Koningin tans ‘gemaklik’, maar dokters steeds besorg

Koningin Elizabeth II kort voor haar ontmoeting met die nuwe Britse premier vandeesweek. (Foto: The Royal Family/Twitter)

*Die koninklike familie het Donderdagaand bevestig koningin Elizabeth II is oorlede. Klik hier om meer te lees.

Vrese het Donderdagmiddag oor koningin Elizabeth II se gesondheid toegeneem nadat Buckingham-paleis in ʼn hoogs ongewone verklaring gesê het dat die monarg se dokters tans “besorg” is oor haar toestand.

Die 96-jarige staatshoof, en Brittanje se langsdienende monarg, is ook aanbeveel om onder mediese toesig te bly.

Die koningin word sedert Oktober verlede jaar deur gesondheidsprobleme geteister wat haar mobiliteit aantas. Sy het gevolglik talle geleenthede die afgelope jaar, waaronder dié van haar platinum-jubileum, misgeloop.

Maroela Media het vroeër berig dat die staatshoof in Februarie vanjaar ook positief vir die koronavirus getoets het – twee weke ná sy 70 jaar op die troon gevier het, wat toe al kommer oor haar gesondheid laat ontstaan het.

Sy het haar Woensdag aan ’n beplande vergadering met haar senior politieke raadgewers onttrek nadat sy gemaan is om te rus.

Meghan en Harry tydens ‘n onlangse geleentheid in die Verenigde Koninkryk. (Foto: Oli Scarff)

“Ná verdere evaluering vanoggend is die koningin se dokters bekommerd oor haar majesteit se gesondheid en het hulle aanbeveel dat sy onder mediese toesig bly,” lui Buckingham-paleis se verklaring.

“Die koningin is wel gemaklik en steeds by Balmoral,” het hulle bygevoeg.

Sy het Dinsdag egter die uittredende Britse premier, Boris Johnson, en sy opvolger, Liz Truss, by haar Skotse woning, Balmoral, ontvang om Truss in te huldig.

Dié ontmoeting was buitengewoon aangesien die sogenaamde “soen van die hande”-seremonie gewoonlik by Buckingham-paleis, nie ver van Downingstraat nie, in Londen plaasvind.

Die laaste seremonie van dié aard om buite die Britse hoofstad plaas te vind was in 1952 toe Winston Churchill koningin Elizabeth by die Heathrow-lughawe ontmoet het ná die dood van haar pa, koning George VI.

Die koningin se oudste seun en erfgenaam, prins Charles (73), en sy oudste seun, prins William (40), is op pad na Skotland, aldus hul Clarence House- en Kensington-paleis-kantore.

Luidens mediaberigte is prins Harry en sy vrou, Meghan Markle, óók op pad na haar toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Cherokee ·

Interessant dt julle van mev Windsor as ‘die staatshoof’ skryf. Sy is slegs seremoniële staatshoof, maar nie regtig baas van die plaas nie. Waardige ou tannie. Hopelik verbeter haar gesondheid.

Antie Sarie ·

Sy het meer mag as wat jy dink. Staatshoofde buig voor haar. En nie uit respek nie.

Cherokee ·

Antie Sarie, klink asof jy nie weet dat Margaret Thatcher geweier het om ‘n buiging voor haar te maak. Wat myself aanbetref, ek buig voor geen mens maar slegs voor die Koning van die konings.

piet ·

Sy het die mag om besluite van die parlement te veto maar sal dit nie doen nie want dis nie tradisie nie. Sy het egter daai mag en bevoegdheid. Die Eerste Minister en lede van die parlement vergader ook so nou en dan met haar net om te hoor wat haar siening is oor sekere goed alhoewel dit meer ‘n hoflikheids besoek sal wees want sy sal nie besluite van die parlement omkeer nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Mens kan net hoop die monargie kom nou tot ‘n einde. Skotland en Noord Ierland moet onafhanklik word.

Samuel ·

Ek het baie respek vir die Britse monargie. Mens kan die koningin net alles van die beste toewens. Ek wonder eerlik oor Harry en Meghan se motiewe vir hulle besoek aan die koningin.

Antie Sarie ·

Vra haar. Ek is seker sy is bewus van jou respek. :-)

Cherokee ·

Sy het nooit verskoning gevra vir die Britse poging tot volksmoord op die Boere. Ek hoop haar ook alles van die beste toe.

yahneh ·

“Ek wonder eerlik oor Harry en Meghan se motiewe vir hulle besoek aan die koningin.”

Dit is sy ouma.

Marthinus W ·

As jy hoor “London Bridge is down”, dan het dit gebeur.

Hendrik Marthinus ·

Kan net nie dit regkry om te Dink, Prince Charles is die nuwe Koning nie
Wat Nog om te Dink sy houvrou, Prinses Camila
Nee wat as die ou tannie Dan sterwe, stop Dan met die blou tong dinge
Hulle eet net geld en vir wat, gee die geld vir arm mense

Marthinus W ·

Nederland se monargie is die duurste. Tegnies gesproke is die Britse monargie die duurste, maar die Queen en Charles betaal (vrywilliglik) belasting, sy verdien n inkomste uit toere deur die Paleis, en die familie het glo oliebelange. En haar seelversameling is glo fantasties. Charles boer met organiese groente en vrugte wat n redelike inkomste skep.

piet ·

Dit moet ernstig wees, hulle sal nie sommer so ‘n verklaring uitreik nie. Berei solank die volk voor. Charles moet maar begin opwarm.

Delia ·

Sy moes lankal afgetree het en die ou Monargie met hulle klater en goud is lankal uitgedien.

Faraway ·

Syt n bevoorregte goeie lewe gehad . . . 96 is genade! Anderkant die jordaan is jy niks want elke knie SAL buig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.