Outomatiese leerderbevordering dui op stelselmislukkings

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Sistemiese oplossings is nodig om Suid-Afrika se mislukkende onderwysstelsel weer te herbou. Dít, en natuurlik ook die wil om leemtes en tekortkominge daadwerklik te pak.

Só het kenners vandeesweek aan Maroela Media gesê nadat swak presterende leerders in gr. 4 en gr. 9 wéér vanjaar gehelp moet word om te slaag. Volgens die nasionale onderwysdepartement is dit glo omdat die Covid‑19-pandemie steeds ʼn uitwerking op die onderwysstelsel het.

Prof. Kobus Maree, verbonde aan die departement van opvoedkundige sielkunde aan die Universiteit van Pretoria, sê om leerders bloot te bevorder na ʼn volgende graad is nie ʼn ideale oplossing nie, en dat die regering ʼn baie sterker fokus op haakplekke en agterstande moet plaas. Dié ingryping moet ook vroeg in ʼn kind se opvoedkundige loopbaan geskied.

“Leerders wat beter voorbereid is, het ’n baie beter kans om te presteer, in watter eksamen ook al. En hulle het ’n baie beter kans op ’n suksesvolle lewe en om indiensneembaar te wees.

“Om leerders te bevorder is nie ideaal nie. Dat dit vir ʼn sekere doel gedoen word, verstaan ʼn mens. Maar dan moet daardie doel goed nagevors word. Daar moet ʼn duidelike begrip van die [leerder se] leemtes en tekortkominge wees.”

Hy meen daadwerklike aandag moet ook nie net aan leerders se kognitiewe vermoëns gegee word nie, maar ook hul emosionele welstand.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê die goue beginsel is om te bepaal of dit in die kind se beste belang is om hulle terug te hou of na die volgende graad te bevorder.

“Geen kind se situasie is dieselfde nie. Die hele prentjie moet in ag geneem word.”

Hy sê dit is ʼn deeglike proses wat met groot omsigtigheid hanteer moet word, en dat dit in die meeste funksionele skole wel so gebeur.

En hoewel dit nie ʼn groot persentasie leerders is wat deur hierdie proses geraak word nie, is dit tog kommerwekkend dat die Covid‑19-pandemie steeds die blaam kry dat leerders sukkel.

“Dit help nie om net reaktief op te tree nie. Wat het die onderwysdepartement die afgelope twee jaar gedoen om proaktief op te tree?”

Vermeulen sê daar behoort met elke kind ʼn vorderingspad gestap te word – van voorskool af – maar dat dit ongelukkig nie gebeur nie [veral in wanfunksionele skole]. Voldoende kommunikasie met ouers ontbreek ook.

“Daar moet deurlopend kommunikasie tussen ouers en onderwysers wees om die hele tyd te weet waar ʼn kind se leemtes en tekortkominge is.”

Hy sê ʼn mens kan ook nie net sukkelende kinders terughou nie, want dan sit jy met ʼn geval waar ʼn leerder twee of drie jaar ouer as sy of haar klasmaats is – wat weer ander probleme veroorsaak.

“Dit is alles simptome van ʼn falende onderwysstelsel.

“Die hele stelsel moet herbou word. Die kundigheid is daar, maar daar moet ʼn wil wees.”

‘Smyt politieke onderrok weg’

Maree beaam hierdie stelling en sê indien “fundamentele foutlyne in die onderrigstelsel” nie reggestel word nie, leerders voortdurend bevorder sal moet word en die onderrigstelsel sal gebrekkig bly.

Die regering moet egter die wil hê om werklike oplossings te vind en van ʼn vroeë ouderdom in leerders se toekoms belê – sonder politieke agendas.

“Dit is tyd dat die politieke onderrok in die asblik gesmyt word. Ek is nie oortuig dat die regering altyd in die beste belang van leerders optree nie. Hy sal eerder die stelsel kook om goed te lyk as om werklike probleme uit te lig en op te los.”

Maree sê dit is veral leerders in townships en landelike gebiede wat swaarkry. Dié leerders het nie toegang tot dieselfde vlak van onderrig as leerders in stedelike gebiede nie, terwyl onderwysers in dié gebiede dikwels ook nie voldoende opgelei is nie. Dit terwyl die regering geld vermors wat eerder in gehalteonderrig belê kon word.

“Ons land het fantastiese, skitterende onderwysers en dosente – selfs afgetredenes. Stel hulle aan, maak dit vir hulle veilig om na townships en landelike gebiede te gaan en betaal hulle ʼn behoorlike salaris. Dit sal ʼn baie groot verskil maak.

“Ek kan ook nie verstaan waarom dit – soos vir dokters en sielkundiges – nie vir onderwysstudente nodig is om twee jaar gemeenskapsdiens te doen nie. Dit moet verpligtend wees vir kwalifiserende onderwysstudente. Dit sal onmiddellik ʼn positiewe uitwerking hê.”

Maree sê die regering moet ook in meer leersentrums belê waar alle leerders toegang tot rekenaars, die internet en ander hulpmiddels het.

Vermeulen sê die departement moet ook slimmer te werk gaan wat assesserings betref.

“Daar moet voorskool al op leerders se vaardighede en ontwikkeling gefokus word – veral leesvaardighede. Daar moet vroeg al met assesserings begin word om kinders wat sukkel te help. Daar moet ook deurgaans meer klem op vaardighede gelê word, sodat kinders vroeër al in hul vaardigheidsveld kan spesialiseer.”

Werk, werk, werk

Maree sê die oplossings is eintlik eenvoudig.

“Daar is oplossings, maar dit gaan harde werk verg.”

Hy verwys na dr. Ngwako Sebopetsa, ʼn skoolhoof van Limpopo wat twee jaar gelede internasionale erkenning ontvang het. Hy is die hoof van Rathaga Primary – ʼn baie arm skool in dié provinsie.

“Sy suksesresep is eenvoudig: Basiese waardes en basiese harde werk. Werk, werk, werk.”

Maree sê die regering moet by mense soos Sebopetsa gaan kers opsteek en ook by funksionele skole om hulp aanklop.

Verder het ouers ook ʼn verantwoordelikheid om in hul kinders te belê.

“Spaar en laat ʼn opgeleide sielkundige jou kind evalueer sodat hy of sy hul potensiaal kan besef en tekortkominge kan identifiseer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Gert ·

Begin by moedertaal onderig vir almal en bou skole en stel onderwysers aan wat omgee vir die kinders en nie net daar is vir die salaris nie.
Kinders wat nie respek en maniere het vir onderwysers en leerders nie moet verban word sodat die wat wil Leer n kans kry om dit te doen.

SwartBees ·

Aaaaargh….Covid, Covid, Covid…..

Covid is al lankal verby maar steeds kry hy die skuld. Wanneer gaan julle die waarheid by die horings pak en erken die anc is die skuldige.

Jaco ·

Ek stem so 100% saam met jou. Alles word op Covid geblameer. Hierdie is nie 3 jaar se probleem nie. Dit is 30 jaar se ANC bewind. Dan sit ons aan die eindde van die dag met klomp 30 persenters in topposte.

Katrina ·

En net daar, sonder doekies omdraai, slaan jy die spyker so sekuur op die kop dat die ‘hout’ eintlik kraak!

Manie ·

Korrek, want dit begin al met papgeld toelae, gevolg deur NSFAS geld wat vir alles behalwe studies aangewend word, gevolg deur werkloosheids toelaes en later van jare Sassa toelaes. Hulle word hul hele lewe lank deur die staat onderhou. dus weet hulle nie van beter nie.

Catherina ·

Toe ek skoolgehou het, het dit my altyd gegrief dat leerders “deurgesit” word vir baie redes

Onnie ·

Intelligente, geskoolde en gegradueerde mense stem nie vir die ANC nie.

Andre ·

…as jy ‘n kader is, hoef jy nie kwalifikasies te hê nie.
As jy papiere moet wys, koop jy dit sommer!

Daizee ·

Dís hoe dit gebeur dat jy iemand in diens neem mét matriek en dan geen idee het hoe ‘n liniaal werk nie!!! Glo my dit het met ons gebeur!!!! ;-)

Rounette ·

Rn wanneer hulle indiens geneem is en dit kom binne die 1ste week deur die persoom beskik NIE oor voldoende kwalifikasie, mag jy hom of haar mos nie afdank nir. Jy moet hom of haar HELP om te leer om die werk te kam doen. En so speel die staat met sy (ons) toekoms…

Wildemien ·

Wel……ek reken ek gaan vir 12 jaar se rapporte vra as deel van die aansoekproses!

Marina ·

Altyd iemand/iets anders se skuld: Jan van Riebeeck, Apartheid en nou Covid! Moedertaal-onderrig is ongelooflik belangrik (veral die eerste drie grade). Maar die wegmaak van Afrikaanse skole is meer belangrik? As die ouers (of enkel ma) nie die belangrikheid van onderwys aan hul kinders oordra nie, veg ons n verlore stryd. Daar is onlangs n studie met betrekking tot die swak Wiskunde uitslae in Baltimore, VSA gedoen. Die gevolgtrekking? Wiskunde is blykbaar rassisties…

Nettie ·

“Die hele stelsel moet herbou word.”
Amen! Nie net vir swart, plattelandse of sukkelende kinders nie. Vir ALMAL.

Skep weer onderwys kolleges, en waar goeie onderwysers opgelei kan word met ‘n diploma, en nie noodwendig ‘n graad nie.
Betaal hulle beter. Halveer hul werkslas.

Verander die hele kurrikulum, die vakke en vakkeuses, ens.
Dis belaglik dat kinders in Gr R al vakke het, of in Gr 1 al debat moet voer of in Gr 2 eksamens skryf! Of speltoetse op 6 jaar oud!! Of 9 vakke op laerskool het of 8 vakke in Hoërskool! Ander lande se matrieks het 5!

Stop al die HORDES take en huiswerk en “projekte”. Julle maak kinders dood hiermee!

Laat kinders NET 5-6 ure skoolgaan. NIKS meer. Grootmense werk net 7 ure ‘n dag, en kry naweke af. Maar kinders moet 12+ ure vir 6-7 dae ‘n dag werk? DIS VERKEERD.

Leer kinders onder ‘n sekere IK of vermoë ‘n ambag van 10 jaar oud af. NIE akademie nie!

Rounette ·

Ek bly in ‘n plattelandse dorpie. Die enigste skool in die dorp wat jare lank al hier gevestig was en blykbaar ‘m baie goeie skool was, jet finansieël swaar gekry. Omdat dit die beter skool in die dorp was, het die armer gemeenskap hul kinders onttrek uit die skool IN hul area en by die beter skool in die dorp ingrskryf. Hoekom? Want die klasse was kleinder EN dit was ‘n beter skool dan die.provinsiale skool BY hulle met oorvol klasse en geen dissipline. Maaar hierdie ouers kon nie skoolgeld betaal. Die skoolfonds was SLEGS R200 per maand by die beter skool. En selfs die R200 p/mnd kon hulle nie betaal nie. Die skool het agteruit gegaan as gevolg van finansiële druk. Die staat het geweier om staatshulp te verleen WANT die skool is in ‘n blanke area geleë. Die staat het die sogenaamde beter skool tot.op sy knieë gedwing en dit net na covid na ‘n provinsiale hoërskool verander. Skielik betaal niemand skoolfonds. Dit pas mos die gemeenskap mos as hulle niks hoof te betaal nie. Die gevolg? Daar was bakkie vragte splinternuwe banke aangery vir die nuwe provinsiale hoërskool wat STEEDS in die kwansuise blanke dorpsgebied geleë is. Splinternuwe gas stowe is aangery. Ons ouers soos ek (wat ‘n weduwee is) met hierdie skool direk agter my huis, moes my kind na ‘n privaatskool 60km van my af neem in die hoop om my kind ‘n beter onderrig in skool te kan geniet. Ek wil vir hom ‘n beter toekoms probeer gee. Want die provinsiale laerskool is oorvol in klasse. Daar is geen dissipline, want die kinders se ouers worry net nie oor hulle nie. My kind se maats wat daar skoolgaan, kry so swaar. Daar word kinders (laerskool onthou) geboelie, fisies. Die kinders het GEEN hanleidings nie. Hulle moet self in hulle werkboeke skryf wat op die bord staan. Ek het geen idee hoe hierdie arme kinders self moet leer vir hierdie eksamen. Ek wou nie eens ky kind kon help om te leer as hy in daardienskool was nie. Die hoërskool agter my, word verniel deur die kinders wat geen respek en dissipline het nie. Ek moes my kind ten einde van die privaatskool onttrek omrede ek die brandstof vir elke dag se 120km nie meer kon by bring sowel as die.skoolgeld. ek is verplig om my kind te homeschool. Ons naaste ander skool is ook 60 km van ons af en die ouers word basies gedwimg om hul kinders im die koshuis te laat bly. Dit is eenvoudig hardroerend hoe ons kinders, die land se toekoms, als met ‘n lepel gevoer word. ”Ag moenie worry nie, moenie baie moeite doen om te leer nie, jy sal elk geval deur gehelp word” Watter verantwoordelikheid word die jeug en die land se toekomstige leier geleer? Die staat laat ons ALMAL in die steek, oms almal!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.