Video: Dié nuusgebeure in 2023 veral onthou

Eskom en beurtkrag, koalisies, Thabo Bester, die Titan-duikboot, oorlog, die Springbokke, Derek Watts en Barbie.

Dit is van die enkele nuusgebeure wat Suid-Afrikaners en die wêreld vanjaar laat regop sit het.

2023 was die ergste jaar van beurtkrag nóg ondanks die aanstelling van ʼn minister van elektrisiteit. Eskom is reeds vroeg in die jaar in ʼn krisis gedompel met die bewerings deur sy voormalige hoof André de Ruyter en sy gevolglike bedanking. Dan Marokane sal teen einde Maart die leisels by Eskom oorneem.

Op die politieke front was daar die regering se etlike diplomatieke misstappe, nóg bewerings van korrupsie teen politici en minder vertroue in die regering. Die jaar sal egter onthou word vir die samewerking deur opposisiepartye en die pogings om in volgende jaar se verkiesing ʼn verenigde front teen die ANC en EFF te vorm.

Thabo Bester se ontsnapping uit die tronk en die luukse lewe wat hy gelei het, het Suid-Afrikaners aan ʼn surrealistiese Hollywood-draaiboek laat dink terwyl die Titan-duikboottragedie die wêreld laat regop sit het.

Barbie was die suksesvolste fliek van die jaar en danksy die Springbokke se Wêreldbeker-sege is Vrydag 15 Desember amptelik tot ʼn openbare vakansiedag verklaar.

2023 was ook ʼn jaar van oorlog met die Israel-Hamas-konflik wat al byna drie maande lank duur met geen einde in sig nie. Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne sal teen Februarie al twee jaar aan die gang wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.