Vyfde geval van aappokke aangemeld – minister

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid. (Foto: Facebook)

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het Vrydag tydens ʼn mediakonferensie aangekondig ʼn vyfde geval van aappokke is Woensdag in Suid-Afrika aangemeld. Dit volg drie dae nadat die vierde geval op Sondag bevestig is.

Die mees onlangse geval is ʼn 28-jarige man van Johannesburg wat onlangs na Europa, onder meer Spanje, gereis het. Hierdie geval stem ooreen met die vorige geval waar ʼn 28-jarige man – van die Wes-Kaap – ook na Spanje gereis het. Spanje het tans meer as 5 000 positiewe gevalle en een sterfgeval wat vermoedelik aan aappokke toegeskryf kan word.

Die eerste geval van aappokke is op 22 Junie in Suid-Afrika aangemeld, gevolg deur die tweede op 28 Junie en die derde op 10 Julie.

Al vyf gevalle is mans tussen 28 en 50 jaar oud met ʼn reisgeskiedenis.

Volgens Phaahla is daar nog geen rede vir Suid-Afrikaners om hulle hieroor te bekommer nie, aangesien die eerste drie gevalle ligte simptome ervaar en vinnig herstel het. Die laaste twee gevalle toon ook tot dusver ligte simptome.

“Die meeste gevalle herstel vanself en kry slegs behandeling vir die simptome. Hoewel Suid-Afrikaners versigtig moet wees met wie hulle omgaan, is dit nog nie nodig vir ons om reisbeperkings in te stel nie,” het Phaahla gesê.

Phaahla sê die feit dat die virus ook slegs aansteeklik is deur middel van nabye kontak, dra daartoe by dat dit nie so vinnig versprei nie.

Hoewel daar al drie entstowwe wêreldwyd vir die virus beskikbaar gestel is, is daar nog geen entstof of antivirale middel teen die virus in Suid-Afrika geregistreer nie. Phaahla sê egter ʼn entstof is nog nie nodig nie omdat die situasie tans onder beheer is.

Phaahla het aappokke met gewone pokke (small pocks) vergelyk – waarvan die inenting wêreldwyd in 1982 afgeskaf is.

Wêreldwyd is altesaam 27 814 gevalle van aappokke in 89 lande aangemeld. Altesaam 11 sterftes is aangeteken.

Dit word beskou as die grootste uitbreking van aappokke in die geskiedenis. Dit is ook die heel eerste geval waarin die virus in Suid-Afrika aangemeld is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die uitbreking van aappokke op 23 Junie tot ʼn “openbare gesondheidsnoodgeval van internasionale kommer” verklaar.

Onlangse gevalle van die siekte wêreldwyd word steeds oorwegend onder mans wat in seksuele aktiwiteite met ander mans betrokke is, waargeneem.

Dit is tydens die konferensie aan die lig gebring dat die eerste geval waar ʼn hond aappokke by sy eienaars aangesteek het, verlede week in Parys, Frankryk, aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Ag asseblief!!!! 5!!!!!!! How dom dink hy is ons. Praat al klaar van reisbeperkings!!!! As dit nie so tragies was nie kon mens dink dis ‘n grap!!!! Pleks kyk hulle na die vervalle hospitale, mense wat nie nie meer kan loop en nog meer as 5 jaar moet wag om dalk geopereer te word!! Maar nee!! Hulle hou hulle op met twak,!!! Want hoekom? Hulle het nie breinselle van grond nie!! Maar hulle regeer die land!!!

Samuel ·

En die WGO skep weer histerie. Net wat Paahla nodig het. Reisbeperkings? Werklik!!

Manie ·

Al vyf gevalle is mans tussen 28 en 50 jaar oud met ʼn reisgeskiedenis. Say no more.

Nettie ·

“Reisbeperkings nie nodig nie.”
Volgende week: “Reisbeperkings sal oorweeg word….”
Twee weke later: “Reisbeperkings word bespreek.”
Oor ‘n maand…. “Ons moes noodwendig reisbeperkings instel.”

Dis soos Eskom. Hulle waarsku ons altyd dat beurtkrag “dalk” ingestel moet word. Amper elke keer gebeur dit dan wel. Mense, berei voor, Pandemie Nr 2 is op hande en hulle waarsku ons al klaar waarmee dit gaan begin. Reisbeperkings.

Pietertjie ·

Reisbeperkings? Dit sal die land se ekonomie verder die afgrond in laat tuimel, en padsterftes verminder. Net één botsing het dikwels meer as vyf slagoffers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.