Minister moet sê oor ‘voortydige en absurde’ rasregulasies

Dr. Dirk Hermann (Foto: Reint Dykema)

Solidariteit het ʼn regsbrief aan die minister van indiensneming en arbeid gestuur waarin die vakbond daarop wys dat die gewraakte nuwe rasregulasies voortydig gepubliseer is voordat die wet amptelik in werking gestel is.

Solidariteit vra minister Thulas Nxesi vir duidelikheid oor verskeie aspekte van die regulasies.

“Indien dit nie binne sewe dae gebeur nie hou Solidariteit die reg voor om die regulasies hof toe te vat,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Die regulasies is gepubliseer ten spyte daarvan dat Solidariteit reeds hofstukke op pres. Cyril Ramaphosa beteken het waarin ons vra dat die wet ongrondwetlik verklaar word.”

In die regsbrief spreek Solidariteit sy kommer uit oor die minister wat versoek dat skriftelike kommentaar oor die konsepregulasies binne 30 dae van die publikasie daarvan ontvang word.

“Om die konsepregulasies in dié stadium te publiseer is irrasioneel, om die minste te sê. Nie net is die konsepregulasies gepubliseer ondanks die genoemde grondwetlike stryd daarteen nie maar is dit gepubliseer in terme van die wysigingswet, waarvan die implementeringsdatum nog nie vasgestel is nie. Die konsepregulasies is dus voortydig gepubliseer,”  lui die regsbrief wat ook aan Ramaphosa, die direkteur van die departement van indiensneming en arbeid en die direkteur van die diensbillikheidskommissie gestuur is.

Die nuwe regulasies stel streng rassekwotas vir maatskappye. “Die kwotas is absurd en onimplementeerbaar en daar is geen verduideliking oor hoe die minister die teikens gestel het nie. Die wet gee drakoniese magte aan die minister en die regulasies is ʼn bevestiging daarvan,” sê Hermann.

Solidariteit beplan reusehofoptrede teen die nuwe regulasies wat Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer is. Hierdie 60 bladsye met regulasies bepaal gedetailleerde rassekwotas vir sektore en streke wat op werkgewers afgedwing kan word.

“Solidariteit het reeds stukke op die regering beteken om die raswetgewing, wat onlangs deur pres. Ramaphosa bekragtig is, as ongrondwetlik te verklaar en beplan nou om hierdie regulasies ook in die hof te beveg indien dit aanvaar word. Ons verwag dat die stryd tot in die Konstitusionele Hof gevoer gaan word. Solidariteit gaan ook in Desember vanjaar voor die Verenigde Nasies verskyn oor Suid-Afrika se oortreding van internasionale konvensies oor rassediskriminasie.”

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Solidariteit is van mening dat hierdie wetgewing ʼn nuwe rasselaagtepunt in Suid-Afrika is. Suid-Afrika word nou volledig volgens ras gereguleer en is nou sonder twyfel die mees rasgereguleerde land ter wêreld.

“Die minister van arbeid en indiensneming het in die 60-bladsy lange dokument Suid-Afrika in detail volgens ras gereguleer. Dit is nie net wit werknemers wat hard getref sal word nie. Bruin en Indiërwerknemers is byvoorbeeld in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal oorverteenwoordig en sal agter werk moet aantrek,” meen Hermann.

Solidariteit gaan met ʼn veldtog begin om werkgewers op groot skaal aan te moedig om tot die hofstryd toe te tree.

“Werkgewers word die swaarste getref. Hulle gaan nie meer mense kan aanstel op grond van wat hulle kan doen nie, maar hoe hulle lyk. Die regulasies maak reuse-inbreuk op die vryheid om te kan werk en besigheid te doen. Enige sodanige ingryp in die mark het verlies van werk tot gevolg. As die regulasies toegepas gaan word, gaan eienaars van kleiner ondernemings nie meer self hulle ondernemings kan bestuur nie,” sê Hermann.

“Ons vertrou dat honderde werkgewers, burgerlike organisasies en politieke partye tot die stryd sal toetree. Die regulasies is ʼn ambisieuse plan van sosiale manipulering. Sentrale beplanning van bevolkings het in die verlede tragiese gevolge gehad. Sentrale rasbeplanning is in alle opsigte verkeerd en Suid-Afrika moet oor rassegrense heen opstaan daarteen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank John ·

As jy nie werk kan skep of skep nie vat wat beskikbaar is en skep nog meer werkloosheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.