Orgaanskenkings gee tweede kans op lewe in Gauteng

Anja Meyer (tweede van links), die Gautengse Provinsie se oorplantingsbestuurder en orgaanskenking-ontvangers en -skenkers (Van links: Kopeli Mosoatsi, Deve Moodly en Daniel Matsoso) [Foto: Verskaf]

Die Gautengse departement van gesondheid is in sy skik met die 18 orgaanoorplantings wat verlede maand in die provinsie uitgevoer is.

Die provinsie het ʼn waglys van sowat ʼn duisend pasiënte wat op orgaanoorplantings wag.

Volgens Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, het die oorplantings by verskeie oorplantingsentrums, onder meer die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, geskied.

Tussen April en Julie vanjaar is altesaam 21 oorplantingsoperasies by die Charlotte Maxeke-hospitaal uitgevoer.

“Vyf orgaanskenkers het dit moontlik gemaak dat 18 pasiënte nier‑, lewer-, hart- en longoorplantings kon ontvang,” sê Modiba.

“Twee van die vyf orgaanskenkers het ook weefsel geskenk. Een het korneas, been en vel geskenk, terwyl die ander been en vel geskenk het.”

Organe wat dringend benodig word, is harte, longe, lewers, niere en pankreas, sowel as weefsel wat korneas, vel en lang bene insluit.

Die hoof van chirurgie by die Charlotte Maxeke-hospitaal, prof. Thifhelimbilu Luvhengo, het ’n boodskap van dankbaarheid aan die families van die orgaanskenkers oorgedra.

“Orgaan- en weefseloorplanting is die doeltreffendste manier om onomkeerbare orgaan- en weefselversaking te behandel. Diegene wat instem om organe en weefsel te skenk, het en gaan voort om baie lewens te red,” sê Luvhengo.

Luvhengo is ook die Gautengse koördineerder van die provinsiale bestuurspan vir die oorplanting van soliede organe.

“Ons wil graag alle Suid-Afrikaners aanmoedig om as orgaanskenkers te registreer. Ons wil ook graag families van oorledenes aanmoedig om orgaanskenking te oorweeg.”

Een van die mense wat onlangs ’n nieroorplanting by die Charlotte Maxeke-hospitaal ontvang het, Kopeli Mosoatsi (37) van Orange Farm in Johannesburg, het gesê dat hy dankbaar is vir sy tweede kans op die lewe. Hy het ʼn kadawerskenking ontvang.

Mosoatsi was sewe jaar lank op dialise.

“Nadat ek in 2016 met nierversaking gediagnoseer is, het my lewensgehalte agteruitgegaan. Ek kon fisiek nie meer die dinge doen waaraan ek gewoond was nie, en die pyn was ondraaglik,” vertel Mosoatsi.

“Ek was baie gelukkig om ’n skenker te kon hê en ek sal vir ewig dankbaar wees vir die familie wat my lewe gered het. Dit is nou my doelwit om bewustheid van orgaan- en weefselskenking te skep aangesien dit baie lewens kan red en die lyding kan beëindig wat baie mense op die oorplantingswaglys moet verduur.”

Die departement wil Suid-Afrikaners wat organe wil skenk, aanmoedig om te registreer of hul laaste wense met hul direkte familielede te deel aangesien direkte familielede se toestemming nodig is vir die oes van organe en weefsel na afsterwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Die een se dood is die ander se brood… Oestyd. Brood in die mond en ‘n opgesnipperde vergete liggaam onder die grond. Voeding vir die cannabis om te groei. Gelukkig vir diegene wat wag om te oes, is SA ook een van die mees bloeddorstige lande ter wêreld. Jou bloed vir ‘n ander om die res te laat oes; ons dokters die landbouers.

Miena ·

Sjoe annie – dit is diep. Ek het nooit so daaraan gedink tot jy dit verwoord het nie. En ek en my gesin is almal ograan en weefselskenkers.

Mads ·

Klink vir my meer swartgallig as diep…?
Ons hele familie is orgaanskenkers, want ons het TWEE orgaan-ontvangers in ons familie!
So by ons is dit ń diep saak van Genade en dankbaarheid; maar beslis ook hartseer en simpatie met en vir die skenker-familie en naasbestaandes.

Chris ·

My vrou is op die oomblik op Wes-Kaap se nier oorplantingslys wat 7 jaar lank is Dus is die enigste opsie ñ lawendige skenker So mense registreer asb as orgaanskenkers Dit is ñonbaatsugtige daad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.