Senior amptenaar gepos oor permitte vir Gupta-vennote

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: pixabay)

ʼn Senior amptenaar by die departement van binnelandse sake is vandeesweek sy pos kwyt nadat hy die proses gefasiliteer het om onregmatig visums en permitte vir van die Gupta-familie se vennote te bekom.

Hoewel die proses onsuksesvol was en die permitte nooit aan Ashu Chawla en ander vennote van die Guptas in Ethiopië en in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) uitgereik is nie, was die proses nietemin onregmatig.

Dít is wat ʼn paneel bevind het nadat Major Kobese, direkteur van appèl, die afgelope vyf maande aan ʼn interne dissiplinêre verhoor onderwerp is.

Bongi Gwala, woordvoerder van die departement, sê Kobese is vandeesweek skuldig bevind op drie aanklagte van wangedrag in die uitvoer van sy pligte. Dit is onduidelik wanneer presies Kobese hom hieraan skuldig gemaak het.

Die eerste klag hou verband met Kobese wat druk op ander amptenare by die departement uitgeoefen het om die visums en permitte te verwerk en uit te reik. Dié optrede is in stryd met die departement se interne regulasies en prosedures.

“Die enigste rede waarom die visums nooit uitgereik is nie, is omdat die betrokke amptenare geweier het om deel te wees van die skelmstreke,” sê Gwala.

Die tweede klag spruit uit die feit dat Kobese toegelaat het dat private individue en belange hom onbehoorlik beheer en beïnvloed in die uitvoering van sy pligte. Dit het in verskeie gevalle daartoe gelei dat sommige mense wat vir visums aansoek gedoen het, voorkeur geniet het.

Kobese het hom laastens skuldig gemaak aan wangedrag weens sy “uiters onvanpaste optrede, insluitend die ontvang van omkoopgeld”.

Die voorsitter van die dissiplinêre paneel het eindelik bevind dat Kobese oneties opgetree het.

“Gegewe die verantwoordelikheid wat aan Kobese, as ʼn lid van die seniorbestuur, gegee is, moes hy die hoogste etiese standaarde en integriteit gehandhaaf het,” sê die voorsitter.

“Aangesien hy ʼn algehele gebrek aan berou toon het ons tot die gevolgtrekking gekom dat die diensverhouding tussen Kobese en die departement verbreek is en die enigste toepaslike aksie is om Kobese af te dank.”

Kobese se afdanking is reeds Woensdag van krag.

Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het sy hartseer oor die situasie uitgespreek, maar is hoopvol dat die uitkoms van die dissiplinêre verhoor positiewe gevolge sal hê.

“Die uitkoms van die verhoor wys net dat daar nog baie amptenare is wat voortgaan om hul werk met ywer te doen, selfs wanneer hulle deur bestuurders gedruk word om iets oneties te doen,” sê hy.

“Dit wys ook dat ons daartoe verbind is om alle vorme van korrupsie, wangedrag en onreëlmatighede in die departement uit te roei.”

Die Gupta-broers Atul en Rajesh is sedert 2018 voortvlugtiges van geregtigheid en selfs die hooggeregshof het al beslis dat die broers nie geregtig is op ʼn Suid-Afrikaanse paspoort nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.