OB-komitee gaan Ramaphosa nie dagvaar

Argieffoto van pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond jiyane/GCIS)

Die parlement se artikel 194-komitee wat belas is met die proses oor die moontlike verwydering van Busisiwe Mkhwebane as Openbare Beskermer (OB), het die versoek om pres. Cyril Ramaphosa te dagvaar om te getuig van die hand gewys.

Mkhwebane se regspan het versoek dat Ramaphosa gedagvaar word om voor die komitee te getuig.

Fatima Ebrahim van die parlement se regsdienste het Dinsdag ʼn regsmening in dié verband aan die komitee voorgelê. Qubudile Dyantyi, komiteevoorsitter, het hierna gesê die meerderheid van die komiteelede is duidelik ten gunste van die omvattende regsmening. Komiteelede het gevoel die redes wat in die versoek van Mkhwebane se regspan gelys is, is nie ter sake vir die komitee se mandaat nie en dit is dus van die hand gewys.

Ebrahim het die komitee meegedeel dat die OB se regspan op 19 Julie aan Ramaphosa geskryf en hom versoek het om voor die ondersoek te getuig oor onder meer sy skorsing van Mkhwebane en die hersiening van haar verslag in die sogenaamde CR17-aangeleentheid. Mkhwebane het ʼn ondersoek gedoen na die finansies van Ramaphosa se CR17-veldtog – die veldtog om hom tot president van die ANC te laat verkies.

Die staatsprokureur, wat namens die president opgetree het, het in reaksie op die OB-regspan se brief aangedui dat Ramaphosa om verskeie redes nie tot die versoek sal instem nie. Die OB se regspan het toe die komitee genader met ʼn versoek om Ramaphosa te dagvaar om te getuig waarna die komiteevoorsitter ʼn regsmening oor die aangeleentheid aangevra het. Ebrahim het aan die komitee gesê hulle moet onder meer die feit in ag neem dat die OB versoek het dat die president gedagvaar word om vrae te beantwoord oor ʼn aangeleentheid wat reeds deur die howe afgehandel is.

Hoewel die parlement dus oorsig oor die president moet uitoefen, het die komitee nie die mandaat om dit te doen nie, aangesien sy unieke taak is om die waarheid van die aanklagte teen die OB vas te stel en aan die Nasionale Vergadering verslag te doen. Ebrahim het bygevoeg dat die president moontlik ʼn uitvoerende funksie het om ná afloop van die parlementêre proses te verrig en daarom nie ligtelik in enige voorlopige stadiums ingetrek moet word nie.

“Dit is duidelik dat lede nie ten gunste daarvan is om die president te dagvaar nie weens die ontoepaslikheid van die redes wat in die versoek gelys word. Ons gaan nie daardie roete volg nie. Die versoek om die dagvaarding word dus van die hand gewys, gegrond op die argumente wat in die regsmening gelys word,” het Dyantyi ná ʼn uitgebreide bespreking oor die aangeleentheid gesê.

Die komitee gaan vandag voort met sy werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

007 ·

Gaan sê jou sê en bewys haar verkeerd. Maar Rampie is seker bang daar word ander vrae gevra.

Nie Verbaas ·

So het Ramaphosa nou n keuse of hy aangekla en ondervra wil word of verstaan ek verkeerd?

annie ·

Mens hoef nie eintlik ‘n siener te wees om te sien wie en wat en waarom die OB Cyril wil laat aantree nie. Soos die verkiesing in Desember nader sal die stryd vererger en Zuma al meer sterwender raak en wonderbaarlik genees sou sy kandidaat die pot raaksit. Mis sit sal wel erge besoedeling op die korttermyn veroorsaak maar ons sal kan cope. Hou maar net ‘n laaste paar maskers in die laai vir die erge winderige dae.

Nie Verbaas ·

Waar wat jy sê maar Ramaphosa het baie geraamtes in die kas. Hulle moet mekaar maar vernietig.

Esme ·

Sekere individue staan bo die reg – en dan kry jy die’s wat eerlike lewens probeer leef en as hulle ‘n vlag vertoon is dit haatspraak en daar is kriminele gevolge. Rampie, ek wens ek was in jou skoene – alles wat ek doen of nie doen, moet ek verduidelik.

Pietertjie ·

Só beskerm die kaders van een faksie mekaar, terwyl “kaders” van ander faksies uitgehaal moet word.

Yolandy ·

Duidelik is hulle iets belowe of versker omgekoop met n incensitive

JohanR ·

Agh asseblief tog kan Ramaphosa nie gedagvaar word nie…..asseblief tog, Kan nie wag dat hy ook tot ‘n groot val kom nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.