Vroeë Kersfees wag dalk by brandstofpomp

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jason Mitrione/Unsplash)

Kersfees kom dalk vroeër vir Suid-Afrikaners en die prys van brandstof kan in November na verwagting ʼn welkome daling ondervind.

Gegrond op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds (SEF) verwag die Automobiel-Assosiasie (AA) dat die prys van petrol met sowat R2 per liter kan daal, en die prys van diesel met R1 per liter. Alle aanduidings is dat paraffien ook 98c per liter goedkoper gaan wees.

“Ná drie maande van aansienlike stygings sal die prys van petrol en diesel na verwagting weer onder die R25 per liter-kerf wees,” sê die AA.

In Julie het 95 oktaan-petrol motoriste R22,46 per liter vir gekos. Sou die verwagte daling realiseer, sal brandstof in November in die binneland R23,68 kos vir dieselfde grade petrol.

“Dit is goeie nuus vir motoriste, verbruikers en die ekonomie, veral aan die einde van die jaar.”

Die AA se data wys daarop dat beduidende dalings in die prys van internasionale produkpryse in Oktober die grootste bydraer tot die verwagte dalings is.

“Hoewel die rand verswak het, is die uitwerking daarvan relatief gering in die konteks van die groter prentjie.”

Die AA raai motoriste nogtans aan om hul voertuie in ʼn goeie meganiese toestand te hou en hul bande volgens die vervaardiger se spesifikasies te pomp om “optimale brandstofverbruik te verseker ondanks die verwagte daling in brandstofpryse”.

“Hoewel ons verwag dat brandstof in November goedkoper sal wees, bly ons bekommerd oor die hoë prys van goedere wat ʼn impak op alle verbruikers het,” sê die AA.

“ʼn Volhoubare oplossing om stygende brandstofkoste te versag is steeds nodig en totdat daardie oplossing gevind word, sal burgers aan die genade van brandstofprysstygings oorgelewer wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Harley Davidson ·

Baie goeie nuus,hoop net die kos verkopers bring die kospryse ook af.

Samuel ·

Die effek van laer brandstofpryse sal eers baie later op verbruikersgoedere gesien word, maar dan is brandstofpryse ook weer die hoogte in.

Papsak ·

Wel ek hoop alle hoe pryse kom nou ook bietjie af nie net petrol nie sien is glo ek glo niks meer in die land nie regtig

Oosieoos ·

November stil maand dan gaan dit weer soos gewoonlik desember drie dubbel op want daar is geld te maak

Skyspy007 ·

Ons kan hiermee sien dat ‘n verkiesing oppad is…gatkruip vir stemme…

Casper ·

Ek sien nie dat daar veerliggting is in gas pryse nie.Gas het net so vrek duur geword en baie huishoudings gebruik gas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.