‘Strenger finansiële beheer’ vir Tembisa-hospitaal nodig

Die Tembisa-hospitaal. (Foto: Tembisa Hospital/Facebook)

Die Gautengse departement van gesondheid het aanbeveel dat die Tembisa-hospitaal strenger beheermaatreëls toepas nadat die departement se interne oudit- en nakomingseenheid ʼn ewekansige oudit by die fasiliteit uitgevoer het.

Die ewekansige oudit is verlede jaar in dieselfde maand gedoen as Babita Deokaran, die departement se voormalige waarnemende finansiële hoof, se skielike dood.

Deokaran het verlede jaar alarm gemaak oor grootskaalse bedrog by die hospitaal, maar is kort daarna in ʼn skietvoorval dood. Owerhede vermoed dat dit ʼn sluipmoord kon gewees het.

Die oudit is gedoen in ʼn poging om te verseker dat die fasiliteit aan die nodige voorsieningsketting‑ en finansiële bestuursbeleide voldoen.

Nomathemba Mokgethi, LUR vir gesondheid in Gauteng, het Woensdag in ʼn verklaring gesê dat die oudit nie ʼn forensiese oudit was nie en onafhanklik is van die Valke se ondersoek na Deokaran se dood.

“Die spesiale ondersoekeenheid is deur die provinsiale regering aangestel om ʼn forensiese ondersoek uit te voer na die aantygings van onbehoorlike verkryging- en betalingsprosesse by die hospitaal. Ons laat dus die eenheid toe om sy ondersoek in hierdie verband af te handel.”

Lerato Madyo, die departement van gesondheid se finansiële hoof, sowel as Ashley Mthunzi, uitvoerende hoof van die hospitaal, is verlede maand tydelik en met onmiddellike inwerkingtreding geskors in ʼn poging om hulle te verhoed om met die eenheid se ondersoek in te meng. Die twee word ook betrek by die bedrogsaak van R850 miljoen waaroor Deokaran alarm gemaak het.

Sewe verdagtes is reeds verlede jaar in verband met haar moord in hegtenis geneem.

“Die doel van die ewekansige oudit was om leiding te gee oor beste praktyke oor hoe om finansiële bestuur te verbeter en ook om te verseker dat die hospitaal waarde kry vir geld wanneer dit sekere goedere en dienste verkry,” sê Mokgethi.

Gegewe die uitkoms van die oudit, moet die hospitaal nou dringend sy beheermaatreëls in dié verband opskerp.

Die oudit het onder meer daarop gefokus om te kontroleer of die onderskeie verkrygingsprosesse deur middel van die departement se sentrale verskaffersdatabasis gedoen word, of daar ewekansig nagegaan word watter produkte en dienste van watter verskaffers verkry is en of enige onreëlmatige uitgawes, oorbesteding aan goedere en dienste en betalings binne die afgelope 30 dae gekontroleer is.

Hoewel Mokgethi nie besonderhede van die oudit verskaf het nie, sê hy daar is ʼn aantal voorstelle gemaak wat die hospitaal se bestuur moet implementeer.

Die ouditeurs het onder meer voorgestel dat die hospitaalbestuur ʼn nakomingskontrolelys moet ontwerp en implementeer om te verseker dat verkrygingsprosesse in ooreenstemming met die relevante wette en regulasies is.

Daar is ook voorgestel dat gevolgbestuur op amptenare toegepas moet word wat die wette en regulasies betreffende onreëlmatige verkryging van goedere oortree.

Sedert die resultate van die ouditverslag aan die bestuur bekend gemaak is, is onderneem om ʼn aantal aanpassings te maak, waaronder om ʼn aanvraagplan te gebruik om die hospitaal se uitgawes te monitor, asook dienste te prioriseer om enige oorbesteding en onreëlmatighede, en vrugtelose en verkwistende uitgawes te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Wil jul NOU eers, na al die jare, aanpassings maak om die hospitaal se uitgawes te monitor? Is dit nooit beheer nie? Wat het jul verwag? Vreemd dat die hospitaal nog enigsins funksioneer. Ons belastingbetalers, die bietjie wat oor is, moet maar hoes. Daardie fonteintjie is ook besig om leeg te loop. SA sirkus se laaste hoofstukke is besig om geskryf te word. Ons is een van die dae by “DIE EINDE” en finale hoofstuk. Wonder wat jul dan gaan maak. Seker soos die geskiedenis dit wil hê sal ons maar die “punch” moet vat en weer opbou. Tot ‘n volgende keer…

Nie Verbaas ·

Om aanpassings te maak moet mense eers verantwoordelikheid aanvaar en ook die verskil tussen reg en verkeerd ten volle verstaan. Is hierdie eienskappe wat sekeres besit? Ek glo nie. Absoluut niks sal verander as jy glo dat dit jou reg is om onwettige op te tree nie.

Willem Hendrik ·

Dit het tyd geword dat dom mense met gekwalifiseerde mense vervang word. Ons het beste wette en struture maar dom implimenteerders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.