SA in tropiese storm se baan

Argieffoto (Foto: Megan Swart, Maroela Media)

Die tropiese storm Freddy wat tans in Madagaskar woed, kan dalk teen Donderdag, op pad na Mosambiek, tot ʼn tropiese sikloon versterk.

Die verwagte versterking sal waarskynlik teen Saterdag verwoestende weerstoestande aan die noordooste van Suid-Afrika tot gevolg hê. Swaar reënval van meer as 200 mm, asook stormsterk winde word in van die provinsies verwag.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê die tropiese storm het Dinsdagaand drasties verswak voordat dit die oostelike dele van Madagaskar getref het.

“Freddy het verswak weens die rowwe terrein wat dit teëgekom het en is gedurende die aand [Dinsdag] afgegradeer na ʼn matige storm,” sê Wayne Venter, weervoorspeller verbonde aan die weerdiens.

Storms soos dié verswak dikwels wanneer dit landgebiede tref en afgesny word van die energiebron. Dit versterk egter weer wanneer dit oor watermassas beweeg.

Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) se streeksgespesialiseerde meteorologiese sentrum (RSMC) voorspel dat die storm oor die volgende paar dae in die Mosambiekse kanaal sal inbeweeg, waarna dit tot ʼn tropiese sikloon kan versterk.

Die storm behoort teen Vrydagoggend noord van die kusdorp Vilankulos in Mosambiek te tref.

SA ook in tropiese storm se baan

Die weerdiens maan dat Suid-Afrika vandeesweek geraak kan word deur die storm en dat sekere provinsies hulle moet staal vir verwoestende reën.

“Freddy sal na verwagting ʼn uitwerking op die noordoostelike dele van Suid-Afrika hê en van vroeg Saterdag tot Maandag reën in die Laeveld en die platorand van Limpopo en Mpumalanga veroorsaak,” sê Venter.

“Dit is omdat die weerstelsel vir ʼn paar dae gedeeltelik stilstaande en onveranderd gaan wees.”

Swaar reënval van tussen 200 mm en 400 mm word in dié twee provinsies verwag.

Die Vhembe- en Mopani-distriksmunisipaliteit in Limpopo gaan veral deur die reën geraak word. Dié munisipaliteit bedien onderskeidelik gebiede soos Musina en Louis Trichardt, asook Tzaneen en ʼn deel van die Krugerwildtuin.

Die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga, wat Mbombela en ʼn groter deel van die Krugerwildtuin bedien, sal minder reën kry in vergelyking met Limpopo.

“In die lig van die onlangse oorstromings in Limpopo en Mpumalanga kan nog reënval ʼn katastrofiese uitwerking hê.”

Hoewel nie soveel reën oor ander gebiede in die noordooste van die land verwag word nie, maan die weerdiens inwoners van Capricorn in Limpopo, asook diegene in Umkhanyakude, Zoeloeland en Amajuba in KwaZulu-Natal om ekstra waaksaam te wees “aangesien die situasie skielik kan vererger weens die onlangse oorstromings in hierdie gebiede”.

Benewens die verwagte stormbuie sal Freddy ook van Vrydagaand af sterk winde met ʼn gemiddelde snelheid van sowat 45 km/h in die noordoostelike dele van die land veroorsaak.

Die weerdiens monitor voortdurend die storm en sal enige veranderinge daaraan so gou moontlik aan lede van die publiek bekendmaak.

Die verwagte reënval (in mm) Saterdag. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Natuur kan nie beheer word nie. Net een MAN kan besluit oor die natuur.

Koen ·

En as hy dit nie wegwys nie, is dit sy wil. (Ek moes my kinderkrans antwoorde raadpleeg vir die een). Ons het antwoorde vir alles. Amazing.

Truman Burbank ·

Sorry Dom Heks. Die natuur word al laaaankal gemanipuleer.

Wielspore ·

Ons is reg vir die reen, die 4 sitplek kano is skoongemaak en staan onder die afdak, my skoonma het aangebied om agter te bly en die huis op te pas.
Op ‘n ernstige noot, gedurende Sikloon Demonia het ek gesien hou 75mm reen in 15minute val en alle bogrond en plante in die woongebied wegspoel.
Wees voorbereid.

Truman Burbank ·

Ek was op hoërskool in Richards Baai toe Demoina getref het. Onthou nog soos gister

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.