Teeger se plaasvervanger aangewys

David Teeger. (Foto: Maccabi South Africa/Facebook)

Krieket Suid-Afrika (KSA) het Sondagmiddag aangekondig dat die Westelike Provinsie se Juan James die nuwe kaptein van Suid-Afrika se o.19-krieketspan vir die komende Wêreldbeker-toernooi is.

Hy sal David Teeger se kapteinskapskoene volstaan.

Maroela Media het Vrydag berig dat Teeger glo weens veiligheidsvrese van sy kapteinskap gestroop is. Hy is egter steeds ’n lid van die span.

“Die 19-jarige James sal die span in die 15de weergawe van die toernooi aanvoer. Die junior Proteas se veldtog begin amptelik Vrydag teen die Wes-Indiese Eilande in Potchefstroom,” het die nasionale krieketbeheerliggaam op sosiale media gedeel.

James het al vantevore – in ’n paar kragmetings teen Bangladesj – die span op die veld gelei.

Die besluit om Teeger van die kapteinskap te onthef, het uit verskillende oorde kritiek ontlok.

“Is hy van die kapteinskap gestroop bloot omdat hy ’n Jood is?” het die Britse mediapersoonlikheid Piers Morgan op sosiale media gevra.

Hy het ook KSA gekap en sy optrede as “lafhartig” uitgekryt.

Teeger het in Oktober, toe hy as opkomende ster van Absa se pryse vir Joodse uitblinkers aangewys is, gesê die ware sterre is jong soldate in Israel – met verwysing na die konflik tussen laasgenoemde en Hamas.

“Ja, ek het die toekenning gekry, en ja, ek is ʼn opkomende ster, maar die ware sterre is die jong soldate in Israel.”

KSA se raad het later besluit om ’n onafhanklike ondersoek oor sy uitlatings van stapel te stuur, maar adv. Wim Trengove SC het bevind dat die hoofseun van die King Edward VII School in Johannesburg geen kodes oortree of ongrondwetlik opgetree nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Casper ·

KSA het maar net weereens hulle ruggraatloosheid getoon..Die ANC se eie handves van menseregte en hulle eie grondwet word nou misbeuik om hulle kommunistiese ideologieë na vore te laat kom.Hierdie keuse is politiek gedrewe om die geskiedenis van apartheid lewendig te hou.Vir die anc is Teeger blank en van Joodse afkoms.

Michael ·

Ek hoop die ondersteuners wys hulle misnoeë oor hierdie besluit deur die wedstryde te boikot.

Cassie Carstens ·

Hier meng politiek alweer by sport in wat teen die wereldfederasie se beleid is. Niks anders as Jodehaat nie. As ek Teeger is, gaan speel oorsee waar jy gewaardeer sal word.

George ·

@Cassie, hy is die een wat politiek ingebring het. Sou jy dieselfde se as hy Hamas ondersteun het?

Danie ·

Dis eintlik goed dat hy op vroee ouderdom geleer word wanneer om jou mond toe te hou.

Delia ·

Nee Cassie, die jongman het politiek by die sport ingebring. Nou moet hy seker vat wat sy kant toe kom.

Boatsie ·

George
Praat sin. Hy het nie politiek ingebring nie, maar net sy trots op sy herkoms en volk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.