Tulbagh- moordverdagte was uit op parool

Reagan Gertse (Foto: Twitter)

Chaos het Dinsdag uitgebreek toe ʼn verdagte in die plaaslike landdroshof verskyn het in verband met die moord op ʼn 8-jarige seun van Tulbagh in die Wes-Kaap.

Maroela Media het vroeër berig Reagan Gertse se liggaam is Sondag tussen die bosse naby ʼn rivieroewer in die dorp gevind. Die seun is na bewering verkrag voordat hy om die lewe gebring is.

Gemeenskapslede het opgeruk toe Jakobus Petoors (58) vanoggend in die landdroshof verskyn het in verband met die moord op Gertse. Petoors is familie van die oorledene se pa. Die Nasionale Vervolgingsgesag het aan Maroela Media bevestig dat hy nou ook van verkragting aangekla word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Wes-Kaapse Vervolgingsgesag, het aan Maroela Media gesê die saak is vanoggend in absentia uitgestel nadat Reagan se pa en ander gemeenskapslede die verdagte in die beskuldigdebank wou takel. Volgens Ntabazalila het die staatsaanklaer aansoek gedoen om die saak uit te stel aangesien die situasie binne die hofsaal te plofbaar was om met die saak voort te gaan.

Ntabazalila sê polisielede moes Petoors twee keer terug na die aanhoudingselle neem en Reagan se ouers moes die hof verlaat voor die verrigtinge begin het omdat hulle nie hul woede in bedwang kon hou nie.

Ontstoke gemeenskapslede het ook buite die hof betoog en daarop aangedring dat die polisie Petoors aan hulle oorhandig. Gemeenskapslede het hulle ook teen die polisie vasgeloop toe hulle weier dat Petoors die hof verlaat en rubberkoeëls en skokgranate is gebruik om gemeenskapslede te verjaag.

Petoors het ten tyde van die moord by Reagan se pa se ouers, enkele huise van Reagan se ouerhuis in ʼn informele nedersetting, gewoon. Hy het daar gewoon sedert hy in November verlede jaar op parool vrygelaat is. Dit is nie in die stadium duidelik vir watter oortreding Petoors tronkstraf uitgedien het nie. Sy parool is nou opgeskort en hy sal eers op 23 Julie 2024 vrygelaat word vir die vorige oortreding aangesien hy sy paroolvoorwaardes verbreek het. Volgens die landdros, Pieter Klazen, sal enige aansoek om borgtog ook waarskynlik misluk aangesien Petoors nie sy paroolvoorwaardes nagekom het nie.

Volgens Ntabazalila sal Petoors op 2 Junie weer in die hof verskyn. Hy word van die moord, ontvoering en verkragting van Reagan aangekla.

“Dit was die derde hofverskyning in ses werksdae van ’n beskuldigde wat aangekla word van die moord op ’n kind in die Wes-Kaap,” sê Ntabazalila. Die beweerde moordenaar van die 8-jarige Tazné van Wyk, wie se liggaam twee weke gelede gevind is, was óók uit op parool.

Bronne: eNCA, eNuus, IOl, ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

AnnieStevens ·

ek dink dat dit in die eerste plek nie baie slim was om die kriminele op parool vry te laat nie.

SwartBees ·

Weereens n skuldige boos doener uit op parool. Jammer Reagan, die SA regstelsel het jou ook gevaal, nes Tazne, en julle (asook ander ) moes boet met jul lewens.

Rose ·

Nog een van Ramaphosa se parool gevalle! Hy sal moet pa staan daarvoor.

Nicky ·

Dit is ondenkbaar wat hierdie monsters aan onskuldige kinders doen…… HOEKOM is hy uit op parool???? Daar is so baie wat dit doen, ons weet en hoor nie van ‘n tiende nie. My hart bloei!!!!

Santjie ·

Arme, arme kind! Ook jy is nou beter af waar jy is Reagan. Jou aardse familie gaan jou verskriklik mis.

Yolandie ·

Nog ‘n kind dood oor iemand wat op parool vrygelaat is, net om weer te moor. Sowaar as vet as ek die ouers is en ou Cyril kom klomp om te simpatiseer maak ek nie eers vir hom die deur oop nie!!!
Daar word jaag gemaak op onskuldige vrouens en kinders, en wat maak die regering??? ABSOLUUT NIKS!!!!!

Niel ·

so… met verkiesing mense… stem tog vir ‘n party wat die doodstraf eis. Sover is daar net 2 politieke partye wat veg hiervoor… VF+ en ACDP sover my kennis strek. al die ander partye faal ons.

Belinda ·

Parool – moord, verkragting, dit is al wt ons hoor, nou troos jy dat hy sal sit tot 2024, wanneer gaan sy nuwe straf begin? Hopelik nie noual, ten minste lewenslank 25 en volle vonnis, hy behoort dit nie te oorleef nie.

Belinda ·

Ek wou byvoeg, wie kan die ouers blameer. Verder regstelsel wat van daardie groot ouers van hierdie seuntjie wat die kriminineel noodgedwonge moes huisves omdat hy familie is en nerens het om te gaan nie…….. hoe moet hulle voel???

Moedeloos ·

Weereens uit op parool. Ai CR hoop jy kry lekker maar moenie worry nie eendag sal jy moet rekenskap gee. Die wiel draai stadig maar seker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.