Video: Steve sê oor liedjie vir boesemvriend Theuns

‘n Fotosamestelling wat Steve Hofmeyr van homself saam met sy boesemvriend, Theuns Jordaan, op Facebook gedeel het. (Foto: Facebook/Steve Hofmeyr)

“Dit was ‘n swaar afskeid vir almal van ons.”

Só sê Steve Hofmeyr ‘n week nadat die geliefde Afrikaanse sanger Theuns Jordaan se musiekvriende, kollegas en familie afskeid van hom geneem het tydens ‘n hartroerende gedenkdiens by die NG Moreleta-gemeente in Pretoria.

Hofmeyr, boesemvriend van Jordaan en een van die kisdraers tydens die diens, het ‘n liedjie getiteld “Sing dan in die hemele” vir Jordaan geskryf.

Dié liedjie is op die roudiens gespeel en is daarna op YouTube vrygestel met ʼn liriekvideo. Dié video is reeds meer as 610 000 keer gekyk en is tans in die no. 1-posisie op YouTube se ‘trending’-lys.

Wat die liedjie nog meer uniek maak, is dat dit nie as ‘n enkelsnit uitgereik is nie en dat mense absoluut gratis na die liedjie kan luister, sonder dat Hofmeyr enigsins geldelik daarby baat.

Dit is ook tans op geen ander platform as YouTube beskikbaar nie.

Volgens Hofmeyr is hy “oorbluf” oor die terugvoer wat hy oor die liedjie kry, wat hy geskryf het “in die hoop om afsluiting en troos te vind”.

“Die feit dat 600 000 mense reeds na die video op YouTube gekyk het bewys dat ‘Sing dan in die hemele’ daarin geslaag het.”

Hy sê hy het geklou aan die idee dat Jordaan weer sou herstel om weer te kon sing, hoewel ʼn mens met ʼn siekte soos kanker die ergste moet verwag. Jordaan het op 17 November sy stryd teen leukemie verloor.

“Ek het hierdie week in Stellenbosch opgetree op presies dieselfde plek waar ek en hy laas saam gesing het. Hy was in daardie stadium in die gehoor en toe roep ek hom op die verhoog. Ek het die video van dié gebeurtenis. Toe die einde kom, was ons verpletter. Hy was baie lief vir Janine [Steve se vrou].

“In die lied speel ek met temas uit sy wysies en lirieke. Ek wou ook die lied in sy herkenbare style en genres doen, maar my regisseurs het weggeskram daarvan. ʼn Moeiliker oorweging was die stempos waarop jy sy moeë stem kon hoor. Ons het besluit om net die einde daarvan te gebruik.”

Volgens Hofmeyr sou hy dit dalk in die toekoms oorweeg om die liedjie tog as ʼn enkelsnit uit te reik wat luisteraars deur digitale platforms kan stroom.

“Hoewel ek dankbaar is dat die lied in ʼn positiewe gesindheid geluister word, sou ek dit nie graag weer wou sing, of ooit geld daarvoor kon aanvaar nie. Die tantieme as komponis sal ek beslis skenk.”

Luister na die liedjie hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Sjoe, hierdie sal ALTYD spesiaal bly Steve. Kan hoor jy was regtig lief vir Theuns, soos ons almal. Ai tog…

Wielspore ·

Uitstekende eerbetoon met woorde wat aangehaal is uit werklike omstandighede en gebeurtenisse. Theuns was ‘n privaat mens wat sy roem dan meer gesog gemaak het, om iets van Theuns te kan besit, al is dit net kennis van hom of die woorde van sy liedere, bly dit besonder, uniek en oorspronklik.
Dankie aan Steve wat uit die eerlikheid van sy hart ‘n lied aan Theuns opgedra het, ek dink Theuns sit en glimlag in die hemel oor die lied.

Hangzhou ·

En Zelda het die vermetelheid om Steve aan te vat oor die liedjie – volgens haar buit Steve die afsterwe van Theuns uit, en hier doen Steve dit “free, gratis and for nothing” (sic)

Christine ·

Zelda doen weinig as om kwaad te praat. Steve het pas begin met ‘n inisiatief vir arm kinders in plakkerskampe. Zelda moet ophou om te skinder en eerder begin om ander te help.

Winnie ·

Die mense kan maar net nie vir Steve uitlos nie. Wie is die Zelda in elkgeval??

Esme ·

Steve, jy het jouself oortref. Baie dankie vir jou pragtige Huldeblyk aan Theuns. Ek waardeer jou so, so baie.

annie ·

Wat sê die spreekwoord: Die een se woord is ‘n ander se noot. Miskien moet ons Biden as voorbeeld neem. Hy wil glo nog ‘n tweede keer staan as hy nog nie geval het nie.

Marietjie ·

Pragtige lied vir n legende. Dankie Steve jy is die beste.

Mariana ·

Dit is pragtig en sal altyd voortleef nes Theuns se musiek. Mag hy nou in Vrede Rus. Dankie Steve.

Tersia ·

Mooi lied, maar onvanpas. Dit gaan weereens net oor Steve. Theuns sou dit nooit goed keer. En niemand is in hemel, eers die dag wanneer God met Wederkoms aarde toe kom en mense oordeel. Dan staan die op uit hul grafte wat gered is en die wat op aarde God se kinders is , en saam gaan hul na God en die nuwe aarde

Visentjips ·

Hi Tersia, lees Lukas 16 en bespreek met jou pastoor/ predikant.

Charles ·

Nou beskuldig mense weer vir Steve omdat hy ʼn stukkie van Theuns se stemboodskap aan hom in die liedjie ingevoeg het!!! Wat gaan aan met die mensdom? Sal altyd fout vind met alles!! Gun mekaar niks!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.