Protokol, planne ná afsterwe van koningin

Koningin Elizabeth II (Foto: @RoyalFamily/Twitter)

Die ganse wêreld is in rou gedompel ná die afsterwe van koningin Elizabeth II Donderdag in Balmoral, Skotland.

“Die koningin is vanmiddag vreedsaam oorlede by Balmoral. Die koning en koningin gemalin sal vanaand by Balmoral bly en môre terugkeer na Londen,” het die koninklike familie in ʼn kort verklaring gesê.

Sy het vroeër vanjaar die eerste Britse monarg geword om sewe dekades lank te regeer. Dié buitengewone mylpaal is in vreugdevolle luim tydens haar platinum-jubileum in Brittanje gevier, met onder meer militêre parades, straatpartytjies en ʼn popkonsert buite Buckingham-paleis.

Nou, skaars ʼn paar maande later, heers daar ʼn somber atmosfeer in Brittanje sedert die geliefde 96-jarige koningin, ma en ouma, se afsterwe. Die brandende vraag op almal se lippe is: Wat gebeur volgende?

Operation London Bridge

Mense het Donderdag buite die Buckingham-paleis in die reën begin saamdrom nadat nuus van koningin Elizabeth II se swak gesondheid aan die lig gekom het. (Foto: Daniel Leal/AFP)

ʼn Omvattende plan van aksie genaamd Operation London Bridge is reeds in die 1960’s in plek gestel vir die dag wanneer die koningin tot sterwe sou kom. Dié plan tree onmiddellik ná haar dood in werking.

Die 96-jarige staatshoof, en Brittanje se langsdienende monarg, is kort voor haar dood aanbeveel om onder mediese toesig te bly.

Voorbereiding vir die hantering van die afsterwe van ʼn staatshoof, veral wat betref reëlings om sleutelfigure en die publiek in kennis te stel, moet versigtig vooraf beplan word.

In die ure ná die koningin se dood het ʼn sogenaamde “call cascade” plaasgevind, waartydens die Britse eerste minister, Liz Truss, daarvan ingelig is. Daarna is die kabinet-sekretaris – Brittanje se hoogsgeplaasde staatsamptenaar – en ʼn aantal van die mees senior ministers en beamptes in kennis gestel.

Die eerste minister word deur die koningin se privaat-sekretaris ingelig, wat ook die nuus aan die Privy Council Office, wat namens die monarg regeringsdienste koördineer, oordra.

Die koninklike huishouding het ʼn amptelike kennisgewing geplaas om die nuus aan die publiek bekend te maak.

Die koninklike familie se webwerf is na ʼn swart houbladsy, met ʼn kort verklaring wat die koningin se dood bevestig, verander.

Mense het Donderdag buite die Buckingham-paleis in die reën begin saamdrom nadat nuus van koningin Elizabeth II se swak gesondheid aan die lig gekom het. (Foto: Daniel Leal/AFP)

Ministers en senior staatsamptenare het ʼn spesifieke e-pos ontvang, en alle vlae reg oor Brittanje hang halfstok.

Die koninklike familie sal binnekort die planne vir die koningin se begrafnis aankondig, wat na verwagting sowat tien dae ná haar dood sal plaasvind.

Die eerste minister sal binnekort in gesprek tree met die nuwe koning, en koning Charles sal ook na verwagting binnekort ʼn regstreekse toespraak aan die nasie lewer.

Omdat die koningin in Balmoral gesterf het, tree Operation Unicorn in werking. Dit beteken dat haar liggaam per trein na Londen geneem word. Indien dit nie moontlik is nie, sal Operation Overstudy in werking tree, wat beteken haar liggaam word per lugvaart vervoer. Die eerste minister en ministers sal die kis begroet.

Die verwagting is dat ’n rouperiode van tussen 10 en 12 dae in Brittanje afgekondig sal word. Die dag van die koningin se begrafnis en prins Charles se kroning sal vrywillige openbare vakansiedae wees.

Begrafnis

Die staatsbegrafnis sal sowat tien dae ná haar dood by die Westminster-abdy plaasvind. Daar sal deur die loop van die middag ʼn oomblik van stilte vir twee minute gehou word.

Optogte sal in Londen en Windsor plaasvind en daar sal ʼn toewydingsdiens in die St. George’s-kapel by die Windsor-kasteel gehou word.

Die koningin sal in die kasteel se King George VI Memorial-kapel begrawe word.

Wanneer sal koning Charles die troon bestyg?

Prins Charles op Woensdag 7 September 2022 in Skotland. (Foto: Jane Barlow/POOL/AFP)

Die Accession Coucil ontmoet Vrydag by die St. James’-paleis om prins Charles om 11:00 as die nuwe soewerein aan te kondig.

Honderde mense sal die geleentheid bywoon, insluitend die eerste minister en senior ministers. Om 15:30, soos in die dokumente van Operation London Bridge bepaal word, sal die kabinet en die eerste minister met koning Charles in gesprek tree.

Hy sal op die derde dag ná sy ma se dood ʼn mosie van vertroue ontvang in die Westminster Hall, waarna hy ʼn toer van Brittanje sal onderneem. Sy eerste plig sal wees om die Skotse parlement te besoek. Hy sal ook Noord-Ierland besoek om sy tweede mosie van vertroue by die Hillsborough-kasteel te ontvang.

Charles sal dan na Wallis reis en ʼn diens by Llandaff-katedraal in Cardiff bywoon.

Charles se titel het dadelik verander na koning en Camilla, die hertogin van Cornwall, staan ook dadelik as koningin gemalin bekend. William, die hertog van Cambridge, sal nou waarskynlik as die prins van Wallis bekendstaan.

Bykomende bronne: Independent.co.uk, Politico, Elle.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Realis Thailand ·

Wat n lang en getroue diens aan haar land tot amper die laaste dag
Mag sy in vrede rus

Waarom ·

Ganse wêreld rou. Media propaganda aangesien biljoene mense nie ‘n flenter omgee oor die Engelse monargie en koninglikes nie.

Tersie ·

Sy was een merkwaardige dame. Wat haar land tot aan haar einde gedien het. Mag sy in vrede rus. Koningin Elizabeth.

Troskie ·

“Die ganse wêreld is in rou gedompel ná die afsterwe van koningin Elizabeth II Donderdag in Balmoral, Skotland.” Liewe hemel Leonie – hoe het jy DIT vasgestel?

Troskie ·

En “Die brandende vraag op almal se lippe is: Wat gebeur volgende?” Wie gee om?

Delia ·

Nee kaplyn. Trotskie sê net dat hy nie omgee wat gebeur volgende nie. Hy het niks gepraat van EFF. Dis nie te sê as jy anti- monarhie is, dat jy pro- EFF is nie

Karina ·

Toe ek hoor dat Prince Chales en William het na Balmoral gehaas, het ek geweet sy moet op haar laaste wees. RIV Koninging Elizabet II, sterkte aan al die familielede. Mense oor die wêreld is in rou gedompel. Sy was ‘n ware Koninging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.