Tydelike permitte goeie nuus vir vuurwapeneienaars

Argieffoto (Foto: Hansie Linde)

Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se besluit verwelkom om ʼn tydelike permitstelsel van stapel te stuur.

Die nuwe stelsel sal vuurwapeneienaars wie se lisensieaansoeke goedgekeur is, maar nog wag op lisensiekaarte, in staat stel om ʼn vuurwapen onder die beskerming van die wet te gebruik.

Luidens ʼn amptelike skrywe deur die SAPD vroeër vandeesweek is alle provinsiale kommissarisse opdrag gegee om stasiebevelvoerders regoor die land in kennis te stel oor die besluit om tydelike permitte aan vuurwapeneienaars, wat nog wag op gedrukte lisensiekaarte, uit te reik.

Die tydelike permitte sal geldig wees totdat die betrokke lisensiekaarte beskikbaar gestel is.

“Hierdie aankondiging bring verligting aan duisende vuurwapeneienaars wat vuurwapens gekoop het, maar dit nie kan gaan afhaal nie omdat hulle nog nie ʼn geldige lisensiekaart het nie,” sê Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters.

Sommige vuurwapeneienaars wag al langer as ses maande vir hul lisensiekaarte.

Luidens die SAPD se skrywe kom die besluit om tydelike permitte uit te reik ná “verskeie litigasie-aangeleenthede teen die polisie, as gevolg van vertragings in die verwerking van vuurwapenlisensieaansoeke, wat ʼn direkte impak op die kaartdrukproses gehad het.”

Fidelity, een van die grootste veiligheidsmaatskappye in Suid-Afrika, het vroeër die SAPD hof toe gesleep nadat hy geweier is om sowat 700 van die maatskappy se vuurwapens, wat weens ʼn administratiewe fout nie betyds hernu kon word nie, te hernu.

Volgens die SAPD is dié hofstryd met Fidelity deels die rede waarom daar eindelik besluit is om ʼn tydelike permitstelsel van stapel te stuur.

Vuurwapeneienaars wie se aansoeke goedgekeur is, maar steeds nie hul lisensiekaarte ontvang het nie, sal nou ʼn A4-permit van hul naaste polisiestasie ontvang wat lees: “Magtiging om ʼn vuurwapen vir goedgekeurde lisensie te besit”.

Camphor sê hy en SA Jagter se 44 000 lede is verheug hieroor, aangesien die meeste van die vereniging se lede vuurwapens vir ontspanningsdoeleindes gebruik soos in skietkompetisies en om mee te jag.

“Ons lede is verantwoordelike vuurwapeneienaars wat gereeld oefen om hul skietvaardighede in stand te hou en te verbeter. Die onnodige vertragings met die uitreiking van lisensiekaarte was baie frustrerend vir ons lede,” sê hy.

“Ons is versigtig optimisties dat die aangewese vuurwapenbeamptes by polisiestasies vinnig die versoeke vir tydelike permitte sal kan hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Vanessa ·

Ek wag al langer as ‘n jaar vir my permit, maar nou ja deesdae is dit ‘n gesukkel om enige iets te kry in Suid-Afrika. Teen die tyd wat jy jou dokumente kry is dit alweer tyd om dit te hernu.

Manie ·

Gaan self direk na die polisiestasie waar jy jou aansoek ingedien het met al die nodige dokumentasie en vra dan vir die betrokke vuurwapen afdeling om op die stelsel te kyk of jou lisensie aansoek al goedgekeur is. Moenie eers probeer bel nie. Hulle gaan jou bes moontlik nooit verwittig as jy nie self navrae rig nie. Indien wel, kan jy nou ‘n tydelike lisensie nou bekom.

Gerhard ·

Ek is al 11 Augustus in kennis gestel dat my lisensie goedgekeur is, nodeloos om te se, weet nie hoe lank ek nog vir my amptelike lisensie gaan wag nie. Ek sal maar die SAPD kantoor n go gee en kyk of ek tydelike permit kan kry en dan my wapen ook sommer by hulle (SAPD) kry wat al hoe lank daar is vir veilige bewaring. Dan………..hoop ek die wapen is nog daar. Ek sidder om te dink oor wat as dit nie meer daar is nie.

Kokkie ·

In my geval waar ek nou al langer as twee en ‘n half jaar vir my lisensie wag, het ek kennis ontvang dat my lisensie goedgekeur is en dat die plaaslike kantoor my in kennis sal stel wanneer ek die lisensie kan gaan afhaal. Beteken hierdie nuwe permit nou dat hulle dan vir my ook my vuurwapen sal teruggee?

Gerhard ·

Wil ek ook weet. Wel, ek sal gou more SAPD toe gaan en gaan hoor

Pietertjie ·

Ek hoop nie dié proses vertraag die uitreiking van die kaarte nóg verder nie.

Owlie ·

Whoopee hoe lank gaan dit vat om een enkele tydelike permit uit te Reiko never-ending al die uitstaande permitte en die groot vraag hiermee saam is wat gebeur met al die vuurwapens wat onder dwang ingehandig moes word, wanneer kry hulle dit en hul tydelike of permanente permitte/lisensies

Koos 100 ·

Dis nou te sê as die Polisiestasie die hulpbronne het om die lisensie te druk. Ek weet van ‘n stasie wat al langer as ‘n jaar nie toners het om te druk nie, in dit in ‘n baie groot stad.
Hoekom word dit nie elektronies of met ‘n app gedoen nie????

Johan ·

Mooi so nou moet ek vir n uur en n half in die tou staan vir n papier net om weer na n jaar te gaan vir die kart…HULLE WET HET MISLUK, SKRAP DIE NUTTELOSE DING!

Nico ·

Waarom word die wettige vuurwapen lisensie houers aan geval, daar is hoeveel eienaara wat nie lisensies het nie, hulle word gelos.

Rooibokkie ·

Dit is ‘n uitstekende resultaat. Ek voel tog erkenning moet gegee word aan GOSA (Gunowners of South Africa) wat op 7 September in die hof was om te vra dat die hof verklaar wat ‘n lisensie eintlik is – die goedkeuring op die polisie se stelsel, ‘n papieruitdruk om te bevestig dat dit goedgekeur is of slegs die fisiese kaart? Die hof het die polisie verplig om in ‘n mediasieproses met GOSA in te gaan, en skielik word hierdie direktief gegee! DIs slegs volgehoue druk van verskeie belangegroepe wat so ‘n uitkoms moontlik maak. Welgedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.