Man wat vrou glo aanrand, wil onskuldig pleit

John Schuurman (Foto: Verskaf)

John Schuurman – ook bekend as Johnny Rocket – het Maandag in die landdroshof in Hatfield in Pretoria aangedui dat hy onskuldig gaan pleit op ʼn klag van aanranding.

Schuurman het glo op 27 Januarie sy vervreemde vrou, Milena Hill, so erg aangerand dat haar neus gebreek is.

Hill het AfriForum se privaatvervolgingseenheid ná die voorval gevra om haar met die saak by te staan.

“Ons het die saak oorweeg en toe besluit om in te tree in terme van ʼn waaksaamheidsopdrag,” het Wico Swanepoel, ʼn aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, gesê.

Die saak is tot 30 Augustus uitgestel vir verhoor nadat Schuurman se regsverteenwoordiger, Elizma de Waal, aangedui het dat hulle die dienste van ʼn advokaat wil bekom.

Milena Hill (Foto: Verskaf)

“Hoewel ons teleurgesteld is dat die verhoor uitgestel is, weet ons dat daar net soveel vertragingstaktieke is wat die beskuldigde kan inspan voor die verhoor uiteindelik móét begin. Ons is vol vertroue dat die verhoor op 30 Augustus sal begin sodat die klaagster uiteindelik geregtigheid kan kry,” sê Swanepoel.

“Ons is amper in Vrouemaand, maar tog blyk dit dat die staat bloot lippediens doen aan die geveg teen geslagsgebaseerde geweld, veral in die howe waar hierdie geveg na regte die hardste geveg moet word. Die privaatvervolgingseenheid sal daarom voortgaan om vir Milena by te staan om toe te sien dat die saak die nodige aandag kry.”

Hill het die lede van die privaatvervolgingseenheid vir hul hulp bedank. “Ek glo dat geregtigheid moet geskied en is dankbaar vir adv. Gerrie Nel en sy span se ondersteuning,” het sy gesê.

Verskeie voorvalle van geslagsgebaseerde geweld het die afgelope ruk opslae gemaak. Dit sluit in die saak teen Jaco Swart wat ʼn boete opgelê is vir die aanranding van sy vervreemde vrou, Nicoleen Swart.

Maroela Media het ook vroeër berig oor Alexis Bizos wat glo sy vervreemde vrou, Monique van Oosterhout, in 2015 aangerand en ses van haar ribbes gebreek het. Die verhoor het vroeër vandeesmaand begin nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) versuim het om Bizos te vervolg.

ʼn Brandbestryder van Johannesburg, Duduzile Zuma, het sedert 2018 ook ʼn opdraande stryd om geregtigheid gevoer nadat een van haar kollegas haar aangerand het. Malfas Tshota, wat Zuma in die gesig geslaan het, is ʼn boete van R3 000 of twee maande tronkstraf vir die aanranding opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jean ·

Almal het die reg om te pleit soos hulle wil, en soms is daar mans wat onskuldig is.
Geweld is geweld, ek weet nie hoekom dit opgedeel moet word nie.

Waarnemer ·

En John is “the man” neh!!!Bravo John,ek wed jou jy gaan dit nie met n man probeer nie.Ek vertrou jy gaan tronkdtraf kry dn nie n boete nie dodat fie ouens daar in die tronk jou neus vir jou her rangskik.

Tinus ·

Is dit nie die ou wat yskaste en wasmasjiene “reg”maak nie?

Magda G ·

Party mans se handjies is baie besig om vrouens by te kom. Gee hom gas

Harley Davidson ·

Die hof moet maar bepaal of Johny rocket skuldig is dan moet die reg maar sy gang gaan maar ek kan nie oordeel op MM en hom veroordeel nie.

Hendrik ·

Manhaftigheid is sekerlik hier ter sake maar beslis nie manlikheid nie. Wat beleef n man terwyl en nadat hy n weerlose vrou geslaan het??????

jac ·

skuld my nog geld vir my wasmasjien, soos hulle se die wiel draai

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.