Man in hof vir moord op konstabel

(Foto: SA Polisie)

ʼn 31-jarige man het Dinsdag op aanklag van moord in die Bellville-landdroshof verskyn nadat hy Sondag in verband met die dood van ʼn jong polisiekonstabel in hegtenis geneem is.

Maroela Media het vroeër berig dat Zuko Sima (31) Sondag in die vroeë oggendure doodgeskiet en van sy Volkswagen Touran beroof is. Hy was nie tydens die voorval aan diens nie.

Drie mans, onder wie Grant Jacobs, is dieselfde dag in hegtenis geneem en die saak is vir verdere ondersoek aan die Valke in Bellville oorhandig.

Zinzi Hani, woordvoerder vir die Valke, sê twee van die verdagtes is weens ʼn gebrek aan bewyse vrygelaat. Grant is dus die enigste verdagte wat nou teregstaan vir roof en die moord op Sima.

Grant sal op 12 Julie weer in die hof verskyn wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Sima, wat aan die polisiestasie in Gugulethu verbonde was, is omstreeks 03:30 in Deliusstraat in Delft-Suid doodgeskiet en van sy voertuig beroof is. Die voertuig is later ná ’n ondersoek in Elsiesrivier opgespoor.

Maroela Media het vroeër berig dat inwoners van Kaapse buurte soos Gugulethu, Nyanga, Khayelitsha en Delft die afgelope paar jaar onder gewelddadige misdaad gebuk gaan.

’n Konfrontasie het boonop Dinsdag tussen Bheki Cele, minister van polisie, en Ian Cameron, stigter van die drukgroep Action Society, uitgebreek tydens ’n gespanne gemeenskapsvergadering in Kaapstad waar Cele inwoners van Nyanga en Gugulethu ontmoet het om oor polisiëring in dié woonbuurte te praat.

Cameron het die minister aangevat oor die tekort aan polisiëring en hulpbronne asook swak ondersoekwerk en opleiding in dié gebiede en hom daarvan beskuldig dat hy verwyderd is van die werklikheid wat dié gemeenskappe elke dag ervaar. Cameron het Cele voorts genooi om saam met die gemeenskap op ʼn nagpatrollie te gaan – sonder ʼn lyfwag, spogmotor en in gewone klere.

“Ek is moeg vir die verskonings en moeg daarvoor dat jy dit ʼn politiese ding maak. Nie een van hierdie mense [by die gemeenskapsvergadering] is oor jou sinnelose opmerkings van die Grondwet en evolusie besorg wanneer hulle sien hoe hul bure vermoor word nie. Hul kommer is oorlewing,” het Cameron gesê.

Hy het ook daarop gewys dat ondersoekers by die tradisionele Nyanga-kluster met sowat 300 dossiere van geslagsgebaseerde geweld voor hulle sit.

“Meeste van hierdie ondersoekers is konstabels vars uit die kollege. Hoe verwag jy dat hulle 300 dossiere moet ondersoek,” het Cameron aan Cele gevra.

Tussen April en Junie verlede jaar is die meeste verkragtingsgevalle in die Wes-Kaap by die Delft-polisiestasie aangemeld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

domheks ·

Ou cele moes LAAAAANKAL afgetree het! Kan nie ‘n ordentlike vergadering lei nie, skree soos ‘n stout kind wat nie sy sin kry nie. Cele kon nie antwoord nie – toe SKREE hy maar om sy onkunde weg te steek!

Harley Davidson ·

Wys jou net hoe onbevoeg is hy en sy piesang regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.