Nóg lande wil in SA se energieoorgang belê

‘n Betoging teen klimaatsverandering in Switserland. (Foto: Fabrice COFFRINI/AFP)

Denemarke, Nederland en Spanje het nou ook beloof om geld te gee om Suid-Afrika te help om van steenkool- na herwinbare kragopwekking oor te skakel. Dit beteken geld beskikbaar vir die finansiering van die vennootskap vir ʼn billike energieoorgang (JetP) staan tans op $11,8 miljard (ongeveer R222 miljard). Dit is egter steeds ʼn druppel in die emmer van wat nodig sal wees om die Suid-Afrikaanse ekonomie volkome onafhanklik van steenkool te maak.

Rudi Dicks, hoof van projekbestuur in die presidensie, het dié nuus Vrydag aangekondig.

Die presidensiële kommissie vir die klimaat het Vrydag vergader om terugvoering te gee oor vordering met die land se pogings om klimaatsverandering teen te werk. Die vergadering het ook plaasgevind in aanloop tot Suid-Afrika se voorbereiding vir die Verenigde Nasies (VN) se komende beraad oor klimaatsverandering (COP28).

Duitsland, die Verenigde Koninkryk, die Europese Unie en Amerika het reeds in 2021 onderneem om R8,5 miljard (net meer as R131 miljard) hiervoor te bewillig. Die ooreenkoms is tydens COP26 in Glasgow, Skotland, geteken.

Die ooreenkoms is egter onderhewig aan die finalisering van ʼn inwerkingstellingsplan. Dít moes al in Augustus voltooi gewees het, maar Dicks sê dit sal eers in November aan die kabinet voorgelê word.

Pres. Cyril Ramaphosa het wel in November verlede jaar, tydens COP27, ʼn beleggingsplan aan sy vennote voorgelê. Hierin word uiteengesit hoe R1,5 biljoen (“trillion”) oor die volgende vyf jaar gebruik sal word om Suid-Afrika se ekonomie volkome onafhanklik van steenkool te maak. Ramaphosa het toe ook internasionale finansierders gekap en gesê dit is baie moeilik vir armer lande om hulp vir klimaatsverandering te bekom.

In dieselfde maande het Suid-Afrika leningsooreenkomste vir €600 miljoen met Duitsland en Frankryk onderteken. Dié geld moet ook gebruik word om Suid-Afrika se steun op steenkool te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

annie ·

… en nou voer ons die steenkool net uit na Duitsland en Sjina en wie ookal… Die skenkings sal ook voete kry, so moenie te opgewonde raak nie. As ‘n land geseën is met steenkool dan wil jy liewer iets duurder gebruik wat net soveel skade doen aan die omgewing.

domheks ·

Moes al ingedien gewees het…. ‘African time’ Wonder hoeveel van die miljarde $$$$ beland in kaders se sakke.

Oosieoos ·

Solank die kaders i beheer is sal die skenkings net verdwyn punt

Jan Jacobs ·

Wat word van die ou son panele, en baterye, wat van die natuur wat skade Lei, nee wat nuwe geld maak plan

Martin ·

Die ANC kaders moet solank Lubners toe gaan en bestellings insit vir hulle vir baie lang rusbanke…ek stel voor dat die lande wat weereens geld wil skenk aan ons regering eerder die hardeware oorsee aankoop en per skip stuur en nie geld stuur nie…

Johann ·

En die magsmal ANC vergrypers staan reg met die bak hande om te bedel…lieg ek nou. Hulle staan sommer al klaar by die vreet krippe.

Niklaas ·

Nog ‘n aantal nuwe miljoeners word geskep. Moenie glo dat die al die fondse in die regte kanale sal beland nie.

Jacobus ·

Vat nie lank om ‘n fool te spot nie. Maak jou kragstasies toe en gee ons julle swart Phala$ en ons sit rooi $PhalaPhalas in jou bank en vir jou tjommies.
Moes myself verarm om net die eenvoudigste ligte in die nag te hê – wie gaan die miljarde kry!

tierwyfie ·

Die lande het nog niks geleer nie, jy gee nie geld nie. Nou lek die kaders weer hulle lippe af, Lekker baie geld om in hulle eie sakke te stop.

Ben ·

Kan die persoon in beheer van die nuus brokkies, nie maar net die berigte nagaan voordat dit uitgestuur word nie. Ai….
Kyk na die syfers wat genoem word. Of vra vir ñ wiskunde onderwyser om te help. Of gaan kyk in die woordeboek wat beteken. Biljoen en miljard.

Chris ·

Hoekom vra hul nie vir private beleggers nie – laat die bates en inkomste wat dit genereer na die burgers self gaan – ek is seker indien jy kyk na die hoeveelheid sonstelsels wat daaglik deur private huishoudings installeer word is dit duidelik dat die burgers instaat is om self by te dra. Die bate bly ons land se besitting en die inkomste daaruit ontgin kan in die plaaslike ekonomie bly. Energie is ‘n goudmyn

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.