Staat gaan wél grond verkoop aan suksesvolle swart huurderboer

Die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Maroela Media

Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming sê hy gaan nié appelleer teen ʼn hooggeregshofbeslissing wat hom beveel om die grond waarop David Rakgase al dekades lank boer, aan hom te verkoop nie.

Die 78-jarige Rakgase sukkel al jare lank om die plaas Nooitgedacht naby Northam van die regering te koop. Hy huur die 3 179 ha-plaas.

Die Pretoriase hooggeregshof het verlede maand ʼn besluit van die adjunk-direkteur-generaal van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, om die verkoop van die plaas af te keur, tersyde gestel. Die hof het beveel die regering moet die plaas binne 30 dae aan Rakgase verkoop volgens die bepalings en voorwaardes en die bedrag wat van toepassing sou wees as die plaas in 2003 aan hom verkoop sou wees.

Die departement het in 2003 Rakgase se aanbod om die plaas te koop aanvaar ná die departement hom die opsie gegee het om die plaas te koop as ʼn begunstigde van die Grond en Herverspreiding vir Landbou-ontwikkelingsprogram (GHLOP) wat intussen opgeskort is. Dié program moes voorheen benadeelde burgers help om grond en landbouwerktuie spesifiek vir landboudoeleindes aan te skaf.

Rakgase het die hof genader nadat dit aan die lig gekom het dat die regering nie die grond sal verkoop nie en eerder vir hom ʼn verdere 30 jaar-huurooreenkoms aangebied het.

In September vanjaar het die hooggeregshof in ʼn waterskeidingsaak in sy guns beslis.

Reggie Ngcobo, woordvoerder van minister van grondhervorming Thoko Didiza, het Woensdag by navraag gesê die minister het kennis geneem van berigte dat die staat gaan appelleer.

“Die departement gaan nié appelleer teen die hooggeregshof se uitspraak nie en berus by die hof se besluit,” het Ngcobo, Didiza se woordvoerder, aan Maroela Media gesê.

Die 30 hofdae wat die departement gekry het om Rakgase se koopaanbod te aanvaar, verstryk Vrydag.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder van landelike ontwikkeling, het gesê die dokumente waarin die departement aandui dat hy wél gaan appelleer, is reeds by die hof ingedien.

Sy was nie bewus van dié oënskynlike ommeswaai nie en sê volgens die party se inligting is daar laas nog gewag op ʼn hofdatum vir die appèlaansoek. Indien die departement nie voortgaan met die aansoek nie, moet hy die kennisgewing formeel terugtrek.

Steyn het vroeër vandeesweek in ʼn verklaring gesê die DA is sterk gekant teen die departement se [beweerde] besluit om te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Santie ·

As hy ‘n suksesvolle boer is wat tot die ekonomie bydra, hoekom nie?

Arno Scheepers ·

Hoekom moet die arme man die grond koop? Het hy regtig geen familie in die regering nie?

Gerhard ·

Stem saam met Arno, hoekom moet hy dit koop? Julle het die mense grond belowe, gee dit vir hom.

Mieke ·

Jip, wat het geword van grond géé, hoekom nou skielik verkoop?????

Daan Erasmus ·

Daar is hoeveel wat grond “kry” wat misluk. Hier het ons ‘n suksesvolle boer. Hierdie is ‘n sukses verhaal en dit is asof die regering nie wil hê dit moet gebeur nie.

JR ·

Hulle soek dalk net onsuksesvolle boere omdat die regering onsuksesvol is hoop die boer kry sy grond

Oujongvrou ·

Hier is nou n baie mooi voorbeeld van hulle grondhervorming nê. Eintlik wil die fat cats al die grond he soos in Zim gebeur het. Hierdie regering wil geen grond teruggee aan swart mense nie, hulle wil self ryk word uit huurgeld ens.

Leon ·

Hy is ‘n eerlike man en ‘n eerlike suksesvolle boer. Hy betaal al hoe lank sy huur. Hulle kan die huur aftrek van die verkoops bedrag en hy sal die balans betaal. Dan het hy dit eerlik bekom en niemand kan dan ‘n vinger na hom toe wys nie. Ek dink dit is regverdig.

SjN ·

Nie net gee nie, dit is hoekom die meeste opkomende boere onsuksesvol is, die suksesvolle man het al die jare dit teen n minimale bedrag gehuur en was gehelp deur die staat, nou 16 jaar verder, laat hy dit koop @ markverwante prys.

Spyker ·

Ek stem Santie …eks n wit afrikaner maar in geensins n rasis nie as die man suksesvol kan boer is dit nie n probleem nie …elkgeval gan jy sien as jy n mielie opskep wat met n swart hand geboer het .?dis dalk jaloesie omdat hy deel is van n wit gemeenskap .

Hanlie ·

Tipies. Dubbel standaarde. Hulle het seker al die grond klaar geoormerk vir een van hulle kaders!!! Los die boer dat hy boer. Hy verdien ten minste ‘n eerlike inkomste, meer as wat enigeen van hulle kan se.

JohanR ·

Watter uitsoek plase gaan die ANC ministers wat nog nie uitsoek plase het nie, kry. Aunty Patty, het jy al vir jou en sussie, ‘n lekker wyn plaas uitgesoek? Kyk mooier agter die varke as Thandi Modise.

Kobus ·

Ander ONSUKSESVOLLE mense kry grond verniet maar hierdie man wat reeds suksesvol boer moet die grond koop??? Mens sou kon lag indien dit nie so belaglik was nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.