‘Nzimande, Unisa se verhouding moenie skipbreuk ly’

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

As minister Blade Nzimande nie gou ʼn manier kry om sy verhouding met die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) te beredder nie, gaan die studente die gevolge van die verbrokkelde verhouding dra.

Hendrick Makaneta, onderwysaktivis, het ʼn beroep op die minister van hoër onderwys en opleiding gedoen om ernstig te besin oor die huidige stand van sake – veral nadat die hof beslis het dat hy sy besluit om die universiteit onder administrasie te plaas, moet omkeer.

“Die uitspraak bied ʼn nuwe geleentheid vir die raad en die minister om ʼn tree terug te staan en die bestaande verskille op te klaar.”

Makaneta sê bemiddeling is veral ʼn opsie wat albei partye moet oorweeg as hulle ernstig is daaroor om die situasie te beredder.

“Wanneer twee bulle baklei, ly die gras daaronder. Die studente van Unisa is diegene wat sal ly as die voortslepende stryd voortgaan,” sê hy.

“Die moddergooiery tussen die minister en die raad van Unisa moet dringend tot ʼn einde gebring word, en een van die beste maniere om dit te doen is deur bemiddeling. Ons het ʼn bemiddelaar nodig om die nodige stabiliteit by Unisa te bewerkstellig.”

Die universiteit het vroeër gesê dat hy nie in ʼn geskil met Nzimande betrokke is nie, maar dat hy slegs sy verantwoordelik teenoor die instelling en sy belangegroepe uitoefen deur enige onnodige ontwrigting te verhoed.

Hofgeding net ‘geldmors’

Volgens Makaneta is dit onaanvaarbaar dat die regering voortdurend geld mors aan litigasie of appèlaansoeke “wat nie eers help nie”.

Dit terwyl talle Suid-Afrikaners deur erge armoede en werkloosheid in die gesig gestaar word.

“Ons staar reeds harde ekonomiese beleidsveranderinge in die gesig soos weerspieël in die mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) wat deur die minister van finansies bekend gemaak is,” sê hy.

“Indien Unisa hom aan enige oortredings skuldig maak, soos uitgewys deur die verslag van die onafhanklike assessor, laat die minister wag dat die hof besluit oor die geldigheid van die verslag voordat enige verdere stappe gedoen word.”

Kort ná die jongste hofuitspraak oor die saak het Nzimande gesê dat hy die uitspraak sal bestudeer “en besluit oor die volgende wettige roete om te volg”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Yvonne ·

Hoe dan??…maak nie saak wat dit is nie…as die ANC daar aan raak is dit n gemors….tragies

annie ·

… aah, nog geld gooi na die lekker probleem? En aanstaande jaar weer… Te lekker!

Nici ·

Dit is darm nou al baie jare dat Unisa disfunsioneel is. Die hof wil seker he die disfunksie moet voortgaan.

Prikkie ·

Dit is net Jan Alleman wat onder armoede gebuk gaan. Die ministers leef in weelde.

domheks ·

Het nou bewus geword van sakeredding. Daar sal dalk weer iets in die trog gegooi word om te skep……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.