Twee in hof ná wrede NW-plaasaanval

Blackie van den Berg kort ná die aanval. Foto: Verskaf

Twee mans, onderskeidelik 21 en 24 jaar oud, verskyn na verwagting vandag (Maandag) in die Delareyville-landdroshof in verband met die wrede aanranding en verkragting van Blackie van den Berg (61) op haar plaas tussen Sannieshof en Ottosdal in Noordwes.

Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, het Vrydagaand aan Maroela Media bevestig twee verdagtes is in verband met die aanval op Van den Berg, Vrydag in vroeë oggendure, in hegtenis geneem.

Bianca van den Berg, Blackie se dogter, het Saterdag aan Maroela Media gesê haar ma het baie erge pyn ná die aanval en sterk nog in ʼn hospitaal in Klerksdorp aan. “Haar neus is gebreek, haar oë is toegeswel en haar lippe is geswel. Een van die aanvallers het haar só erg gewurg sy kan omtrent nie eet nie. Hy het haar vreeslik geslaan,” het Bianca gesê.

Sy het gesê dat haar ma ook deur een van die aanvallers verkrag is. Van den Berg het toestemming gegee dat hierdie inligting bekendgemaak mag word.

Maroela Media het vroeër berig Van den Berg was alleen tuis toe die aanval omstreeks 00:45 gebeur het. Volgens Bianca was sy in die kombuis toe sy ʼn geluid op die dak gehoor het byna soos ʼn kat wat op die dak loop. Sy het daarna gesien dat haar hond buite die huis onder die lapa toegemaak is nadat sy hom vroeër laat uitkom het.

“Sy het gehoor hoe hulle die veiligheidshek by die voordeur uit die kosyn breek en besef hulle is besig om die huis binne te kom. Sy het na die kamer gehardloop en die veiligheidshek in die gang agter haar gesluit. In die kamer het sy haar rewolwer gekry. Teen daardie tyd was een van die aanvallers klaar besig om die traliedeur in die gang oop te buig terwyl die ander aanvaller buite die huis gestaan het,” het Bianca gesê.

Van den Berg het ʼn paar waarskuwingskote in die lug geskiet, maar toe die aanvaller geen gehoor hieraan gee nie, het sy die rewolwer op hom gemik en geskiet. “Sy was so verbouereerd, sy het mis geskiet en die rewolwer leeggeskiet. Daarna het sy teruggehardloop kamer toe en die houtdeur van die kamer gesluit,” het Bianca gesê.

Van den Berg het in die kamer haar buurvrou gebel om hulp te kry toe die aanvaller begin om die houtdeur met ʼn spitvurk oop te breek. “Sy het vir hom gesê sy gaan hom skiet, toe sê hy vir haar in Afrikaans: ‘Skiet maar, ons kom vir jou.’ Al wat sy kon doen, was om angsbevange daar te sit en wag met die wete iemand is op pad om haar dood te maak,” het ʼn emosionele Bianca gesê.

Nadat die aanvaller deur ʼn gat in die deur die kamer binnegekom het, het hy Van den Berg met die spitvurk aangerand en haar herhaaldelik geslaan. Hy het haar klere van haar lyf af geskeur en haar ook verkrag. Volgens Bianca het haar ma verbete terugbaklei en die aanvaller geslaan, geskop en gekrap.

In ʼn stadium het die aanvaller die rewolwer gegryp en dit op Van den Berg gerig en die sneller getrek, maar daar was nie meer patrone in die vuurwapen nie. “Toe hy besef die rewolwer is leeg, het hy haar gewurg. Hy wou haar doodmaak,” het Bianca gesê. “Net toe het die bure daar aangekom en sy makker buite die huis het gefluit om hom te waarsku. Hy het my ma aan haar hare in die gang af gesleep en toe op die vlug geslaan.”

Die aanvallers het met kontant, ʼn selfoon en Van den Berg se vuurwapen gevlug.

Bianca het gesê haar ma woon alleen op die plaas sedert die dood van haar pa, agt jaar gelede. Sy verhuur die grond en boer ook self met skape.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bert

Besluite het gevolge. Keuses het gevolge. Soos vir hierdie arme vrou. 2 Februarie 1990 was so ‘n besluit wat gevolge het soos hierdie.

Lienkie

Wat ‘n verskriklike ervaring, ek wens vir Blackie en haar familie baie sterkte toe, Blackie jy was ‘n en is ‘n heldin, jy het baklei tot die einde en ek dink jy is ‘n baie dapper vrou, ons bid jou sterkte toe in die toekoms dapper vrou.

Referendum

Referendum was 17 Maart 1992. Volgens statistieke was die totale bevolking 37 miljoen waarvan 28 miljoen swart en wit 4,3 miljoen. Gekleurd was 3,3 m en Indiër was 1 m. Ander groepe was die res. So Bert, jy reken ons sou ‘n kans gestaan het selfs met ons uitmuntende weermag van daardie dae? Nou moet jy ook in gedagte neem dat daardie 4,3 m wittes ook SAAM moes staan. Toegegee dat van Indiër en gekleurd ook aan ‘ONS’ kant sou wees desondanks apartheid. My ouers was by ‘n vergadering (1948) op Bethal toe dr. Malan daar gepraat het en gesê… Lees meer »

Andrea

Liewe Mev Swart, ek is so bitter jammer dat jy hierdie afskuwelike trauma moes beleef. Ek is egter baie bly dat jy so dapper teruggeveg het oorleef het. Mag die Here jou fisiese en emosionele wonde wonderbaarlik laat genees. Jy is in my gebede en gedagtes. Mense, is daar dan absoluut niks wat ons as Afrikaners kan uitdink om hierdie moordenaars en verwoesters van lewens te stuit nie? Ons is ‘n slim klomp mense met briljante mense van Solidariteit en Afriform voor in die ry. Laat ons koppe bymekaarsit, asb! Ek stel ‘n privaatsekuriteitsmaatskappy, georganiseer en bedryf deur Afriform, voor.… Lees meer »

Eliza

En SA’ners bekommer hulle oor die aanval in London – kyk eers na jou eie mense in jou land.