Sakelui eis miljoene by polisie ná betogers fabrieke afbrand

Een van die fabrieke wat in 2012 deur betogers verwoes is. Foto: Verskaf

Die uitkoms van ʼn hofgeding tussen twee sake-eienaars wie se fabrieke in gewelddadige betogings verwoes is en die minister van polisie – wat die eienaars aanvoer die skade moes gekeer het – kan verreikende gevolge inhou én die polisie miljoene rande uit die sak jaag.

Dis nou reeds ses jaar nadat verskeie eiendomme in die Wes-Kaapse plaaswerkeropstand vernietig is, maar die eienaars van twee fabrieke wat afgebrand is, sukkel steeds om van die verlies te herstel. Hulle hofgeding om die polisie verantwoordelik te hou, sloer boonop óók.

Theuns Hanekom, die eienaar van ʼn onderneming wat vrugtelekkers vervaardig het, en Johrina Hanekom (geen verwantskap), wie se onderneming kratte en palette vir die vrugte-uitvoerbedryf vervaardig het, het albei miljoene rande skade gely toe oproerige plaaswerkers in November 2012 op hulle ondernemings toegesak het.

Stakende plaaswerkers het ʼn verhoogde minimum loon en verskeie ander voordele geëis.

Een van die fabrieke in ligte laaie nadat dit in 2012 die teiken van woedende betogers geword het. Foto: Verskaf

Die dorpie De Doorns was die middelpunt van die staking, maar die oproer het binne ʼn paar dae na omliggende dorpe uitgebrei. Daar was verskeie gewelddadige botsings tussen plaaswerkers en die polisie. Privaat eiendom is op groot skaal verwoes – ook dié van Theuns Hanekom en Johrina Hanekom. Hulle het die minister van polisie gevolglik hof toe gesleep vir die skade wat hulle gely het.

In hofstukke voer hulle aan die polisie moes opgetree het om die skade te verhoed. Hulle dagvaar hom saam vir meer as R100 miljoen.

Theuns sê polisielede wat in die omgewing ontplooi is, het destyds bloot toegekyk hoe die fabrieke afgebrand word. Hý was magteloos om die verwoesting te keer. “Dit was asof ʼn deel van my lewe weggevat word. Dit (die plundering) word voor jou eie én die polisie se oë gedoen en ek kon net toekyk hoe dit gebeur,” het Theuns gesê.

Een van die fabrieke wat in 2012 deur betogers verwoes is. Foto: Verskaf

Theuns én Johrina het hulle werkers destyds aansienlik meer as die minimum loon betaal en daardie werkers was nie self by die plundering betrokke nie. Tog het hulle, en uiteindelik ook hulle werkers, in die spervuur beland.

Theuns kon en wou nie weer sy onderneming in Hamlet aan die gang kry nie en in die dorpie is meer as 200 werkers uiteindelik weens die onluste afgelê. Theuns het intussen na Hopefield aan die Weskus verhuis waar hy op ʼn veel kleiner skaal sy onderneming probeer herbou. Hy het grootgeword in Hamlet, maar sê ná die voorval het hy onwelkom gevoel in dié omgewing wat vroeër vir hom ʼn tuiste was.

Ook Johrina sê die onderneming wat hulle ʼn leeftyd geneem het om op te bou, is tydens die betogings in ʼn oogwenk verwoes. Sy sê die destydse gebeure en die daaropvolgende hofsaak het hulle boonop emosioneel gedreineer. Sy bedryf nou ʼn ander onderneming.

Een van die fabrieke wat in 2012 deur betogers verwoes is. Foto: Verskaf

Die geding teen die minister is vandeesmaand in die Kaapstadse hooggeregshof hervat en toe wéér uitgestel, dié keer tot April volgende jaar.

Brett Cotterell, die eisers se prokureur, sê die omstandighede van elke saak sal die aanspreeklikheid van die polisie vasstel.

“Die polisie gaan nie in elke situasie aanspreeklik wees nie, maar in ons saak het die polisie geweet van die betoging. Hulle was op die toneel, maar het versuim om op te tree in ooreenstemming met hulle wetlike plig, soos deur ons kenner in sy getuienis beskryf,” het Cotterel gesê.

Dié getuienis was van oudkolonel Willem Bezuidenhout, wat getuig het die polisie se optrede op die toneel was nie soos beleid dit vereis nie. Volgens hom was die polisie se optrede hopeloos onvoldoende.

Een van die fabrieke wat in 2012 deur betogers verwoes is. Foto: Verskaf

Prof. Rika Snyman, verbonde aan Unisa, het ook vroeër getuig die polisie se openbareorde-eenheid se versuim om burgers te dien en beskerm, is ʼn toenemende risiko vir die maatskaplike bestel. Sy het getuig dit bedreig onder meer die handhawing van reg en geregtigheid in die land, voedselsekerheid en beleggersvertroue.

Snyman het getuig ander soortgelyke voorvalle – soos die plundering van H&M-winkels weens ʼn ongewilde advertensie en grondgryping waar strukture opgerig is – het plaasgevind omdat die polisie nie tydig ingegryp het nie.

Volgens Snyman bestaan die kans dat die versuim van die polisie se openbareorde-eenheid om op te tree Suid-Afrika oor ʼn afgrond na wetteloosheid en anargie kan stoot.

Phephelaphi Dube, direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte, sê ingevolge die Grondwet hét die polisie ʼn plig om burgers en hulle eiendom te beskerm. Hóé dit gedoen word, word in onder meer die Polisiewet vervat en dit is waaroor die hof moet beslis.

  • Theuns Hanekom en Johrina Hanekom sê ander mense wat in soortgelyke omstandighede skade gely het, of by die saak betrokke wil raak, is welkom om hulle te nader by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Asmain

Gewonder wanneer gaan iemand die regering begin verantwoordelik hou vir skade gely agv die feit dat die SAP betogings & vandaliste “monitor”, nooit word iemand vasgetrek nie

Adri

Ek hou hiervan. Hoog tyd! Dalk dwing dit die lam SAPD tot optrede.

humor

Miskien is dit nie vir die regering so n pyn om te betaal nie. Ek is bly as Theuns- hulle die geldjies kry,maar ek as belastingbetaler sal maar net weer die hand dieper in die sak moet steek.

nico k

Ek het simpatie met die polisie. As hulle dit met geweld probeer beeindig (hoe anders) is hulle ook in die moeilikheid. Maar die meeste optogte word deur ‘n spesifieke organisasie gereel. Vat hulle hof toe met ‘n siviele eis.

leser

hoop daar kom iets hiervan, saak sloer al 6jaar en is alweer uitgestel, wys jou hoe treurig is ons regstelsel, polisielede van daardie tyd is almal al uit die polisie of glad nie meer bereikbaar nie