President antwoord OB oor Phala Phala

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: studgamebreeders.co.za)

Die kantoor van die Openbare Beskermer het Vrydag bevestig dat pres. Cyril Ramaphosa sy terugvoer in verband met die Phala Phala-insident aan die OB verskaf het.

“Ons sal geen onderhoude toestaan of enigiets meer sê nie anders as om te bevestig dat hy gereageer het,” het Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB, gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat die waarnemende OB, adv. Kholeka Gcaleka, aangedui het dat sy haar dagvaardingsbevoegdhede sal gebruik nadat Ramaphosa versuim het om sy terugvoer teen 18 Julie aan die OB te stuur en in stede vir ʼn tweede keer verdere uitstel gevra het.

Segalwe het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat Ramaphosa ʼn kennisgewing ontvang het om binne sewe dae te reageer voordat ʼn dagvaarding op hom beteken word. Sy reaksie is Vrydag binne dié sewe dae ontvang.

Ramaphosa word daarvan beskuldig dat hy ʼn inbraak in 2020 op sy wildsplaas Phala Phala in Limpopo, waar diewe na bewering $4 miljoen gesteel het, probeer geheim hou het.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het verlede week ʼn formele verklaring van die president van die African Transformation Movement (ATM) afgeneem na aanleiding van ʼn klag oor die polisie se hantering van die beweerde diefstal by Phala Phala.

Benewens die OB het die Valke reeds ondersoeke in dié verband van stapel gestuur. Die OB se kantoor het altesame vier klagte oor die voorval ontvang, waarvan die ATM een ingedien het. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Waarnemer ·

En soos gewoonlik word dit onder die mat gevee…tipies A en C taktiek.

Saartjievandiebosveld ·

Is ons veronderstel om dit the Glo…rerig…né ????

M ·

VUIL wasgoed wat nou uitpeul !! Ga, sies, vieslik en ontnugterend …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.