Trane by moordverhoor: ‘Jammer vir wat ek aan julle gedoen het’

Tersius du Plessis het in die hof verskoning gevra vir die moord op Johanna Rossouw. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Emosies het Woensdag in die hooggeregshof op Middelburg in Mpumalanga hoog geloop waar Tersius du Plessis (36) skuldig gepleit het op die moord op die 86-jarige Johanna Rossouw.

Du Plessis het Rossouw in Januarie by haar huis in die Eden Park-aftreeoord in Emalahleni (Witbank) vermoor toe hy ingebreek en sy hom op heter daad betrap het. Du Plessis het dié dag dwelms gebruik en wou waardevolle besittings steel om te verkwansel.

“Ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie,” sê Du Plessis wat reeds in Februarie tydens sy eerste hofverskyning in die plaaslike landdroshof gebieg het.

“Sy het gaaf gelyk. Sy sou seker vir my kos gegee het as ek gesê het: ‘Tannie, ek is honger’.”

Du Plessis moes gereeld die trane van sy gesig vee waar hy in die getuiebank gesit het.

“Ek dink deesdae die tannie sou – as sy my nou kon sien – iets sê soos: ‘My kind, hoekom doen jy so iets?’

“Julle lyk na goeie mense. Ek is so jammer vir wat ek aan julle gedoen het,” het Du Plessis aan Rossouw se dogter, seun en skoonseun gesê wat in die hofbanke gesit het.

Du Plessis is skuldig bevind op aanklagte van moord én roof met verswarende omstandighede nadat hy skuldig gepleit het op albei aanklagte.

Du Plessis sê in sy skulderkenning hy het nie geweet iemand is tuis toe hy op 31 Januarie by Rossouw se huis in Fuchsiastraat ingebreek het nie. Hy het nie vir Rossouw geken nie en was bloot op soek na waardevolle items om te verkoop nadat hy sy geld en selfoon weggedobbel het.

Du Plessis het by die huis ingesluip, maar is deur Rossouw verras en gekonfronteer. Hy het haar oorval en aangesê om stil te bly. Sy het egter geskree waarna hy ’n mes in die huis gegryp en haar verskeie kere in die nek en bolyf gesteek het.

Hy erken dat hy ten tyde van die moord onder die invloed van tik was, maar hy was steeds by sy volle positiewe en het besef wat hy gedoen het, is verkeerd.

Luidens die skulderkenning was hy ná die moord verbouereerd en bang. Hy het Rossouw se selfoon en motorsleutels gegryp en in haar Honda Jazz gevlug. Hy het sy vriendin onderweg na Gauteng gebel en gebieg oor wat hy gedoen het.

Hy het hom kort daarna aan die Mondeor-polisie oorgegee.

Volgens Du Plessis het hy voor die moord byna vyf jaar lank geen dwelms gebruik nie.

Dít nadat hy tussen 2010 en 2019 nege keer skuldig bevind is aan onder meer huisbraak en diefstal. Dié oortredings is destyds in Hermanus, Caledon, Gansbaai en Emalahleni gepleeg. Du Plessis het tronkstraf vir sommige van dié veroordelings uitgedien.

“Ek weet nie hoe ek hier gekom het nie. Ek weet nie wat het in my lewe skeefgeloop nie …” het hy gesê nadat hy aan moord skuldig bevind is.

Hy sal na verwagting Donderdag gevonnis word.

Du Plessis het aan die regter gesê hy verwag nie dat die hof hom genadig moet wees nie.

“Ek besef dat iemand wat dit glad nie verdien het nie, deur my toedoen nie meer hier is nie.”

Die staatsaanklaer het vanmiddag na die vorige veroordelings verwys en Du Plessis prontuit gevra: “Wat gaan jou laat ophou?”

“Meneer, as dít my nie laat ophou nie …” was ’n emosionele Du Plessis se antwoord.

‘Doodgewone familie’

“Ons is net ’n doodgewone familie wat ons eie ding doen,” het Rossouw se dogter Juna Heinsen vanmiddag in die hof getuig.

Heinsen vertel dat sy en haar sibbe ná hul pa se dood in 2016 besluit het dat haar ma, wat in daardie stadium alleen op Carolina gewoon het, eerder in die Edenpark-aftreeoord moet woon – juis vir haar veiligheid.

“Ons het gedink sy gaan veilig wees in die oord. [Die moord] was dus ’n groot skok.”

Sy vertel dat haar ma se dood ’n groot leemte by die familie laat.

“My jongste broer was so gebroke dat hy nie my ma se besittings ná haar moord in Fuschiastraat kon gaan oppak nie.

“My ma se wens was dat sy op dieselfde manier as my pa [in sy slaap] doodgaan,” het ’n emosionele Heinsen vertel.

Heinsen het egter gesê sy “waardeer” Du Plessis se verskoning.

“Ek is ’n kind van God en ek kan nooit na my God toe gaan as ek nie vergewe nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Staal ·

Jammer die doodstraf is afgeskaf. Ek glo aan die beginsel van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir’n tand- die sogenaamdr Mosaiëse wette. Waarom het ‘n moordenaar en verkragter hoegenaamd enige regte in terme van die grondwet. Wie se regte is die belangrikste- diè van die verkragter/ moordenaar of diè van die slagoffer en sy naasbestaandes? Nee, ek sê ” hang them high”.

Dries ·

Nee wat, hy is n gewoonte misdadiger Niks sall hom regkry nie.

Papsak ·

Ja nee sluit toe trane help nie nou nie dit was hartseer sy sal nooit weer terug kom nie

Lubbe ·

Dwelms, soos tien ander sake. Daar moet baie meer gedoen word om dwelms te bekamp.

Alexander ·

En verban dan sommer maar drank ook, want dronk mense moor meer :)

Shakespeare ·

Tipiese voorbeeld van die menslike ras. Hoeveel van ons het nie al gesê ” Ek weet nie hoekom ek dit gedoen het nie” in ‘n klein mate of ‘n kollossale mate. Die Satan is beheer gegee oor die aarde. Wie moet ons dan blameer vir al die chaos ?? Jesus beskerm sy kinders van sulke afskuwelike bose dade. My raad is, neem Hom aan as jou saligmaker en verlosser en Hy sal jou daarteen beskerm.

BOKKIEBEK ·

Ek stem, en ons geveg is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte in die lug

Ian ·

Hy het moord gepleeg, hy het skuld erken, hy het onvoowaardelik omverskoning gevra en nou moet hy verantwoording doen vir sy dade. Dit is nou maar hoe dit werk.

Pieter ·

Snaaks dat daar nie nou gille opgaan dat “ons volk uitgemoor word nie” en dat ons ander “moet doodslaan” nie. Soos in ander kommentare hier rond.

Lubbe ·

Ek dink nie dit is n groot straf nie want hier sit onskuldigge mense met Covid wat alle protokolle gevolg het.

Eugene ·

Ek het geem simpatie vir die moordenaar nie. Hy moet die res van sy lewe in die tronk sit. Sy krokodiltrane maak hom nie minder skuldig nie

anniekiewiet ·

Ek is ’n kind van God en ek kan nooit na my God toe gaan as ek nie vergewe nie.”
Moenie jou steur aan mense wat nie besef wat dit beteken nie. Jou getuienis is fantasties.
Vergifnis beteken nie iemand moet nie sy straf uitdien nie, maar maak julle vry van haat en bitterheid.

Anton J ·

Baie waar. Ek sê altyd, vergifnis beteken nie ek keur goed wat jy aan my gedoen het nie maar wat jy aan my gedoen het kan jy my nie langer seer maak og gevange hou nie.

Henk ·

Dis vir my so stupid as mense sê “Wraak kom my nie toe nie, ek vergewe hom”. Waarom is daar dan tronke?

Mariana ·

Hy het gemoor en skuld erken, nou verskoning gevra en nou gaan hy die prys betaal. Mag God hom ook vergewe vir wat hy aan ‘n weerlose vrou en haar familie gedoen het.

Wielspore ·

Tersius du Plessis is nie ‘n aanwins vir die samelewing, sy leefstyl is soos ‘n voetpad wat hy besaai met dorings met sy slegte optrede, terwyl hy weet dat dit mense sal seermaak.
Sluit hom toe, dit is sy keuse.

Roedolf Johannes ·

Dwelms het al by hoeveel misdade die skuld gekry en dan word dit as n verskoning in die hof gebruik.Niemand het die misdadiger gedwing om dwelms te begin gebruik nie.Die hof pas nie meer die regte strawwe toe nie en dit is hoekom misdaad nie sal afneem nie.Hoop jy kry nou die regte straf na al die misdade wat hy al gepleeg het

Alexander ·

weet jy hoe dikwels is drank by misdaad, veral moord betrokke?

Hasie ·

Spyt is goeie ding ,maar kom altyd te laat . Geen verskoning nie en die feit dat jy dwelms gebruik is GEEN verskoning nie .

Swartskaap ·

Die trane na die daad is maar om simpatie te verwek by die regstelsel vir n korter vonnis.

Swartskaap ·

Ek weet dit klink ekstreem maar ek is van mening dat alle dwelmgebruikers tereg gestel moet word. As daar geen gebruikers is nie sal daar ook geen dwelmsmouse wees nie. Solank die verkopers geld kan maak, sal daar altyd verkopers wees, beskerm deur korrupte polisie en politici.

Swerwer ·

Wonder wat so mens se kop aangaan en hoekom as jy weet dit is verkeerd.

madels ·

Dis verskriklik wat hierdie man gedoen het maar soms moet daar n “wake-up call” in n mens se lewe gebeur wat n persoon laat besef dat hy moet sy lewe uitsorteer. Ek voel tog in my hart dit is wat met hierdie man gebeur het. Hy het ware berou, dis duidelik, ek bid dat hy by die Here uitkom sodat hy n goeie getuienis kan wees en ander gevangenisse na die Here kan lei. Dit bid ek uit die diepte van my hart

Bob ·

Ek ken die Tannie se dogter en skoonseun persoonlik. Die man het hulle ongekende pyn aangedoen. Ek bid dat hulle sal sterk wees. Ek voel iemand wat ‘n oumens so martel en doodmaak verdien nie om self te bly lewe nie. Geen verskoning gaan enige iets beter maak nie, sy is dood en wie weet wat sy deurgegaan het voordat sy gesterf het?

Niklaas ·

Die verspreiders van dwelms is net so aandadig aan hierdie moord. Daar moet eintlik harder teen hul opgetree word. Dwelms vernietig baie lewens , maar hierdie moordenaar kan dit ook nie heeltyd as verskoning gebruik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.