Tropiese storm kan ook SA raak

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Tropiese storm wat die afgelope week oor die Indiese Oseaan woed, is nou op pad na Mauritius en sal na verwagting ook vandeesweek Madagaskar bereik.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku dat die intense storm dalk ook Suid-Afrika kan raak en verdere skade aan vloedgeteisterde gebiede veroorsaak.

Volgens Kevin Rae, ʼn weervoorspeller verbonde aan die SAWD, is die tropiese storm Freddy tans sowat 400 km noordoos van Mauritius.

“Dit sal na verwagting relatief naby aan die eilande van Mauritius en La Reunion verbygaan soos wat dit verder weswaarts beweeg,” sê hy.

Die storm beweeg byna parallel met die ewenaar en sal na verwagting teen Dinsdagaand aan die ooskus van Madagaskar te voorskyn kom.

“Hoewel daar nog ʼn mate van onsekerheid is oor waar die storm presies in Madagaskar gaan verskyn, voorspel die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) se streeksgespesialiseerde meteorologiese sentrum (RSMC) dat dit tussen die kusdorpies van Mahonoro en Mananjary sal wees.”

Die verwagte koers wat tropiese storm Freddy gaan inslaan. (Foto: Verskaf)

Hoewel die intensiteit van hierdie soort storms normaalweg verminder – in terme van sentrale druk en windsirkulasie – soos wat dit oor land beweeg, verwag weervoorspellers dat die storm teen Woensdag en Donderdag ʼn gevaarlike en onvoorspelbare fase van sy lewensiklus sal bereik.

“In hierdie tyd sal die storm na verwagting in die warm oseaan beweeg na die suidelike deel van die Mosambiekse kanaal,” sê Rae.

“Tans is die oppervlaktemperatuur van hierdie deel van die kanaal tussen 28 °C en 29 °C wat tot ʼn herlewing van Freddy sal lei. Die omvang van hierdie herlewing sal soortgelyk wees aan die tropiese storm Cheneso, wat dieselfde gebied skaars ʼn maand gelede getref het.”

Volgens die huidige weermodel, wat deur die Europese Sentrum vir Mediumtermyn-weervoorspellings (ECMWF) uitgereik is, sal Freddy na verwagting nie van sy huidige suidwestelike koers afwyk nie.

Tog is daar ʼn mate van onsekerheid wanneer dit kom by dié soort storms, daarom is dit moontlik dat Freddy dalk nog oor Mosambiek kan beweeg. Die relatiwiteit hiervan is egter onseker. Indien dit wel gebeur, sal dit teen Vrydag die kusdorp Beira bereik.

“Daar is ook ʼn moontlikheid dat Freddy verder na die binneland sal beweeg en die ooste van Zimbabwe en dalk die noordoostelike dele van Limpopo tref,” sê Rae.

“In hierdie geval sal selfs die verswakte, verkwynende oorblyfsels van Freddy steeds die vermoë hê om tot swaar reënval asook uitgebreide oorstromings te lei.

“In die lig van die onlangse maar onverwante oorstromings in Limpopo en Mpumalanga kan verdere oorstromings die potensiaal tot ʼn katastrofiese uitwerking hê.”

Tropiese storm Freddy se moontlike bewegings vir die res van die week. (Foto: Verskaf)

Freddy is ʼn relatiewe kompakte maar nietemin intense stelsel, met ʼn sentrale druk wat minstens 939 hPa (hektopascal) is en gemiddelde windsnelhede van 200 km/h.

Die weerdiens waarsku dat die maksimum windspoed van hierdie storm waarskynlik sterker sal wees en eerder sowat 285 km/h sal bereik.

“Gegewe die kompakte struktuur van die storm sal die ergste winde slegs binne ʼn radius van 200 km van die stelsel ervaar word,” sê Rae.

Die weerdiens monitor voortdurend die storm en sal enige veranderinge daaraan so gou moontlik aan lede van die publiek bekendmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ES ·

Turkye skud, die suidkus en die rand spoel weg. Siklone. Moeder aarde is keelvol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.