Toppresteerder ‘sweet’ tydens eindeksamen

Kenneth Jansen. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

“Ek het vier van my vakke in die eerste week van die eindeksamen geskryf en baie goed daaroor gevoel, maar toe skryf ek wiskunde 1 …”

Kenneth Janson, ʼn matrikulant aan die Hoër Jongenskool Paarl in die Wes-Kaap, is een van die handjievol matrikulante wat aangewys is as vanjaar se toppresteerders in die land.

Die departement van basiese onderwys het Janson Donderdag as Suid-Afrika se derde beste matrikulant in ʼn kwintiel 5-skool aangewys. Simone Anna-Mart Louw aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch het die tweede plek opgeraap, terwyl Kelly Prowse aan die Rustenburg Girls High School in Kaapstad eerste is. Sy is ook in geheel as die beste matrikulant van 2022 aangewys.

Janson het Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, ekonomie, rekeningkunde, geskiedenis en RTT gehad.

Janson bieg dat hy Donderdagmiddag, voor die aankondiging, omtrent bloed gesweet het in afwagting op sy finale uitslae, veral omdat van sy eksamenvraestelle nie noodwendig so glad verloop het soos waarvoor hy gehoop het nie.

“Met die rekordeksamen het dit baie goed gegaan met my wiskundevraestelle en ek was vas oortuig dat ek die werk onder die knie het en die eindeksamenvraestelle kan aanpak. Maar toe ek daai eerste vraestel in die eindeksamen begin skryf, het dit skielik gevoel asof ek dit nie kan doen nie,” sê hy.

“Die eerste wiskundevraestel was beslis ʼn groter uitdaging as waarvoor ek beplan het en dit was baie vinnig baie duidelik dat dinge nie so glad gaan verloop nie.”

Janson se vriende stem saam dat daar vrae in die wiskundevraestelle was wat hulle gekniehalter het, maar vir Janson het dit ʼn hele ommeswaai in sy denkwyse geverg om nie moedeloos te raak nie.

“Ek moes myself herinner dat ek nog vier vakke het om te skryf, so ek het myself ʼn uur lank jammer gekry en toe geskiedenis gaan leer,” skerts hy.

Hy sê die volgende paar vraestelle was ook ietwat van ʼn uitdaging, maar hy is oortuig dat hy in daardie stadium net oorwerk was.

“Ek het ʼn oomblik gevat, teruggestaan en my herinner om nie soveel druk op myself te plaas nie,” sê hy.

“Ek het al hierdie toetse al vantevore gedoen en toe ek eers perspektief kry, het dit soos ʼn bom gewerk.”

Hy het vir die res van die eksamen skouer aan die wiel gesit en die harde werk was duidelik die moeite werd.

Kyk hier wat Janson alles te sê het oor die eksamen, sy uitslae en sy toekoms:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonkprop ·

Nou dink net hoe het ons dommetjies gevoel toe ons eksamen geskryf het en dit was in die 90’s. Elke vraestel was ‘n uitdaging en nou gebruik ek in elk geval bitter min van wat ek geleer het so al daardie bloedsweet was nie eintlik die sooibrand werd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.