SA-snuffelhonde van onskatbare waarde in Turkye

Lede van die soek-en-reddingspan en drie van die snuffelhonde wat van Suid-Afrika na Turkye gereis het om slagoffers by te staan. (Foto: Verskaf)

Die vyf snuffelhonde wat ʼn span van 44 Suid-Afrikaners na Turkye vergesel het, het nie net gehelp om slagoffers te red nie, maar ook emosionele bystand aan die span gebied wat elke dag hartverskeurende omstandighede moes aanskou.

So het Ahmed Bham, hoof van Gift of the Givers se soek-en-reddingspan in Turkye, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Die groep Suid-Afrikaners, wat onder andere uit lede van die Suid-Afrikaanse polisiediens en dié noodledigingsorganisasie bestaan, is tans op pad terug huis toe nadat hulle die afgelope week hulp aan slagoffers in Turkye gebied het. Dié land is verlede week deur ʼn massiewe aardbewing getref. Vyf K9-honde, Donna, Optimus, Aida, Rio en Jaro, was ook deel van die span.

“Niks kan jou op die trauma voorberei wat ons daar gesien en ervaar het nie. Ons het die foto’s gesien en verwag dat dit erg gaan wees, maar dit het ons verwagtinge oortref,” het Bham oor die verwoesting in dié land gesê.

Lede van die K9-soek-en-reddingspan wat van Suid-Afrika na Turkye gereis het om slagoffers by te staan. (Foto: Verskaf)

“Soveel mense het alles verloor. In sommige gevalle is generasies uitgewis. Stel jou voor jy gaan slaap en as jy wakker word, is jou geliefdes almal weg.”

Bham sê die span word natuurlik ook aan trauma blootgestel, maar hulle het elke dag oor al die gebeure gesels en ook ʼn berader op die toneel gehad.

“As Suid-Afrikaners is ons gelukkig baie aanpasbaar. Ons is ʼn span en het mekaar gemotiveer.”

Wat egter baie vir die moreel onder die span gehelp het, was die vierpotige lede van die span.

“Ek het gevind dit was baie goed om die honde daar te hê – nie net vir die rol wat hulle in soek-en-reddingspogings speel nie, maar ook vir emosionele bystand.

Lede van die gekombineerde soek-en-reddingspan wat van Suid-Afrika na Turkye gereis het om slagoffers by te staan. (Foto: Verskaf)

“Die span sou deur die dag dikwels met die honde speel en tyd saam met hulle deurbring. Dit is ʼn baie goeie vorm van berading. Ek het soveel respek vir honde.”

Maroela Media het vroeër berig dat die span ʼn 80-jarige vrou lewend in ʼn gebou, wat ineengestort het, gevind het. Donna, een van die K9-honde, het die vrou se reuk opgevolg en gehelp om haar redding te bewerkstellig.

Bham sê die honde is deurentyd goed versorg en presies soos enige lid van die span behandel.

Hulle het die regte beskermingstoerusting gehad – waaronder skoene om hul pote te beskerm – genoeg kos, water en warm, veilige slaapplek saam met hul hanteerders. ʼn Veearts was ook op bystand en die honde is genoeg ruskans gegun.

Die SAPD se honde-eenheid in Turkye (Foto: Verskaf)

“Net soos die mense in die span, is die honde nooit in situasies geplaas wat hulle onnodig in gevaar sou stel nie.”

Die span het voorts soos menige slagoffer in tente geslaap en ook beperkte toegang tot geriewe soos toilette gehad – wat toenemend ʼn probleem in die rampgesteisterde gebied is.

“Maar daar was genoeg kos en ons was veilig,” het Bham gesê.

SA se hondespan uniek

Bham glo dit is belangrik om in noodtoestande soos hierdie bystand te bied, nie net omdat Suid-Afrikaners die wil het om te help en ʼn verskil te maak nie, maar ook omdat Suid-Afrika baie het om te bied in terme van hulpbronne.

“Ons het honde, ons het die regte toerusting en ons het die kundigheid. Dis baie belangrik en maak ʼn groot verskil. Die grootste motivering bly die wil om te help,” het Bham gesê.

Brig. Vimla Moodley, leier van die SAPD-span, stem saam met Bham en sê dat Suid-Afrika se honde goed opgelei is om lewende slagoffers, asook oorlede slagoffers te vind.

Lede van die soek-en-reddingspan wat van Suid-Afrika na Turkye gereis het om slagoffers by te staan. (Foto: Verskaf)

“Dit maak ons honde uniek. Baie ander lande se honde soek net na lewende slagoffers.

“Die honde het baie gehelp en kon ʼn groot oppervlakte dek. Hulle [die honde] het soms tot laat in die aand gewerk. Ons is baie bevoorreg dat die hele span, hanteerders en honde gesond en sonder beserings is. Die honde het ook goed gevaar met al die gereis en nie siek geword nie.”

Moodley sê die hele ervaring was ʼn openbaring vir die K9-soek-en-reddingspan.

“Die verwoesting in Antakya is soos niks wat ons al ooit ervaar het nie en dit was die eerste keer dat ons honde en hanteerders blootgestel is aan geboue wat ineengestort het en onstabiel is. Dit was ʼn emosionele, hartverskeurende ervaring om mense te sien wat alles verloor het. Van hul gesinne tot hul huise en besittings.”

Hy sê die tonele wat die span gesien het, sal hulle altyd bybly.

“Die lewe is kort. Waardeer dit en wees dankbaar vir wat ons in Suid-Afrika het, waar daar nie natuurlike rampe soos hierdie plaasvind en alles vernietig nie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ilze ·

Maroela, hou tog op na honde as brakke te verwys asb. En hierdie honde is polisie offiere met 4 bene

Nettie ·

Dankie vir die Span se harde werk, asook almal wat help koordineer het. Ons is trots op julle en jul K9 vriende!

Vonny ·

Ons is kinderloos, maar ons 4 yorkies is ons
Kinders!
Al ons familie en vriende verwys na hulle as kinders
Of
4x been kids!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.