecheck.co.za gebruik maak om die ware markprys vas te stel voordat hulle iets op Swart Vrydag koop.”

Broekmann sê verbruikers moet “die innerlike skeptikus in hulself vrye teuels gee” en veral met aanlyn transaksies uiters versigtig wees.

“Jy loop ʼn risiko as jy gevra word om op ʼn skakel te klik of jou wagwoord te gee om ʼn transaksie te magtig.”

“Moet ook nooit ooit met ʼn sogenaamde ‘instant EFT’ betaal waar jy vanaf ʼn handelaar se webwerf jou bankkaartbesonderhede moet gee nie.”

Benay Sager, voorsitter van die nasionale skuldberadersvereniging, sê verbruikers moet eerstens doodseker maak dat die “winskopie” waarvoor hulle geld uit hulle sakke wil haal, waarlik ʼn winskopie is.

“Tweedens, en dit is die moeilike deel, moet verbruikers hulself afvra of hulle werklik die produk nodig het.”

Hy meen verbruikers is geneig om dié tyd van die jaar ʼn bietjie meegevoer te raak met al die afslagpryse.

“Derdens moet verbruikers seker maak van die fynskrif. Dít is waar ons dikwels in die strik beland,” sê Sager.

“Verbruikers moet onder meer seker maak omtrent die teruggeebeleid voordat hulle iets in hul trollies laai, veral wanneer dit by aanlyn inkopies kom.”

Hy sê verbruikers moet maar net te alle tye versigtig wees en uitkyk vir bedrog, veral aanlyn. “Daar is wonderlike webwerwe wat verbruikers toelaat om pryse te vergelyk. Maak gebruik daarvan en maak seker dat wat jy koop jou regtig geld spaar en dat jy nie ingedoen word nie.”

Inkopiegangers wag in ʼn lang ry vir ʼn winkel om oop te maak in Canal Walk-winkelsentrum op Swart Vrydag in 2017. Foto: Facebook via Game Stores

Ken jou regte as verbruiker

Broekmann sê daar is verskeie regte wat die verbruiker beskerm en dat alle verbruikers hiervan bewus moet wees.

“Artikel 29 van die Verbruikersbeskermingswet maak dit onwettig om enige produk of diens op ʼn wyse te bemark wat ʼn valse of misleidende indruk skep.

“Om ʼn produk se prys op te skuif net voor Swart Vrydag en dan ʼn groot ‘afslag’ aan te bied kom neer op valse of misleidende bemarking. Indien enige verbruiker agterkom dat ʼn voorsiener hom daaraan skuldig maak, moet hulle asseblief bewyse aan ons firma by [email protected] stuur sodat ons die voorsiener by die reguleerders kan aangee.”

Sy sê daar was onlangs ʼn klagte teen OneDayOnly voor die Reguleringsraad vir Reklame (ARB), nadat dié maatskappy ʼn valse afslag van 33% op ʼn produk geadverteer het. Die raad het bevind dat dit valse advertering was aangesien ander handelaars dieselfde produk vir dieselfde prys verkoop het.

“Verbruikers is geregtig op redelike en regverdige pryse vir produkte. Indien die prys of die advertering van enige afslag, voordele of eienskappe van die produk misleidend is, kan hulle die verkoper aangee en ook enige oormatige bedrag wat hulle betaal het terugeis.”

Wenke vir Swart Vrydag

Broekmann sê die enigste manier om werklik op Swart Vrydag geld te spaar, is om vooraf te begroot en ʼn lysie te maak van wat jy oorweeg om te koop.

“Dit is byvoorbeeld ʼn goeie idee om nou al te dink aan wat die kinders vir die skool in 2024 gaan nodig hê, of watter Kersgeskenke en onthaalitems jy vir die feestyd gaan benodig.

Sy moedig verbruikers veral aan om gebruik te maak van Swart Vrydag-aanbiedinge wat skuld betref, sodat verbruikers die balans op ʼn lening of krediet vinniger kan afbetaal.

“Met ons hemelhoë rentekoerse behoort die uitsorteer van skuld jou eerste prioriteit te wees in jou begroting,” sê Broekmann.

Sy moedig verbruikers ook aan om resensies van die produk wat hulle in gedagte het te lees, om vas te stel watter produk die beste waarde vir jou geld sal verskaf. Kies die beste aanbod wat in jou begroting pas en koop dit slegs as daar ʼn ware afslag aangebied word.”

Broekmann meen verbruikers moet enige Swart Vrydag-aanbod goed evalueer en uitkyk vir versteekte koste soos afleweringfooie, invoerbelastings of waarborgfooie wat op die betrokke produk gehef kan word.

“Baie kleinhandelaars publiseer reeds die spesiale pryse in die maand voor Swart Vrydag aanbreek. So verbruikers kan nou reeds daarvoor op die uitkyk wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronél ·

Interessant dat die voorheen benadeelde groep so ruim inkopies kan doen?

kaplyn ·

Ek het weer ‘n probleem met winkels wat (voorbeeld) “Buy any 2 and save 20%.” My vraag is 20% op watter prys? Hulle gee ‘n prys op die pak, maar die prys is baie duurder as wat dit ‘n maand of so terug was. Maar selfs al is nie prys dieselfde as wat dit ‘n maand terug / of vorige maande was, bly dit misleidend. Die produk wat in die voorbeeld hierbo genoem word, is van Woolworths op alle steaks. Op die pakkie is die prys tussen R200.00/kg en R290.00/kg. Is die 20% afslag dan nie misleidend nie? Hierdie presentasie afslag (bv. 20%) moet verbied word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.