NGV: Planne om Ramaphosa, ministers regstreeks aanspreeklik te hou

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Solidariteit gaan sy stryd teen die regering se voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) verskerp deur pres. Cyril Ramaphosa, Enoch Godongwana, minister van finansies, en dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, persoonlik aanspreeklik te hou vir die gevolge sou dit eindelik in werking gestel word.

Solidariteit het reeds aan al drie te kenne gegee dat sou hulle onderneem om met die NGV voort te gaan, die organisasie ʼn kostebevel teen hulle sal versoek.

Solidariteit verduidelik in ’n aanmaning, wat Donderdag aan die betrokke partye gestuur is, dat verslae van onder meer die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) duidelik uitstippel hoe onbekostigbaar en onwerkbaar die NGV is.

Luidens die SNI se kosteverslag benodig die tesourie ʼn bykomende R296 miljard om die voorgestelde NGV te implementeer. Sou dit vandag in werking gestel word, sal daar ’n begrotingstekort van R181,95 miljard wees.

Dit terwyl Suid-Afrika reeds ʼn begrotingstekort van 4,2% het.

Dr. Dirk Herman, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Dirk Hermann/Facebook)

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê vir die regering om met die NGV te volhard, is irrasioneel.

“Dit is dan ook ʼn oortreding van die etiese kodes en standaarde waartoe hierdie regeringsampsdraers hulle behoort te verbind. Dié ampsdraers het inderdaad die mag om, in die lig van sterk bewyse dat dit skadelik vir die land en sy inwoners sal wees, teen die NGV te besluit.”

Volgens Hermann gaan ʼn kostebevel in persoon aan Ramaphosa, Godongwana en Phaahla versoek word om hulle individueel aanspreeklik te hou. Aanspreeklikheid gaan ook geëis word van die nasionale tesourie, die departement van gesondheid en die Nasionale Raad van Provinsies wat almal vir die totstandbringing van die NGV verantwoordelik is.

“Ons wil hiermee seker maak die individue besef hulle kan nie hul hande in onskuld was wanneer vernietigende stelsels soos dié geskep word nie. Die NGV en die gevolge daarvan moet dan ook voor die deur van hierdie invloedryke persone gelê kan word.

“Die bewyse van wat met gesondheidsorg in die land sal gebeur as dit in die hande van die sentralistiese regering beland, kan gesien word aan die toestand waarin ander instellings verkeer wat in regeringshande is – soos Eskom, Transnet en SAL.”

Connie Mulder, hoof van die SNI, sê daar is bewys dat die NGV nie net onbekostigbaar en onuitvoerbaar is nie, maar dat dit boonop onnodig is omdat Suid-Afrikaners reeds toegang tot gratis gesondheidsorg het.

“As daardie gesondheidsorgstelsel nie eers behoorlik onderhou en verbeter kan word nie, is daar tog geen kans dat ʼn aansienlik groter stelsel suksesvol bestuur sal kan word nie.

“Die tesourie het veral ʼn verantwoordelikheid om dit te verhoed, want daar is nie geld daarvoor nie. Dit is hoekom ons ook die tesourie aanspreeklik gaan hou,” sê Mulder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Manie ·

Hulle gaan in ieder geval so ‘n kostebevel met my en jou geld betaal.

Henri ·

“As daardie gesondheidsorgstelsel nie eers behoorlik onderhou en verbeter kan word nie, is daar tog geen kans dat ʼn aansienlik groter stelsel suksesvol bestuur sal kan word nie.”.

Soos ek dit verstaan, voldoen die staatshospitale op die oomblik glad nie aan die standaard wat bepaal of die NGV-plan ingestel mag word nie.

Kobus ·

Ek wonder nou oor een ding. Die ANC kaders vlieg vinnig Rusland toe vir behandeling. Afleiding is dus dat hulle nie ons eie dokters vertrou nie en daarmee saam gladnie die Kubaanse dokters wat hulle so hoog aanskryf nie. Vraag- Sal hulle ook in die ry vir ‘n hele dag sit en wag vir ‘n dokter? Ek praat nie eens van in die bloedige hitte of ysige koue in die platteland nie. Indien die regeringsamptenare ,hulle vrouens en mans en kinders bereid gaan wees om soos ons burgers te wag, dan stem ek vir NGV

Kosie ·

Wie sit agter hierdie stelsel, want dit is beslis nie die regering nie. Dit is weer die “Bill and Milanda Gates foundation”, die “Clinton Foundation” en die “Open Society”. Ons regering het nie die vermoeë om met die twak vorendag te kom nie. Tyd dat julle julle kostebevel teen hulle instel.

Waarnemer ·

Dr Herman,en jy dink die regerende party gaan terug staan?Dink weer….solank as wat cyril die hef in die hand het,poep ons teen wind.Reik eerder uit na die miljoene swartes wie gebreinspoel word om (weereens) vir die kaders te stem.Staan eerder die DA by om harder te veg vir n vrgy land.

Deon ·

Dit is so duidelik soos daglig dat hierdie beoogde NGV op n ramp vir hierdie land afstuur. Dit gaan die voortydige dood van duisende siek mense veroorsaak. Dit moet nou gestop word! Dankie Solidariteit en elke ander mens en organisasie wat so baie doen om hierdie ramp van vele te verhoed.

Aggie ·

Dit sal nie van die grond af kom nie – daar is eenvoudig net nie geld daarvoor nie. Maar aan die ander kant, as GEMS wegkom met ‘n byna 16% verhoging in ledegeld volgende jaar teen ‘n gemiddelde van 6-7% van die ander fondse, dan het ek ‘n groot probleem!!

Samuel ·

Ek wonder wat rook Hermann? Glo hy vir een oomblik die agbare ministers en die SP steur hulle aan hofuitsprake of bevele? Gmmmph

Frikkie ·

SA se geld is op, die wiele het afgekom van die soustrein, dit is die enigste manier hoe die anc nog kan skep, behalwe vir die brandstof stygings en belasting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.