SOE kom vir NSFAS

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) gaan ʼn ondersoek van stapel stuur na bewerings van korrupsie en wanadministrasie by die nasionale studente finansiële hulpskema (NSFAS).

Die ondersoekeenheid het Vrydag op Twitter aangekondig dat hy opdrag van pres. Cyril Ramaphosa gekry het om die fonds te bekyk. Die eenheid mag ook enige finansiële verliese wat gely is, herwin.

Die ondersoek sal waarskynlik op die tydperk van April 2016 tot Augustus vanjaar fokus, maar kan enige tydperk insluit wat die eenheid as relevant tot die ondersoek beskou.

Luidens die SOE se verklaring sal die ondersoek uit twee bene bestaan. Die eerste sal die finansiële bestuur van die skema bekyk en die tweede sal ondersoek hoe beurse, lenings en enige ander finansiering aan studente toegewys is. Die eenheid sal verder enige ongemagtigde, onreëlmatige of verkwistende uitgawes bekyk wat deur NSFAS en die staat aangegaan is.

Werknemers by die instansie sal ook nie ontsien word nie. “Die SOE sal enige onwettige of onvanpaste optrede deur werknemers of beamptes van NSFAS en diensverskaffers en hul werkers ondersoek.

“Die eenheid sal enige bewyse wat dui op kriminele optrede aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oorhandig vir verdere ondersoek.”

Begunstigdes van NSFAS kla jaar ná jaar oor die skynbare onbevoegheid en onvermoë van NSFAS om beursgeld betyds uit te betaal en honderde studente moet soms maande lank klaarkom sonder geld vir kos, boeke of verblyf. Daar is ook ernstige vrae oor die skema se lewensvatbaarheid, aangesien dit tot dusver net daarin kon slaag om ʼn fraksie van die skuld aan lenings wat in die verlede aan studente toegestaan is, in te vorder.

In Maart verlede jaar is die instansie selfs by die Menseregtekommissie verkla oor die wyse waarop administrasie van aansoeke om hulp hanteer word. Die portefeuljekomitee oor hoër onderwys het ook in 2020 ʼn ondersoek na die administrasie en bestuur van die fonds geloods. Dit is nog nie duidelik wat die uitkomste hiervan was nie.

Teen Januarie vanjaar het 600 000 studente aansoek gedoen om finansiële hulp vir die 2022-akademiese jaar en daar was toe reeds kommer oor die skynbare tekort aan sowat R10 miljard om al dié aansoeke te finansier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.