Parys hou asem op vir nog vloede

Vloede in Parys. (Foto: Shiraaz Mohamed / AFP)

Hoewel die vlak van die Vaalrivier die afgelope week begin sak het ná onlangse oorstromings in Noordwes en die Vrystaat, is inwoners wat langs dié rivier woon bekommerd dat die watervlak dalk weer kan styg en oorstromings opnuut verwoesting kan saai.

Hulle meen boonop die oorstromings kon voorkom word indien die departement van water en sanitasie beter beplan het.

“Al wat ons nou kan doen is wag en kyk wat die rivier maak. Ons lewens kan nog nie terugkeer na normaal nie,” het Karen Addison van Parys, Vrystaat, gesê, wie se huis onder water is nadat die Vaalrivier verlede naweek afgekom het.

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die Parys-omgewing het die afgelope paar dae sonskynweer gehad, wat help dat die vlak van die water vinniger sak, maar nóg reën word vir die volgende twee maande voorspel.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se seisoenale weervoorspelling word bogemiddelde reënval nog tot Mei in somerreënvalstreke voorspel – wat die dele langs die Vaalrivier in Noordwes en die Vrystaat insluit.

ʼn Geoloog van Clarens in die Vrystaat, dr. Gideon Groenewald, voorspel dat die Vaaldam “nog ʼn paar keer” kan oorloop, veral in die lig van verwagte reënval en met dié dat die sikloonseisoen nou begin. Hy dink wel nie die tropiese sikloon Freddy, wat Mosambiek Vrydag tref, gaan ʼn impak op die Vaaldam en sy opvangsgebiede hê nie, “maar dan kom die volgende sikloon. Ek sien nog baie water kom, met nog ses siklone wat ons moontlik kan tref”.

Daarom, sê hy, moet inwoners op hul hoede wees en nou al beplan vir die volgende oorstroming.

Volgens voorspellings gaan die Laeveld van Mpumalanga, die Vhembe- en Mopani-distrik in Limpopo, asook die Capricorn-distrik en die Zoeloeland-streek in KwaZulu-Natal die naweek direk die impak van Freddy voel.

Dié provinsies kan swaar reënval van tussen 200 mm en 400 mm verwag sowel as stormsterk winde van tussen 150 km/h en 180 km/h.

Was vloede mensgemaak?

Judith van Niekerk se tuin is onder water (Foto: Verskaf)

Inwoners langs die Vaalrivier is vies dat 12 sluise in die Vaaldam verlede Saterdag so kort na mekaar oopgemaak is en dat die Barrage se sluise nie betyds oopgemaak is nie.

Van die inwoners het aan Maroela Media gesê hulle glo die vloed kon met beter beplanning deur die departement van waterwese en sanitasie verhoed word. Party inwoners meen ook hulle is nie betyds gewaarsku nie.

Groenewald meen egter die vloede was nie mensgemaak nie.

“Die departement het geen ander keuse gehad as om die sluise oop te maak nie want die Vaaldam was reeds oorvol en sou breek met die water wat met ʼn spoed aangekom het,” sê hy.

“Om vloedwater te bestuur is wel ʼn menslike ingryping en mense kan foute maak, maar in hierdie geval het die departement gedoen wat hulle kon.”

Die water van die Vaaldam is onderweg na ander damme, soos die Bloemhofdam, vanwaar dit afstroom na die Oranjerivier en dan opeindig in die Atlantiese Oseaan, 1 400 km verder.

Judith van Niekerk moes haar huis op die nippertjie ontruim toe water na die voordeur gestroom het (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Volgens Groenewald moet die departement nou die water wat van die Vaaldam na die Bloemhofdam vloei, slim bestuur om verdere oorstromings te verhoed.

“Die Bloemhofdam se sluise moet betyds oopgemaak word.”

Carina Serfontein, DA-raadslid van die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit, wat Parys bedien, sê die vloede kan nie voor die departement van waterwese en sanitasie se deur gelê word nie, dit is bloot ʼn natuurlik ramp.

“Al die riviere en damme in die noordooste van die land is vol en die grond is versadig weens aanhoudende en swaar reënval wat van die begin van die somer uitgesak het. Die Vaaldam was reeds aan die begin van die reënseisoen vol,” sê sy.

Serfontein verduidelik die onbeheerde water van oorvol riviere en spruite – wat in die Vaaldam inloop – het ook ʼn invloed gehad dat vanjaar se vloede “erger voorkom”, al was meer sluise destyds oopgemaak.

Volgens Serfontein is ʼn gesamentlike bedryfskomitee (JOC) in Parys op die been gebring om die Vaalrivier se vlakke dop te hou en inligting aan die publiek deur te gee.

Die brug in Parys wat na die Val de Grace-landgoed lei. (Foto: Shiraaz Mohamed / AFP)

“Die inwoners sien nie altyd wat agter die skerms gebeur ten opsigte van beplanning nie. Op die ou end is die natuur ook onvoorspelbaar en kan jou beplanning ook net so ver gaan.”

Volgens Groenewald is dit ook onvermydelik om langs ʼn rivier te woon en nie ʼn oorstroming te ervaar nie.

“Die plek waar jy woon se naam – byvoorbeeld Deelpan of Vogelvlei – vertel vir jou dat jy een of ander tyd sal swem. Kyk na die plek se geskiedenis, praat met die mense wat al jare lank daar woon en kyk na die klippe. Beplan dan eerder hoe jy gaan swem as hoe jy die water gaan keer, want dit is onmoontlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Amelia ·

Jare gelede was daar n vakansie oord met naam van Abrahams rus weet nie of nog bestaan nie Kry mense van Parys jammer eers water wat lyk of drein water is nou oorstromings Nooit sulke probleme gewees nie ja daar was ook oorstromings maar dink mense voor die tyd ingelig as sluise oop gemaak word dink laas was dit in 1975 wat dit ook erg oorstroom het

Phillip ·

Water wind en vuur het n mens geen beheer oor nie die 3 Elemente wat niks aan gedoen kan wort nie . As dit kom kom dit in krag en volmag

Stofdonkie ·

Dis nou ‘n klomp snert wat hier gepraat is. Die Vaaldam se vlakke word te hoog gehou en dan is daar nie spasie in die dam dat hulle kan vloeibeheer toepas nie. Die probleem is dat sluise vroeër al oopgemaak moes word sodat die dam nie vol word dat hulle 12 sluise gelyk hoef oop te maak nie. Die departement wil die damme bestuur soos reservoirs en dis vir hulle tog te mooi as die damme vol is, probleem is dat een goeie bui reen dan die dam oorvol maak en hulle moet dan te vinnig te veel sluise oopmaak.

annie ·

Krisisbestuur is al wat die ANC aanhoudend probeer doen… Soos ‘n martelaar wat maak of iets nog nooit gebeur het nie en hy nou uitgered of gepledge moet word uit ‘n onregverdige situasie. Vloedlyne is ‘n totaal onbekende (eintlik onnodige) faktor vir hulle en sal ná die reënseisoen weer geïgnoreer word tot die volgende ramp. Totdat die Vaaldam se wal eers meegee sal die kundiges hul eie koppe volg (wat ‘n tragedie sal afgee), want hulle is mos slim gebore alwetende ingenieurs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.