Limpopo-gevangenis brand oor ‘ongelukkigheid met bestuur’

Skermgreep van ‘n video op Twitter oor die brand.

Die Kutama Sinthumule-gevangenis buite Louis Trichardt (Makhado) in Limpopo was vroeër vandeesweek in ligte laaie omdat die gevangenes oproerig geraak het en ʼn brand gestig het.

Die departement van justisie en korrektiewe dienste sê die brand was glo ʼn manier vir die gevangenes om hul “griewe” met die bestuur van die fasiliteit te opper.

Hulle was glo ook “ongelukkig met dissiplinêre stappe wat teen ʼn gevangene gedoen is”.

Die Kutama Sinthumule-gevangenis is een van ʼn handjie vol gevangenisse in Suid-Afrika wat privaat bedryf word.

Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van justisie en korrektiewe dienste, sê die private maatskappy, South African Custodial Management, het Maandag die departement om bystand genader.

“ʼn Uitbreking van onrus en vernietiging by die fasiliteit het die South African Custodial Management genoop om ʼn noodtoestand by die gevangenis te verklaar,” sê Phiri.

Ten tyde van die brand het wetstoepassingsowerhede gespook om te verseker dat geen gevangenes ontsnap nie.

Die departement het later ingegryp en daarin geslaag om stabiliteit by die fasiliteit te herstel.

Nogtans lyk dit asof die fasiliteit se kombuis, ʼn onderhoudsafdeling en twee blokke weens die brand skade opgedoen het. Die twee sentrums huisves altesaam 1 892 gevangenes.

Die volledige omvang van die skade word nog bepaal, maar die departement is reeds besig om al die gevangenes na ander fasiliteite reg oor die land te verskuif.

Phiri sê die opstokers is intussen geïdentifiseer en ʼn volledige ondersoek na die voorval is van stapel gestuur.

“Dit is ontnugterend dat die gevangenes se klagtes tot die vernietiging van staatseiendom gelei het,” sê Phiri.

“Hoewel dit verstaanbaar is dat gevangenes hul bekommernisse wil opper, is dit onaanvaarbaar dat hulle sonder gevolge eiendom vernietig. Die departement duld onder geen omstandighede hierdie soort gedrag binne korrektiewe fasiliteite nie.”

Dit is onbekend watter straf die opstokers opgelê sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lillian ·

Tronke is nie veronderstel om ‘n 5 – ster hotel te wees nie. En as die gevangene slae gekry het, het hy dit sekerlik verdien.

Yvonne ·

Nou wonder ek net…..as jy in die tronk beland is dit waarskynlik omdat jy oortree het maar tot daar word allerhande onheiligheid bedryf….ek voel jammer vir iemand wat onskuldig daar beland

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.