‘Min’ wag nog op Sassa-geld, sê ministers

(Foto: Barbara Maregele/GroundUp)

Die meeste Sassa-begunstigdes het die toelaes ontvang wat hulle langer as ʼn week gelede nie kon onttrek nie weens “tegniese uitdagings” by Posbank.

Só sê Posbank, Sassa, Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, en Mondli Gungubele, minister van kommunikasie.

Dié agentskappe en departemente het Donderdag die begunstigdes van Sassa gerusgestel dat die uitdagings wat Posbank verlede week getref het, so te sê ʼn ding van die verlede is.

Duisende Sassa-begunstigdes, veral pensioenarisse, voer egter aan dat hulle steeds sonder ʼn sent sit.

Volgens Ntomboxolo Nikki Mbengashe, uitvoerende hoof van Posbank, is dié geld wel op pad.

Selfs nadat die stelselfout uitgeklaar is, het mense probeer om hul toelaes te onttrek, maar kon dit nie doen nie omdat die stelsel aangedui het dat dit reeds onttrek is. Posbank het egter al verlede week begin om hierdie transaksies om te keer.

“Posbank het ʼn handmatige proses begin om hierdie geld weer in begunstigdes se rekeninge te laat verskyn. Omdat dit ʼn handmatige proses is, beteken dit dat dit langer vat as wat ons gehoop het om al hierdie transaksies te finaliseer,” sê sy.

Aanvanklik is sowat 600 000 begunstigdes deur hierdie fout geraak, wat sowat 10% is van die 5,3 miljoen mense wat Sassa-toelaes deur Posbank ontvang.

“Ek kan nou met sekerheid sê 90% van die 600 000 begunstigdes se toelaes verskyn weer in hul rekeninge. Dit beteken dat meer as 500 000 mense reeds hiermee gehelp is.”

Mbengashe sê Posbank het verskeie kommunikasiekanale aan begunstigdes beskikbaar gestel sodat daar navraag oor die status van hul rekeninge gedoen kan word, maar boosdoeners misbruik nou dié kanale vir hul eie gewin.

“Daar is mense wat reeds hul toelaes ontvang het, wat nou beweer dat hulle dit nie gekry het nie sodat hulle dubbel die geld kry,” sê sy.

“Posbank se stelsel is egter baie deeglik en daarom sal mense nie die stelsel kan bedrieg nie. Wat dit eerder doen, is om die stelsel te verstop en die proses te vertraag om geld in begunstigdes se rekeninge om te keer.”

Posbank het reeds hierdie bedrieglike bedrywighede by wetstoepassingsagentskappe aangemeld.

‘Uitdagings’ nie kuberaanval

Mondli Gungubele, minister van kommunikasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Gungubele sê gerugte dat die tegniese uitdagings wat Posbank ervaar het, eerder ʼn kuberaanval was wat duisende mense sonder geld gelaat het, is onwaar.

“Die uitdagings was weens ʼn stelselaanpassing wat die bank gedoen het om ʼn beter diens aan sy kliënte te verskaf,” sê hy.

“Die uitdagings wat daarna ervaar is toe transaksies gedoen moes word, is egter ʼn algemene stelselfout binne die banksektor en gaan gewoonlik onopgemerk verby omdat ʼn outomatiese omkeerfunksionaliteit intree.

“Die uitdagings wat Posbank ervaar het, het egter ook die beskikbaarheid van die outomatiese omkeerfunksionaliteit geraak.

“Ongelukkig het dit daartoe gelei dat sommige begunstigdes van maatskaplike toelaes nie betyds hul geld op 5 en 6 September kon onttrek nie.”

Meer as 4 miljoen gebruikers van Posbank kon egter reeds op 7 en 8 September weer toegang tot hul toelaes verkry.

Pad vorentoe

Ntomboxolo Nikki Mbengashe, uitvoerende hoof van Posbank. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Gungubele sê Posbank maak vordering met die bywerking van sy stelsels wat sal verseker dat Sassa-begunstigdes nie weer sonder geld sit nie.

Posbank bring ʼn aantal “verbeteringsprogramme aan wat sal verseker dat Posbank vanuit ʼn veilige en robuuste bank-IT-omgewing funksioneer wat gelykstaande is aan ander kommersiële banke”.

“Die bywerkings wat gedoen word, sal verseker dat stelseluitdagings van hierdie aard iets van die verlede is.”

Gungubele het ook teruggekap na politieke partye, spesifiek die DA, wat ʼn beroep op Sassa-begunstigdes gedoen het om Posbank in die stof te laat en na meer betroubare banke oor te skuif.

Hy voer aan dat baie Suid-Afrikaners dit bloot net nie kan bekostig om na kommersiële banke oor te gaan wat hemelhoë bankkoste vra nie.

“Die regering bly daartoe verbind om Posbank ʼn betroubare staatsbank te maak.”

Mbengashe het bygevoeg dat sy en die res van Posbank se bestuur alles in hul vermoë sal doen om ʼn herhaling van verlede week se gebeure te vermy.

“Selfs wanneer ons jammer sê, is dit net nie genoeg nie. Ons is baie jammer vir wat gebeur het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andries ·

“Die uitdagings was weens ʼn stelselaanpassing wat die bank gedoen het om ʼn beter diens aan sy kliënte te verskaf,” sê hy. Klink weer vir my of een en ander kokkelol al die besluitneming op sy manier wil doen.

Johann ·

Ongelooflik! Janter NOG ‘n stelsel en instelling op en gebruik dan groot woorde en begrippe om hul onbevoegdheid te verdedig? Die Posbank is bloot nog’n geleentheid om die hordes kaders vreetplek te gee.

Johann ·

Só kweek jy ‘n afhanklikheid van die staat. In die geval van die anargis ANC. Ergste is hulle stroop die belasting betalers basis om hulle stemkoop te finansier.

annie ·

So, almal wat gefire was plus die baas is môre op hul pos… anders stem ons nie vir die ANC nie. Plus stywe verhogings vir die stres en… ja, die stres.

Kobus ·

So, 100,000 het weer honger gaan slaap en dieselfde 100,000 stem weer ANC. Die minister vra omverskoning vir die ongerief terwyl die tafel kruen met al die kos en drank.

Kokerboom ·

En die oningeligte massas glo die politieke leuenaars en stem 2024 weer vir hul!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.