Hoës van GP-gesondheidsdepartement tydelik gepos

Babita Deokaran. (Foto: Verskaf)

Die Gautengse provinsiale regering het Lerato Madyo, die departement van gesondheid se finansiële hoof, sowel as Ashley Mthunzi, uitvoerende hoof van die Tembisa-provinsiale tersiêre hospitaal, tydelik en met onmiddellike effek geskors.

Die skorsing is hangende ʼn ondersoek na “ernstige aantygings” in verband met onbehoorlike verkryging- en betalingsprosesse by die hospitaal. Hulle word ook moontlik verbind met die dood van Babita Deokaran, die departement se voormalige waarnemende finansiële hoof.

Die beamptes word geskors om te verhoed dat hulle nie inmeng met die ondersoek nie.

Die twee word betrek by die bedrogsaak van R850 miljoen waaroor Deokaran alarm gemaak het ʼn jaar gelede. Sy is kort daarna in ʼn skietaanval dood wat owerhede nou vermoed ʼn sluipmoord kon gewees het.

“Gegewe die erns van die aantygings en die moontlike verbintenis met Deokaran se moordsaak is die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) opdrag gegee om dringend hierdie aantygings te ondersoek. Die hoof van die departement van gesondheid het ook ʼn kriminele saak by die polisie aanhangig gemaak,” lui ʼn verklaring wat Vrydagmiddag deur die Gautengse regering uitgereik is.

Die Valke ondersoek tans Deokaran se dood en sewe verdagtes is reeds verlede jaar in verband met haar moord in hegtenis geneem.

Volgens ʼn onthulling deur News24 het Deokaran enkele weke voor haar dood teenoor Madyo erken dat sy vir haar lewe vrees. Madyo het egter eers ná haar dood op haar pleidooie gereageer en ook nooit aandag gegee aan ʼn verslag oor “moontlike bedrieglike” betalings van die hospitaal nie.

“Ons wil hê almal wat verantwoordelik was vir die beplanning en uitvoering van Babita Deokaran se moord moet daarvoor boet,” het David Makhura, Gautengse premier, gesê.

Makhura het ook bevestig dat die hoof van die Gautengse departement van gesondheid onlangs doodsdreigemente per e-pos ontvang het. “Ek het onmiddellik die Gautengse provinsiale kommissaris van polisie, lt.genl. Elias Mawela, gevra om stappe te doen om aandag te gee aan hierdie dreigemente en dié wat verantwoordelik is op te spoor. Ons doen alles in ons vermoë om fluitjieblasers te beskerm,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rocco ·

Babita Deokaran het onnodig gesterf. Die korrupte anc het bloed op hul hande. Sleg goed.

Herman L ·

Die verdagtes het ‘n jaar tyd gehad om bewyse te vernietig en Makura tree nou eers op! Dit laat ‘n mens wonder…………..

Cherokee ·

Lees die laaste sin en plaas kommentaar daaroor asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.