Parlement moet ‘loslippige’ Cele oor verkrag-opmerking ondersoek

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Die DA vra die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange om Bheki Cele, minister van polisie, te ondersoek vir sy opmerking dat ʼn verkragtingslagoffer “gelukkig was” om net deur een man verkrag te word.

Cele het ná die opspraakwekkende Krugersdorp-verkragtings in ʼn onderhoud met eNCA gesê verskeie van die vroue is etlike kere verkrag en “die een 19-jarige was gelukkig, as dit as gelukkig beskou kan word, om deur een man verkrag te word”.

Die verkragting verlede maand het plaasgevind toe ʼn groep van 12 vroue, onder wie sangeresse, modelle, aanbieders en ʼn grimeerkunstenaar en tien mans besig was met die verfilming van ʼn musiekvideo in West Village, naby Krugersdorp, toe hulle oorval is deur ʼn groep gewapende mans wat in komberse geklee was.

Sommige van die vroue is verkrag en die groep is beroof.

Cele se opmerking het ʼn herrie ontketen en die DA sê ʼn week nadat hy die gewraakte uitlating gemaak het, het die minister nog nie verskoning daarvoor gevra nie. Pres. Cyril Ramaphosa het steeds ook nie sy “loslippige” minister berispe nie.

“Ons glo Cele se ‘gelukkig om nie verkrag te word nie’-opmerking is absoluut onaanvaarbaar en gevaarlik. Dit versterk ʼn kultuur om vroulike verkragtingslagoffers te blameer of die skuld tussen hulle te verdeel en impliseer dat daar ʼn soort dankbaarheid veronderstel word by vroue wat Suid-Afrika se verkragtingspandemie – wat buite beheer is – vryspring,” sê Nazley Sharif, die DA se woordvoerder oor vroue, die jeug en mense met gestremdhede.

Die DA sê die opermerking is net nog ʼn bewys van Cele se ongeskiktheid vir die pos van minister van polisie.

“Dit is so in teenstelling met sy ampseed as parlementslid, so ʼn skandelike uitlating vir ʼn minister en ʼn skadelike siening vir die samelewing, dat dit ʼn parlementêre ondersoek deur die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange regverdig,” sê Sharif.

Die DA vra dat Cele ondersoek word vir die verbreking van sy ampseed en die gedragskodes wat op hom van toepassing is.

“Ons gee nog ʼn keer vir pres. Ramaphosa die geleentheid om min. Cele te veroordeel en te betig en selfs beter, om hom eens en vir altyd die trekpas te gee sodat die polisie van sy mislukkings gered kan word.”

Die tientalle mans, vermoedelik onwettige mynwerkers, wat ná die aanval aangekeer is, verskyn na verwagting Maandag weer in die landdroshof. Tot dusver is nie enige van hulle egter nog met die verkragtings verbind nie.

Die polisie het sedertdien verskeie operasies in die gebied uitgevoer in ʼn poging om stabiliteit in die gebied te verseker. Talle gemeenskappe in die omgewing het ook op hul eie na die onwettige mynwerkers, bekend as zama-zamas, begin soek en onder meer huise afgebrand waar misdadigers glo skuil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Di ·

Ons gaan nooit ontslae raak van die ou fossiel nie! Die hele korrupte spul ANC kaders beskerm mekaar want elkeen het ‘n geraamte in die kas waarvan die ander weet

wendy ·

Hy is n verleentheid vir SA as hy in n hoek gedryf word skree hy sharrup sharrup

Perdeby ·

Wat Cele eintlik bedoel het, was dat die spesifieke dame gelukkig was dat sy nie soos die ander meisies deur meer as 1 verkrag was nie. Die DA ruk nou weer alles uitverband.

Daleen ·

Geen regdenkende mens noem verkrag en gelukkig in een sin nie!!!

sopbeen ·

Dit is so vir my en jou se siening, maar nie dieselfde betekenis vir die res van “our people” nie.

JohanR ·

Agh niks sal gebeure nie. Ramaphosa het hom nodig vir ‘n tweede termyn maak nie saak hoe useless hy is nie. Hoop hy kom nie terug as Ramaphosa ‘n tweede termyn kry nie. Kan rerig nie nog 5 jaar van die ou vat nie!

Republikein in die Wes Kaap ·

Cele het die vermoë om die verkeerde ding op die verkeerde tyd te sê. Hy moet net minder praat.

Martie Smartie ·

Cele = stemme in KZN. Kan nie lelik raak met hom nie

Frikkels ·

Daar is te veel ondersoeke aan die gang. As iemand iets gesê het, het hy dit gesê en klaar. Wat moet nou ondersoek word? Skop hom onder sy jack en kry die regte bekwame persoon in sy pos. Cele kort in elk geval oranje klere waarvan hy nooit ontslae moet raak nie tot die dag van sy dood.so kan die talle kaders en ou ramkat en zoempie hom ook maar volg!

Pieter ·

Die ou se IQ begin met n komma, maar kyk waar sit hy. Hy is totaal en al onbevoegt om enigsins n werk te he

Mariana ·

Wat is daar nou wat ondersoek moet word? Hy het dit gesê en dis dit. Ons almal weet hy is nie sy pos waardig nie, nes die res van die ministers. Die komitees en ondersoeke en wat nog lewer in elk geval nooit iets op nie. Al die bewyse is daar, maar nooit word iets gedoen om skuldiges aan die kaak te stel nie. So wat is die punt dan?

Hendrik ·

As gevolg van faksiegevegte binne die anc het sake so versuur dat die zoeloe cele moet behou word in kwz natal. Vir Ramapohsa is die anc belangriker as die welsyn van die land

miche ·

Stem volhartig saam met jou, Grens. Homself verkeerd uitgedruk.

Miena ·

Nou waar vra ek jou is die ANC se Vroueliga? Hoekom sing en dans hulle nie hieroor nie?

Leon ·

DA streef dubbele standaarde. Baie ongelukkig oor Cele se stelling (almal weet wat hy regtig bedoel het), maar hul rep nie n woord oor Tania Campbell se stelling dat sy die geweld aan die Oos Rand “condone” in pleks van “condemm” nie. Regverdig is regverdig .

Hercules ·

Niemand is sover verbind nie ? Gaan seker ook nie gebeur nie want DNS toetse is hoe ver agter Mr Hoed?

Swerwer ·

Loslippige Cele moet ondmiddelik uit sy pos ontslaan word en van die Staatsdiens/Regering geskrap word. Maar nee die Kommuniste staan mos saam, kyk hoeveel mense se lewens hul kan vat en verwoes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.