Middelburg-onnie blink uit met unieke medaljerekord

Johan Oosthuizen (Foto: Verskaf)

Die adjunkhoof van Laerskool Staatspresident CR Swart op Middelburg, Mpumalanga, het Sondag geskiedenis gemaak deur die laaste medalje wat hy nodig gehad het om met al die Comrades-medaljes te spog, in te oes.

Met ’n banier in die hand waarop staan “Mnr. Osie sedert 1998 ’n goue onnie”, het Johan Oosthuizen die 90 km-marathon in ’n tyd van 11 uur en 35 minute voltooi. Vir hierdie prestasie het hy die Vic Clapham-medalje ontvang.

Dit was ook die 19de keer dat hierdie kranige langafstandatleet die Comrades-eindstreep oorgesteek het. Hy mik om volgende jaar die dubbel groen op die Comrades te verower vir sy 20ste jaar wat hy die marathon aflê.

Oosthuizen het in 2019 die marathon in ’n tyd van 09:01 voltooi.

Hy moes hierdie jaar effens briek aandraai om in aanmerking te kom vir die Vic Clapham-medalje – wat aan atlete toegeken word wat die wedloop tussen 11 uur en 12 uur voltooi.

“Ek het nog nooit so lank aan die marathon gehardloop nie,” vertel Oosthuizen.

Oosthuizen het aan die einde van die marathon tyd aan sy kant gehad en kon die laaste 6 km na die eindstreep stap.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring. En boonop het ons goeie weer gehad.”

Oosthuizen sê al die roem kom hom egter nie toe nie. “Die erkenning moet gaan aan my ondersteuningsgroep wat my die afgelope 19 jaar al ondersteun. My familie, vriende, skool en die gemeenskap van Middelburg. Die medaljes is ’n spanpoging.”

Oosthuizen het in 1997 sy eerste Comrades aangepak en het ’n jaar daarna as onderwyser by Laerskool Staatspresident CR Swart begin.

“Die skool staan al vir 18 jaar bankvas agter my Comrades-loopbaan.”

Danie de Wet (Foto: Verskaf)

Intussen het Danie de Wet (40), ʼn atleet wat meer as sewe jaar gelede in ’n fratsongeluk in die myn byna sy lewe verloor het, vanjaar sy agtste Comrades voltooi.

Hy het die marathon in ’n tyd van 12:47 voltooi.

“Hoewel ek nie ’n medalje gekry het nie, is ek bly dat ek die marathon kon voltooi. Dit was ’n goeie leerskool vir my. Ek kan leer uit my foute sodat ek nie volgende jaar weer hierdie foute maak nie,” vertel De Wet.

De Wet, ’n ingenieurstoesighouer en reddingswerker by die Sibanye-goudmyn buite Carletonville in Gauteng, is op 10 Januarie 2015 deur ʼn 1,8 m lange koevoet van sy lies tot sy linkerskouerblad deurboor.

De Wet is ná 19 dae in die Milpark-hospitaal in Johannesburg ontslaan nadat sy linkernier verwyder is en hy ʼn maagrekonstruksie moes ondergaan.

De Wet vertel hy het ná 70 km gevoel het asof hy toe handdoek wou ingooi, maar hy het ’n tweede asem gekry en deurgedruk tot aan die einde.

“Jou ondersteuners hou jou staande. My vrou het langs die pad saam met my gehardloop.”

De Wet beoog om volgende jaar weer sy tekkies af te stof en die marathon vir die negende keer aan te durf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tino ·

Welgedaan, Nou kort meneer Osie nog net die Isavel Roche-kelly medalje…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.