Tshwane wil kragskuld betaal (maar Eskom verwerp sy voorstelle)

(Argieffoto)

Die Tshwane-metroraad sê hy bied gereeld voorgestelde betalingsplanne aan Eskom om sy enorme agterstallige kragskuld van R1,4 miljard te vereffen, maar die kragvoorsiener wil glo nie dié planne aanvaar nie.

Dit volg nadat Eskom vroeër vandag (Woensdag) gesê het hy kry nie samewerking van die metroraad nie en die skuld knou sy likiditeit, finansiële prestasie en volhoubaarheid.

Volgens die metroraad beoog hy om gereelde betalings te maak om sy agterstallige skuld aan Eskom te vereffen.

Sipho Stuurman, ʼn woordvoerder van die metroraad, sê die raad se finansiële span betrek Eskom deurentyd oor ʼn betalingsplan.

“As metroraad verstaan ons die verantwoordelikheid om ons krediteure te betaal en juis daarom kommunikeer ons deurlopend met Eskom en bied ʼn voorgestelde betalingsplan om ons kragrekening op datum te bring,” sê Stuurman.

“Die metroraad was oop en eerlik oor sy likiditeitsuitdagings, en ons stel tans verskeie maatreëls in werking om hierdie finansiële uitdagings aan te pak.

“Ons moet egter erken dat Eskom se beurtkrag ʼn nadelige uitwerking op ons likiditeitsposisie het. Ons instandhoudingsbegroting raak buite beheer as direkte uitvloeisel van beurtkrag, maar Eskom weier om verantwoordelikheid hiervoor te aanvaar.”

Stuurman sê inwoners en ondernemings sukkel ook ekonomies weens beurtkrag, wat weer bydra tot ʼn lae inkomste vir die stad.

“Benewens hierdie uitdagings stel Eskom ʼn verhoging van 18% voor wat verder die finansiële posisie van die stad lamlê aangesien ons nie daardie verhoging tot 1 Julie vanjaar sal kan deurstaan nie.”

Maroela Media het vroeër berig Eskom spook al maande lank om betalings uit die metroraad te kry.

Die metroraad het in November verlede jaar ʼn bedrag van R660 miljoen aan Eskom betaal, maar daarna versuim om sy kragrekening van R780 miljoen vir Desember te betaal, sê die kragvoorsiener.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Henry ·

hoekom het hulle agter geraak met betalings. as ek agter raak word my krag afgesny en en moet n boete betaal om dit weer aan te kry.

Christine ·

Sover ek kan onthou was dit terwyl die ANC aan beheer was dat hulle agtergeraak het. Nou moet die DA spook om daai rekening af te betaal. Die ANC het heel waarskynlik geweet hulle gaan die metro verloor en het die geld in hul sakke gedruk.

GWS ·

Betaal net die rekening en kry klaar!!! Mintag, julle moet jul rekeninge betaal soos die verbruiker aan julle betaal. Wat is nou so moeilik daaraan! As ons as verbruiker nie betaal nie sny julle eenvoudig ons krag af,!

Christine ·

Die voortdurende bars van pype agv buurtkrag, plunder die fondse. Daar is nie geld vir alles nie.

DieKriek ·

Nou hoekom betaal Tshwane dan nie net stuk-stuk soos hulle kan nie (soos baie van ons)? Eskom sal steeds die betalings aanvaar en die skuld/ rente word minder.

M ·

Stuurman, dit is omdat Eskom JULLE nie VERTROU met terugbetalings nie ……. WAAROM skuld julle MILJARDE ?
Al die lesers wéét …. en ook Eskom !!!
My hart is stukkend , twv eerlike mense wat ( getrou soos Slawe) hulle rekeninge vereffen het by julle, maar diesulkes se betalings het in “Persoonlike amptenaar rekeninge “ingevloei”
Skandelike wangedrag !!!!!

JohanEtz ·

Betalingsplanne help niks as jy nie uitvoering daaraan gee nie.
Betaal solank volgens beplan, eerder dit as geen betaling?

Rocco ·

Geen simpatie met die Tshwane Metroraad nie. Betaal elke maand getrou hul rekeninge, en dan jaag hulle bollie aan. Gras op sypaadjies staan ‘n meter hoog, vullis lê in strate en op sypaadjies, geen metrobeamptes by verkeersligte wat nie werk agv van elektrisiteit onderbrekings nie. Stormwaterpype verstop, waterpype bars gedurig – waar die pype vervang word, word die gate wat gegrawe word oopgelos. Elektrisiteitspanele se deure word oopgelos. Slegs een stortingsterrein in Pretoria-oos, by Mamelodi. Slaggate, baie nuwe ontwikkelings, maar paaie word nie opgradeer nie. Die waarde van jou eiendom verminder agv die hulpelose Tshwane Munisipaliteit

Harley Davidson ·

Betaal die agterstallige geld soos escom die krag voorsien.

Oosie ·

Wat is afbetalings bedrag? Jy sal nee kry as jy R50 per maand aanbied.. en dan betaal jy dit net vir 3 maande en stop..

marius ·

Die verbruiker het betaal maar die geld het verdwyn . Dis die waarheid .

Waarnemer ·

En die rede eaarom Pretoria agter geraak het met betalings aan Eskom is legio….
1) Pretoria het tswane geword….Miljoene rande gemors om n naam te verander.
2)Kaders het die stadsbestuur oorgeneem….onbevoegd en miljoene rande in hul eie beursies gedruk.
3) Binnegevegte om spesifieke posisies kn die raad te bekom…..onnkfige uitgawes om vergaderings te hou hiervoor.
4)Fie huidige regering kon nie eers SA red nie,wat nog te se van Preyoria!!!

Vernon ·

Maar Soweto se skuld word jaar na jaar afgeskryf.Vier keer meer as Pretoria se skuld! Rassisme in die ergste graad!

Pierre ·

lekker gewees om in media te spog hoe julle besighede en huise se krag af sit en agresief op tree, nou skop die skoen julle en dan hou julle nie daar van nie,

Elma ·

Dis vir my altyd so ongelooflik dat n mens/plek wat likiditeits uitdagings het, dink hy hy is die enigste een. Die plek wat vir sy geld wag het blykbaar nie dieselfde uitdagings nie. Ek kon nog nooit verstaan dat mense/plekke nie hulle krediteure betaal nie. Jy weet dan waar om die diens/produk te kry, maar jy weet nie waar om dit te betaal nie. JOU LIKIDITEITSUITDAGING HET N DIREKTE INVLOED OP DIE VOLGENDE OU S’N.

Elméne ·

Nee wat, ek neem Eskom nie kwalik nie. Dit is nou soos die engelsman sê “too little too late”. Vader tog, die publiek hoor / lees net altyd van hierdie en daardie ooreenkoms met RWR / Eskom en NADA gebeur. Beloftes word nie nagekom nie (soos alreeds oor en oor bewys deur die huidige “regering” en sy “departemente”) en so hoop die skuld maar net op. As julle ook net vir EEN maal eerlik kan sê – WAT DE HEL doen julle met die belasting betaler se geld!!!???

Blackwidow ·

Help my verstaan, Tshwane skuld Eskom n huisie vol geld, maar die area waar ek bly in Pretoria, kry net ons Eskom verbruikers loadskedding (2 – 3 Keer n dag) en die Tshwane Verbruikers kry nie loadshedding nie, as hull ekry dan is dit miskien een keer in 2 weke, so ek wonder nou maar net

Lodewicus ·

Hulle moes nooit die geld wanbestee het nie, nou speel hulle victim om Eskom na die vark in die verhaal te laat lyk.

Schalk ·

Betaal net in die Eskom rekening in en delg die skuld geleidelik . Eskom sal nie die geld terugstuur nie. Julle redeneer nou soos iemand wat eers wil kyk dat julle eie boeke klop en dan besluit wie word betaal. Hou ook op om sulke fenominale salarisse en bonusse aan julle spookwerkers te betaal.

Gerhardus ·

Dit is eerstens as gevolg van die politieke binnegevegte en tweedens probeer die ANC-geleide Eskom om Pretoria metro “gyselaar” te hou en te “dreig”, omdat die ANC nie in bewind is nie en hulle sodoende wil probeer voorgee dat die koalisie partye nie in staat is om die Pretoria metro te bestuur nie. Alles nét politieke speletjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.