Vrou op plaas naby Schweizer-Reneke aangeval

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

ʼn 51-jarige vrou is Maandag in haar huis op ʼn plaas naby Schweizer-Reneke in Noordwes aangeval.

Die voorval het omstreeks 06:45 plaasgevind, kort nadat die vrou se man  gery het om werkers by ʼn nabygeleë informele nedersetting te gaan haal.

Volgens kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, het die egpaar se honde in die huis begin blaf.

Die slagoffer, Huibrey Kotze, het vermoedelik gedink dat die honde uit wou gaan en was op pad om die deur vir hulle oop te maak.

Dis toe dat twee aanvallers die deur deur na binne oopgedwing en haar vermoedelik met ʼn ystervoorwerp oor die kop geslaan het. Hulle is vandaar na die hoofslaapkamer.

“Die verdagtes het op die sleutels van die kluis aangedring en dit oopgesluit. Hulle het drie vuurwapens (twee rewolwers en ʼn 9 mm pistool), ʼn onbekende bedrag geld en ses selfone uit die kluis gesteel,” het Tselanyane gesê.

“Die verdagtes het voortgegaan om die huis te plunder. Die slagoffer kon egter die paniekknoppie druk en na buite hardloop. Sy het die verdagtes in die huis toegesluit en na die bure gevlug om hulp te ontbied en die polisie te bel.”

Tselanyane sê die verdagtes is vermoedelik twee Malawiese burgers wat voorheen op die plaas gewerk het. Een verdagte is met behulp van boere in die omgewing in hegtenis geneem, wat ʼn hommeltuig en ʼn helikopter in hul soektog na die verdagtes ingespan het.

Die tweede verdagte is steeds soek.

“Alle gesteelde goedere is teruggevind. Die verdagte wat tans in aanhouding is, sal binnekort in die landdroshof op Schweizer-Reneke verskyn. Hy word van huisroof aangekla. Die ondersoek duur voort.”

Kotze se dapperheid geloof

Die DA in Noordwes het die aanval op Kotze veroordeel en haar vir haar “dapperheid” geloof om die verdagtes toe te sluit en te vlug.

“Boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe behoort nie gewelddadige beproewings soos hierdie te verduur nie,” het Carin Visser, DA-LP, gesê.

“Daar is geen plek vir hierdie soort brutaliteit in ons gemeenskappe nie. Dat landelike gemeenskappe in vrees bly leef vir die voortdurende bedreiging van ʼn gewelddadige aanslag, is onaanvaarbaar.”

Visser sê elke plaasaanval is een te veel, en dat dit boonop ʼn aanklag is op die polisie se onvermoë om die veiligheid van landelike inwoners te verseker.

“Hoewel daar toegewyde polisiebeamptes is wat hul lewens op die spel plaas om die gemeenskap te dien en te beskerm, word hulle in die steek gelaat deur die gebrek aan hulpbronne tot hul beskikking om misdaad doeltreffend te voorkom en te bekamp.

“Dié Schweizer-Reneke-plaasaanval volg op ʼn bloedige naweek van plaasmoorde in Limpopo en die Wes-Kaap. Elke plaasmoord ruk gesinne en gemeenskappe uitmekaar en laat blywende trauma agter.”

Visser sê die DA het al herhaaldelik gevra vir die herinstelling van voldoende opgeleide en gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede om die geweldsmisdaad waaraan landelike gemeenskappe onderwerp word te voorkom.

“Ongelukkig het die minister van polisie, Bheki Cele, en die hele ANC- nasionale regering niks gedoen om die gewelddadige aanslag wat boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe elke dag in die gesig staar, te voorkom en te beveg nie.”

“Plaasaanvalle moet tot prioriteitsmisdaad verklaar word. Voldoende hulpbronne moet beskikbaar gemaak word en opgeleide gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede moet heringestel word. Hierdie eenhede moet toegerus word met tegnologie, voertuie en mannekrag om landelike misdade doeltreffend te voorkom en daarop te reageer, om lewens en te red en eiendom te beskerm.”

‘Boere onder beleg’

Die Vryheidsfront Plus het Donderdag gesê boere en die landbougemeenskap in die land is “onder beleg en dat niemand hulle kan kwalik neem indien hulle die reg in eie hande neem om hulself  te beskerm nie”.

“Suid-Afrika het pas ʼn bloedige week beleef wat plaasmoorde betref. Agt boere is in een week vermoor. Dit is dieselfde hoeveelheid as wat in die eerste drie maande van hierdie jaar vermoor is luidens die polisie se laaste misdaadstatistieke,” het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

“Die regering sê te maklik oor plaasmoorde dit is net gewone misdadigheid. Daar word te lank reeds agter hierdie verskoning geskuil. Dit is nie gewone misdadigheid wanneer slagoffers van plaasmoorde aan die brand gesteek word terwyl hulle nog leef nie.

“Dit is ook nie gewone misdadigheid wanneer ses aanvallers met aanvalsgewere soos AK47’s boere aanval en vermoor nie.”

Groenewald sê statistieke van die afgelope vier jaar wys dat daar een plaasmoord vir elke agt plaasaanvalle is.

“Dit gee perspektief aan die enorme omvang van plaasaanvalle.

“Dit maak dit ook duidelik dat die moordsyfer veel hoër sou wees indien die landbougemeenskap nie hul eie veiligheidsmaatreëls in plek gestel het nie.

“Die VF Plus doen ʼn beroep op die minister van polisie om te sorg dat plaasaanvalle baie deeglik ondersoek word aangesien dit duidelik deel vorm van georganiseerde misdaad.”

Maroela Media het vroeër berig dat Anneke Claassen (76), bestuurder van die Eggo-grotte op Ohrigstad, en haar goeie vriend Hennie Claassen (78) Saterdag wreed op die plaas Klipfonteinhoek vermoor is. Die slagoffers is in hul onderskeie huise op die plaas oorval, gemartel en aan die brand gesteek.

ʼn Bekende egpaar van die Weskus, Pierre en Belinda de Kock, se liggame is ook die afgelope naweek op hul plaas in die omgewing van Piketberg aangetref.

Daar is nie in een van die gevalle enigiets uit die plaashuise gesteel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

anko ·

Solank oom Hoed daar is gaan hy nie die plaasmoorde erken as georganiseerde of ernstige misdaad nie. Ons sal en moet vir ons eie veiligheid sorg, want soos dit nou gaan, gaan die hoed-organisasie hul afvee aan plaasmoorde

Gaitsigubib ·

Dis kompleet of die poorte van die hel oop gegaan het die laaste 2 weke.

Groen Ghoen ·

Dit is die geskiedenis van Afrika. Lees gerus oor dit wat in Oos-Afrika gebeur het tydens die Britse koloniale tydperk. Plaasmoorde is ‘n simptoom van ‘n siek samelewing waar ‘n mens se lewe waardeloos is. Dit was die ANC se strategie om die mag in S.A. oor te neem deur intimidasie en die grootskaalse pleeg van geweld. Nou word die vrugte daarvan gedra.

Pieter9 ·

Wil nie kritiek lewer nie – bloot waarnemend; hoekom hou Boere aan om buitelandse burgers in diens te neem?
Boere sal hul personeel aanstelling na ‘n ander vlak moet neem. Gaan meer kos, hulle sal dalk minder kan werk gee…maar stel’ n beter ‘kwaliteit’ persoon aan. Dit sal ‘n nuwe benadering, wat praktyk implikasie sal he, verg van ons Boere – waarsonder ons nie kan klaarkom nie.

Anna-marie ·

Hoe moet ‘n boer weet of een’n “beter kwaliteit persoon” is?

Pieter9 ·

Daar bestaan beste praktyk metodiek wat gevolg moet word wat die keurings-proses baie meer effektief maak. Bv. getuigskrifte, vorige wetkgewer inligting, krediet buro ens.

ES ·

Pieter, arbeid in Suid Afrika is baie duur. Buitelanders is gewillig om vir minder geld te werk… en dis waar die probleem is.

Hoekom ·

Of die werker nou vanaf die buiteland is of inheems, die probleem bly die probleem…

Marcello ·

Ek verstaan nie, aangekla van huisroof, wat van poging tot moord. ??????

Fontein Tannie ·

Toe ons aangeval was, het SAPS nie eens n doket oopgemaak nie want “niemand is beseer of gedood in die proses nie”…..

Frank ·

Ek sou dink “met ‘n ystervoorwerp oor die kop slaan” is bitter naby aan poging tot moord?

Skappie ·

As daar nie meer boere is nie, is daar nie meer kos vir almal nie. ANC julle is ingesluit. So asseblief begin nou iets doen, om ons kosvoorraad te beskerm. Kom Hoed begin jou werk meer behoorlik doen.

Kokerboom ·

So dankbaar mev Kotze is wel!
Die konstante gekerm en kla van politieke partye grief my. DOEN iets!!Die kaders luister nie vir julle!
Boere moet meer veiligheidsbewus raak!!

Goldy ·

Enogste, maar enigste volhoubare oplossing is onafhanklikheid en boere is in die beste posisie om dit te laat werk want hulle besit op die stadium nog die grond. Al is dit net klein stukke streke, kan dit soos israel lieflike eerstewereldlande in n rekordtyd word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.