Trane van verligting ná uitspraak

Andrea Venter se pa, Dries, en haar broer, Kobus, vertel die hofsaak krap weer ou wonde oop (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die trane het vlak in Andrea Venter (25) se pa, Dries, en broer, Kobus, se oë gesit toe regter Ian Cox Gerhard Jansen van Vuuren skuldig bevind het aan hul geliefde Andrea se moord.

Die hof se galery was volgepak met familie en vriende wat die hofsaak bygewoon het om die Venter-familie te ondersteun. Ná 11 jaar het die dag waarvoor dié familie met groot afwagting gewag het, eindelik aangebreek.

Gerhard Jansen van Vuuren (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Jansen van Vuuren is Maandag in die Palm Ridge-landdroshof skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade en aanranding.

Die familie het aan Maroela Media vertel dat hulle hewig verlig is oor Jansen van Vuuren se skuldigbevinding en dat reg en geregtigheid nou seëvier.

Hulle wag nou in spanning vir die vonnis wat na verwagting op 27 en 28 Julie in die Johannesburgse hooggeregshof sal plaasvind.

Volgens Kobus is hy baie tevrede met hoe Cox die uitspraak hanteer het en dat Jansen van Vuuren nou boonop aan moord met voorbedagte rade skuldig bevind is.

ʼn Klag van moord het Jansen van Vuuren aanvanklik in die gesig gestaar, maar die staat het die hof gevra om die klag na moord met voorbedagte rade te verander. Cox het Maandag hierdie versoek goedgekeur en gesê dit spruit uit die bewyse en getuienis dat Jansen van Vuuren voorbedagte rade gehad het om Andrea dood te maak.

“Ek is dankbaar die regter kon insien dat die moord met voorbedagte rade was, want hoeveel keer vantevore het Gerhard nie vir Andrea gedreig en gesê ‘as ek jou nie kan kry nie, kan niemand nie’,” sê Kobus.

Die staatsaanklaer, adv. Roelien Barnard, saam met Dries en Kobus Venter (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die hof het Maandag bevind Jansen van Vuuren het doelgerig opgetree toe hy op 2 Mei 2011 vir Andrea by die Sibaya Sands-sekerheidskompleks in Randburg, waar sy gewoon het, met ʼn mes aangerand en daarna haar keel oopgesny het. Hy het daarna sy eie keel met die mes oopgesny.

Bewyse toon dat daar ʼn moontlike struweling voor die moord in Venter en Jansen van Vuuren se onderskeie woonstelle was. Venter is volgens die nadoodse ondersoek altesaam 12 keer met ʼn mes in die bolyf gesteek.

Volgens die hof was Jansen van Vuuren ook toerekeningsvatbaar toe hy Thulani Ndlovu, ʼn sekerheidsbeampte wat die oggend van die moord by die kompleks aan diens was, aangerand het deur hom met ʼn mes te dreig. Dit volg nadat Ndlovu die moord aanskou het.

Berou, berusting

Dawie en Hilda Viljoen (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Jansen van Vuuren het emosieloos en hande gevou in die beskuldigdebank gesit toe Cox die uitspraak lewer.

“Dit is duidelik dat hy geen emosie of berou toon nie. So asof sy hart van klip is,” het Andrea se peetouers, Dawie en Hilda Viljoen, ná afloop van die hofsaak gesê.

“Ons hoop Gerhard kan sy lewe omdraai en berou toon, wat hy tot dusver nie gedoen het nie,” sê Dawie.

Andrea was soos ʼn kind in die Viljoen-gesin se huis in Rustenburg en sy het balletlesse by Hilda geneem. “Sy was ʼn baie talentvolle ballerina, en ʼn borrelende en spontane kind,” vertel Hilda.

Dawie moes destyds Andrea se liggaam op die moordtoneel aanskou en sê “sy het soos ʼn waspoppie daar gelê”. Hy vertel ook dat hy die aand voor haar moord ʼn onbeskryflike onrustigheid ervaar het.

Die familie hoop dat hulle ná die vonnis berusting sal vind.

“In ʼn mate sal ons hierdie hoofstuk kan afsluit en dan hopelik meer op die geneesproses kan fokus,” sê Kobus.

Die Viljoens sê die familie moet nou die saak in die Skepper se hande laat en glo dat Gerhard sy straf gaan kry. “Al is dit nie hier op aarde soos ons hoop nie, weet ons hy sal eendag rekenskap moet gee,” sê Dawie.

Dries het ʼn brief geskryf en wil dit tydens die vonnisverrigtinge aan Jansen van Vuuren oorhandig. Hy het vroeër aan Maroela Media gesê hy wil Jansen van Vuuren in die oë kyk wanneer hy dit vir hom gee.

Hy het Maandag die brief in sy baadjiesak gehad, maar dit nog nie oorhandig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Henri ·

Boosheid kom in veelvoudige vorms. Om in ‘n verhouding met só ‘n persoon te beland, moet hel op aarde wees.

Mag die vark laaaaank sit. Maar belangriker, hy gaan moet rekenskap doen voor die Skepper.

Elize ·

Genugtig na 11 jaar besluit hulle eers dat hy haar vermoor het!

Annelize ·

Hy was vir jare skoonveld, oorspronklik borg gekry en die land toe verlaat met vervalsde dokumentasie.

RS ·

Wel gedaan! Mag geregtigheid seevier, nie net in die saak nie maar so ook in 1000de ander sake waar moord, geweld en roof aan die orde van die dag is.

TRP ·

Baie dankbaar oor die skuldigbevinding maar kan myself nie die familie se emosies indink as ‘n “open and shut case” 11 jaar neem.

Annelize ·

Hy was vir jare skoonveld, hy het gevlug na hy oorspronklik borg gekry het.

Niklaas ·

Daar is heelwat siek en gevaarlike mans soos hierdie Gerhard , daar buite. En natuurlik is vele arme dames hul slagoffers en hulle leef daagliks in vrees . My hart bloei vir hulle.

ES ·

Baie baie bly hy het sy straf gekry. Hy gaan definitief sy tyd in die tronk berou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.